B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
Die nuwe grondwet
Op die jaarvergadering van die Broederbond op 1 Oktober 1971 het die AB die Nasionale Party se beleid met betrekking tot die Kleurlinge onderskryf. Dit is daarna in ’n omsendbrief gesirkuleer en onder die volgende hoofpunte saamgevat:
- Dat die Kleurlinge ’n nasie-in-wording is, mense in hulle eie reg en nie ’n aanhangsel van die Blankes nie;
- dat Kleurlinge en Blankes nie inmekaar gevleg moet word nie en nie nader aan mekaar ontwikkel nie, maar elkeen op sy eie baan, langs mekaar, staande op eie bene in sy eie reg;
- dat as beginselstandpunt aanvaar word dat Kleurlinge nie deur Kleurlinge verteenwoordig word in liggame waar verteenwoordiging bestaan het nie, naamlik in die Parlement en die Provinsiale Raad van Kaapland;
- dat Kleurlinge op plaaslike bestuursvlak in hulle eie gebied hulle eie stemreg sal kry en dat Blankes in die toekoms volgens die parlementêre kieserslys alleen stemreg sal beoefen in Blanke plaaslike owerhede;
- dat dit ’n beginselstandpunt van die Nasionale Party is dat regstreekse verteenwoordiging van Kleurlinge deur Kleurlinge in Blanke politieke instellings ’n vorm van politieke integrasie is;
- dat verteenwoordiging van Kleurlinge deur Kleurlinge in die Parlement nie nou of in die toekoms toegepas moet word nie;
- dat die Nasionale Party enige beleid wat, op welke basis ook al, tot integrasie tussen Blankes en Kleurlinge mag lei, verwerp;
Tien jaar nadat hierdie duidelike standpuntstelling deur die AB-leiding op die jaarvergadering gedoen is, het die veelrassige Presidentsraad bestaande uit Blankes, Kleurlinge, Indiërs en ’n Sjinees tot stand gekom as die eerste fase van die Regering se nuwe beleid om die Nieblankes in die Blankes se politieke bestel in te trek.
Die totstandkoming van die Presidentsraad is voorafgegaan deur ’n kommissie van ondersoek bestaande uit leidende AB- lede, onder wie Connie Mulder, mnr. A.L. Schlebusch, die huidige voorsitter van die Raad en vise-Staatspresident, P.W. Botha self en mnr. H.H. Smit, Minister van Pos- en Telekommunikasiewese.
In Augustus 1977 het Vorster die NP-koukus in Kaapstad ingelig oor die voorstelle van die Kommissie. Dit het kortliks die volgende behels:
- ’n Veelrassige Raad van Kabinette bestaande uit ’n gelyke getal Blankes en Kleurlinge en Indiërs;
- ’n Presidentsraad van Blankes, Kleurlinge en Indiërs;
- Drie parlemente vir die Blanke, Kleurling- en Indiër-bevolkingsgroepe;
(iv) ’n Kieskollege bestaande uit Blankes, Kleurlinge en Indiërs om ’n Staatspresident te verkies.
In die verslag is ook aanbeveel dat die Raad van Kabinette sake van “gemeenskaplike” belang sal hanteer, terwyl die drie parlementêre seggenskap oor sake van eie belang sal hê. Sake van “gemeenskaplike belang” sluit in Finansies, Justisie, Polisie, Ekonomiese Sake, Buitelandse Sake, Verdediging, Vervoer, Landbou, ensovoorts, terwyl sake van “eie belang” Onderwys, Behuising en Pensioene sou insluit. Die veelrassige Raad van Kabinette sou dus vir alle praktiese doeleindes die wetgewende en uitvoerende gesag in die land wees en in hierdie liggaam sou, ingevolge die 1977-voorstelle, die mag gelykop gedeel word tussen Blankes en Nieblankes.
Op grond van hierdie voorstelle is ’n tweede kommissie, die Schlebusch-kommissie, aangestel. Na meer as twee jaar se ondersoek het die Kommissie aanbeveel dat ’n Presidentsraad bestaande uit Blankes, Kleurlinge, Indiërs en Sjinese in die lewe geroep moet word. P.W. Botha het die lede van die Raad met die hand uitgesoek, maar voordat dit gedoen is, is die Blanke Senaat eers afgeskaf om, soos dit gestel is, koste te bespaar.
Swartes is nie in die Presidentsraad verteenwoordig nie, maar ’n Adviesraad naas die Presidentsraad is vir hulle aanbeveel. Na kwaai druk uit linkse oorde het die Regering die gedagte van die Swart Adviesraad laat vaar.
