DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (11)

B M Schoeman

(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )

Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.

Die sportbeleid

Deur die jare het die Broederbond die standpunt van geen vermenging van watter aard ook al op sportgebied gehandhaaf. Dit was ook die beleid van die NP-regering. In talle en talle geskrifte het die Uitvoerende Raad van die Broederbond hierdie standpunt van geen vermenging altyd gekoppel aan “die afsonderlike voortbestaan van ons Afrikanervolk.”

Reeds in ’n buitengewone omsendbrief van 1 Augustus 1952 verklaar die UR onder meer: “Ons organisasie wat op kulturele, maatskaplike, ekonomiese en opvoedkundige terreine optree en arbei, verwag van al sy lede, soos by hul­le instelling belowe, om hulle in die huidige tyds- en wêreldomstandighede van gelykskakeling en uitwissing van alle verskille soos nooit voorheen nie te beywer vir die afsonderli­ke voortbestaan van ons Afrikanervolk, nie as ’n doel op sigself nie, maar as doelbewuste draer van die Christelike leefwyse en beskawing in Afrika. Die vernietiging of selfvernietiging van ons volk as afsonderlike nasionale gemeenskap in Suidelike Afrika kan in hierdie sin net lei tot bevordering en uitbreiding van die anti-christelike Kommunisme in Afrika.”

In aansluiting hierby word dan in ’n volgende paragraaf verklaar: “In die jongste tyd het ook ons sportlewe in die gedrang gekom as gebied om integrasie tussen Blank en Nie-blank tot vernietiging van ons aparte Christelik-Westerse nasieskap te bevorder. Ook in die geval van hierdie aanslag, gesteun deur die uitbreiding van beroepsport in ons land waar dit primêr gaan om geld wat maklik oor enige beginsellyn rol, handel dit nie om blote slim ontduik- of omseilmaatreëls nie, maar om duidelike standpuntstelling en blywende afweer.”

In 1952 staan die Uitvoerende Raad dus op die stand­punt dat integrasie op sportgebied, selfs in die beperkte sin wat dit op daardie tydstip ter sprake was, deel is van die aanslag om die afsonderlike voortbestaan van die Afrika­nervolk te vernietig; dat dit meehelp tot die bevordering en uitbreiding van die Kommunisme; dat ontduik- of omseilmaat­reëls niks sal help nie; dat die antwoord lê in duidelike standpuntstelling en blywende afweer, en dat hierdie blywen­de afweer van elke lid van die AB verwag word, soos by sy instelling belowe.

Dat dit ook die standpunt was wat die Regering ingeneem het, blyk uit verskeie verklarings van politieke leiers in daardie tyd en daarna oor die sportkwessie. In Die Transvaler van 1 Oktober 1959 word byvoorbeeld soos volg verslag gedoen oor ’n toespraak van Vorster die vorige dag op ’n byeenkoms van die Nasionale Jeugbond aan die Universiteit van Pretoria: “Adv. Vorster het gesê dat steeds groter druk op Suid-Afrika uitgeoefen word om nie alleen toe te laat dat Nieblanke sportspanne hierdie land moet besoek nie, maar dat Suid-Afrika ook Nieblankes na internasionale byeenkomste moet stuur om die Unie daar te verteenwoordig. Hy het gewaarsku dat die druk met verloop van tyd groter sal word. Indien hierdie land hom stel op die standpunt van integrasie en die standpunt dat die beleid van aparte Bantoetuistes verkeerd is, sal daar uiteindelik onder die druk geswig word. Daar sal dan toegegee moet word aan die eise van absolute gelykheid ook op sportgebied.”

Vorster praat hier nie net as ’n lid van die Broederbond nie, maar ook as ’n lid van die Regering, want op daardie tydstip was hy reeds Adjunk-minister. Hy het dus inderwaarheid regeringsbeleid by die NJB-byeenkoms in Pre­toria gestel.

Dit was dan ook die standpunt soos herbevestig in ’n kabinetsverklaring oor sport in 1963 deur die destydse Minister, sen. Jan de Klerk, en weer in 1965 na Verwoerd se Loskopdam-toespraak waarin hy juis oor hierdie aangeleentheid gepraat het.

Die verklaring van 1965 lui onder meer: “Die Kabinet het vroeër en nou weer eenparig teen die ontvangs van gemengde spanne besluit ... Ook het ek onlangs weer met dr. Craven en ander oor die probleem onomwonde gepraat, hom ondubbelsinnig meegedeel dat Maori’s nie as lede van ’n toerspan aanvaarbaar sou wees nie.”

Dit is belangrik om daarop te let dat dit in hierdie kabinetsverklaring nog net om die ontvangs van gemengde spanne gaan en nie by benadering om veelrassige sportbeoefening plaaslik nie.

Aan die begin van Februarie 1967 word ’n debat in die Volksraad gevoer en pleit die Verenigde Party vir die ont­vangs van gemengde spanne. Dit was nadat die All Black-toer deur Suid-Afrika na dr. Verwoerd se Loskopdam-toespraak en die kabinetsverklaring daama in die slag gebly het. Dit is veelseggend dat in daardie debat van Februarie 1967 die NP eenparig was in sy afkeuring van die ontvangs van gemengde spanne. Spreker na spreker het aan die Opposisielede gevra waarheen die proses moet lei nadat die eerste toegewing ge­maak is en wat die uitwerking daarvan op sosiale gebied sou wees.