In die Presidentsraad is verskeie komitees in die lewe geroep — onder meer ’n Grondwetkomitee. Dit is betekenisvol dat as voorsitter van die Grondwetkomitee dr. Denis Worrall, ’n uitgesproke liberalis en ’n klompie jare gelede lid van die Progressiewe Party se jeugvleuel, aangestel is. Die vernaamste opdrag van die Grondwetkomitee is om ’n nuwe veelrassige grondwetlike bestel vir Blankes, Kleurlinge en Indiërs uit te werk.
Dr. Worrall se aanstelling as voorsitter van die Grondwetkomitee deur P.W. Botha is belangrik in die lig daarvan dat hy een van die belangrikste medewerkers aan die Sprocas-projek in 1975 was. Dit is ’n projek van die linkse SA Council of Churches waarvan biskop Desmond Tutu vandag die hoof-uitvoerende amptenaar is.
Sprocas is die verkorting vir “Study Project on Christianity in an Apartheid Society.” Saam met Worrall het onder meer die volgende linkses die verslag onderteken: Beyers Naude, Donald Woods (uitgeweke redakteur), W.B. de Villiers (Transvaalse Streeksekretaris van die Progressiewe Party), R.M. de Villiers (voormalige LV van die Progressiewe Party), Leo Marquard, Oscar Wollheim (LPR van die Progressiewe Party) en andere. Japie Basson, tans lid van die Grondwetkomitee en ’n gewese LV van die PFP, word aangedui as een van Sprocas se konsultante.
Die titel van die verslag is South Africa’s Political Alternatives. Uit verklarings en koerantberigte blyk dit duidelik dat baie van die aanbevelings in hierdie verslag in die Grondwetkomitee se konstitusionele voorstelle opgeneem gaan word.
Dit is in die vooruitsig gestel dat die Presidentsraad teen April 1982 sy grondwetlike voorstelle aan die Regering sou voorlê. Aanvanklik is verwag dat die komitee voorlopig net aanbevelings ten opsigte van ’n veelrassige plaaslike bestuurstelsel in Suid-Afrika sou maak, maar die komitee het later aangedui dat dit met voorstelle ten opsigte van al drie regeringsvlakke sou kom.
Op 18 Augustus 1981 het die Minister van Gemeenskapsontwikkeling, mnr. S.F. Kotze, tydens ’n ontmoeting met die Dagbestuur van die NP in Alberton ’n vertroulike mededeling oor die Regering se planne in verband met ’n nuwe bedeling op plaaslike bestuursvlak gemaak. Naude Botha, hoofsekretaris van die Broederbond, is ’n lid van die NP-dagbestuur van Alberton en was aanwesig. Volgens die notule van daardie byeenkoms, wat as ’n bylaag by die agenda van die Bestuurskomitee van die Albertonse Stadsraad aangeheg is, het Kotze gesê hy kan die afvaardiging vertroulik meedeel dat die Regering nie Kleurlinge en Indiërs in Blanke stadsrade gaan opneem, soos deur die Nieblankes geëis word nie. Die Regering gaan egter ’n stelsel van veelrassige, oorkoepelende munisipale Streekrade invoer wat wetgewende bevoegdhede sal hê en wat ook oor die toedeling van fondse aan stadsrade sal beslis.
Die Blanke stadsrade word dus afgedruk tot ’n ondergeskikte posisie en beheer deur oorkoepelende veelrassige streekrade. Hierdie veelrassige streekrade moet noodwendig onderhewig wees aan beheer deur ’n meerdere liggaam — in hierdie geval die Provinsiale Rade. Dit is ondenkbaar dat ’n veelrassige liggaam beheer deur ’n meerdere liggaam wat net uit Blankes bestaan, sal aanvaar. Daar kan dus aangeneem word dat as die veelrassige streekraadstelsel ingevoer word, die Kleurlinge en Indiërs sal eis dat die beheerliggaam ook veelrassig moet wees — so nie sal die beoogde stelsel verwerp word.
Wat die eerste vlak van regering betref, het P.W. Botha hom reeds in die openbaar daartoe verbind dat die stelsel van een gemeenskaplike kieserslys vir Blankes, Kleurlinge en Indiërs nie weer ingevoer sal word nie. Die gedagte wat uit regeringskringe gepropageer word, is dat een parlement vir Blankes en Nieblankes, met drie afsonderlike kamers geskep gaan word. Die lede van hierdie drie kamers sal op afsonderlike kieserslyste gekies word. Die Presidentsraad sal dan omskep word in ’n verkose liggaam en sal ’n Huis van Hersiening wees. Regeringskoerante, wat klaarblyklik gevoer word met inligting uit die binnekringe, skryf dat omvorming van die Presidentsraad tot ’n verkose liggaam nog in 1982 gaan volg en dat dit gepaard sal gaan met wetgewing om die Staatspresidentskap met uitvoerende magte te beklee.