Slegs twee maande ná hierdie debat kom Vorster in die Volksraad met sy eerste sportverklaring waarvan die belangrikste kenmerk sy gebrek aan “duidelike standpuntstelling” is. Met hierdie metode van baie praat sonder om iets duidelik te sê, sou vir taamlik lank voortgegaan word. Hoe onduidelik die hele gedoente was, blyk uit Vorster se oordrewe poging om die duidelikheid daarvan te beklemtoon as hy op die Bondsraad van 1968 sê: “Nou laat ek duidelik vir u se, ek weet van niks, op hierdie moment weet ek van niks wat vorentoe kan gebeur wat daardie toer in die wiele behoort te ry nie. Ek wil dit nou baie duidelik stel, want ek het daarmee gehandel in die duidelikste taal en terme. Ek het baie duidelik gestel wat ons standpunt is ...”

Op 1 Oktober 1968 beveel die UR se sportkomitee aan dat “die beleid van afsonderlike ontwikkeling ook op sportgebied toegepas moet word en dat geen mededinging tussen Blank en Nieblank binnelands moet plaasvind nie.” Op die oog af lyk dit na ’n bevestiging van die ou AB-standpunt, maar net soos by Vorster is die misleidende dubbelsprakigheid reeds hier aanwesig. Dit lê opgesluit in die gebruik van die woord “binnelandse”, want later sou dit blyk dat in die spraakgebruik van die nuwe politiek die woord “binnelands” ’n heel besondere betekenis gekry het. Dit sou al meer betrekking hê op slegs mededinging op plaaslike, klub- en provinsiale vlak, terwyl byeenkomste waarin besoekende buitelandse spelers betrokke is, nie geraak sou word nie.

Selfs Treurnicht het, voordat hy oor baie beleidsake “beter standpunte” gekry het, in Hoofstad teen hierdie gebruik van die woord beswaar gemaak met die opmerking dat as bui­telandse spelers in Suid-Afrika speel, hulle dan binnelands speel en aan die binnelandse beleid onderworpe moet wees.

Die bres vir die magte wat ook op sportgebied veg vir die “vernietiging van ons aparte Christelik-Westerse nasieskap” (AB-omsendbrief, 1 Augustus 1952), was egter geslaan in sowel die Regering as die UR en vorentoe sou slegs al meer toegewings volg. Na die konfrontasie op die Transvaalse kongres van die NP aan die begin van September 1969 volg dan ook die aksie om diegene wat by die tradisionele NP- en AB-standpunt bly staan het, uit die Party te dryf. Dit sou van kwaad tot erger gaan en die verwarring binne die regeringsgeledere het al groter geword. As getroue stutorganisasie het die UR, onder leiding van Meyer, slegs agterna gedraf en telkens aan die AB-afdelings die versekering gegee dat die nuwe sportbeleid nie sou lei tot die aftakeling van die tradisionele apartheidsbeleid nie.

Nieteenstaande al Vorster se duidelik-onduidelike verklarings kon niemand naderhand met enige mate van sekerheid meer sê wat die sportbeleid nou werklik behels nie. Vorster was, volgens sy eie woorde, nie ’n man vir bloudrukke nie, maar vir die praktiese politiek. Maar die praktiese politiek kry daagliks met nuwe situasies en probleme te doen en sonder ’n bloudruk wat op beginselstandpunte berus, beland jy in ’n oneindige doolhof. Iemand moes die knoop vir Vorster deurhaak; iemand moes hom aan ’n bloudruk help wat aan sy pragmatisme ’n skyn van beginselgebondenheid en doelgerigtheid kon gee. Hiervoor was die UR van die AB dan die aangewese en gewillige stutorganisasie.

In April 1971 berig die UR in ’n omsendbrief en studiestuk oor sport dat “’n vrugbare tweedaagse samespreking tussen ’n groot aantal vriende uit verskillende sportbeheerliggame vanoor die hele land” gehou is. Dan rapporteer die UR verder: “’n Komitee uit hulle midde het ’n aantal fundamentele formuleringe vir oorweging aan die UR voorgelê.” Voorts word berig: “Hierdie beleidsformuleringe is deur die UR oorweeg en aan vriende in verantwoordelike kringe voorgelê, en dit word verwag dat die formuleringe in die volgende dae en weke neerslag sal vind in amptelike regeringsverklarings. “

Die UR nooi dan die verskillende afdelings om kommentaar daarop te lewer. Daardeur moes natuurlik die indruk geskep word dat in die binnekringe nie vooraf kant en klaar oor die nuwe beleid besluit is nie. Connie Mulder en Andries Treurnicht, albei UR-lede op daaidie tydstip, het nog probeer beduie dat die UR hier maar net besig was “om vertoë te rig.” Die UR se eie bewoording en wat daarna gebeur het, bevestig egter dat ’n mens nie hier met “vertoë” te doen het nie, maar met ’n klaargemaakte sportbeleid. Die keuse van die woorde “volgende dae en weke” bewys ook dat die UR met Vorster oor beleid ooreengekom het voordat dit aan AB-afdelings bekend gemaak is. Vorster was so dankbaar om nog ’n meesterplan vir sy praktiese politiek te kry, dat hy dit in die Parlement aangekondig het voordat die afdelings dit behoorlik onder oë gekry en kon bespreek het — laat staan nog kommentaar daarop lewer.

Sport – vervolg...