Uit regeringspolitici se uitsprake en uit artikels in regeringskoerante blyk dit ook duidelik dat die Presidentsraad vorentoe ’n steeds belangriker plek in die konstitusionele bedeling in Suid-Afrika sal inneem terwyl die Blanke Volksraad, net soos Blanke stadsrade, na ’n ondergeskikte posisie afgedruk sal word.
Dit stem alles ooreen met wat reeds in die vroee sewentigerjare in die liberale binnekamers van die Nasionale Party en die Broederbond beplan is. In dié verband word veral gedink aan die propagering van die gedagte van die hervorming van die Senaat deur ’n klompie Wes-Kaaplandse AB-lede, sodat die Kleurlinge ook daarin sitting kon kry. Daar is uitdruklik verklaar dat so ’n hervormde Senaat op ’n hoër vlak as die Blanke Volksraad sou funksioneer. Kort hierna het ’n AB-lid, Schalk Pienaar, in Rapport die gedagte van ’n Tweede Kamer-stelsel bepleit wat veelrassig sal wees. Dit was in die tyd dat die Broederbond hom verbind het tot geen politieke integrasie tussen Blankes en Kleurlinge nie.
Wat interessant is, is hoe prominente AB-lede, soos Treurnicht, probeer om na buite die indruk te skep dat wat hier vir Suid-Afrika beplan word, nie politieke integrasie of magsdeling met die Nieblankes is nie. Die ou beproefde tegniek van woordverwarring word ook in hierdie geval handig gebruik. Dit is nie magsdeling nie, lui hierdie AB-lede se argument, maar magsverdeling en daarom kan dit maar aanvaar word. Net so interessant is egter die feit dat ander prominente AB-lede, soos Willem de Klerk, nie van hierdie misleidende woordespel gebruik maak nie en die kind op sy naam noem. Ander, soos Ben Schoeman, is nog meer uitgesproke en vra dat Kleurlinge op die gemeenskaplike kieserslys teruggeplaas moet word en saam met Indiërs die reg moet kry om in die Blankes se Parlementsitting te neem.
Nog nooit het van die kant van die AB-leiding enige repudiëring van hierdie gedagtes gekom nie. Trouens, die UR doen lustig mee aan hierdie misleidende woordespel.
In Maart 1981 byvoorbeeld word ’n UR-omsendbrief getiteld “Algemene politieke omstandighede” gesirkuleer. Dit is in die tipies verwarrende en misleidende idioom ingeklee wat beleidstukke van die UR in die afgelope aantal jare gekenmerk het. Die dokument se afsonderlike ontwikkeling vorm nog die grondslag van “vreedsame naasbestaan, naas die noodsaaklikheid van medeverantwoordelikheid vir sake van gemeenskaplike belang.” Wat hierdie “sake van gemeenskaplike belang” is, word natuurlik heeltemal verswyg, terwyl dit in die Regering se konstitusionele voorstelle baie duidelik geblyk het wat “sake van gemeenskaplike belang” inderdaad behels.
Die sleutelwoord in hierdie aangehaalde gedeelte is natuurlik “medeverantwoordelikheid.” Dit is die UR se fopwoord vir “medeseggenskap”, want hoe kan iemand mede-verantwoordelikheid aanvaar as hy nie mede-seggenskap het nie? En mede-seggenskap beteken net een ding in die politiek: magsdeling.
Watter bespotting die UR in hierdie omsendbrief van die hele gedagte van afsonderlike ontwikkeling maak, blyk uit die feit dat drie maande tevore, in Januarie 1981, die UR ’n studiestuk laat sirkuleer het waarin die beleid van afsonderlike ontwikkeling totaal ongedaan gemaak word en regverdiging gegee word waarom skeidingsmaatreëls, wat die sluitsteen van afsonderlike ontwikkeling gevorm het, in naam van “wegbeweeg van diskriminasie” of verander of heeltemal vervang moet word. Dit is die stuk wat vroeër bespreek is en wat getiteld is “Die handhawing van partikuliêre norme in ’n veelvolkige samelewing?
In paragraaf een van die omsendbrief van Maart 1981 word die verwarring verder gevoer wanneer verklaar word: “Die behoud van politieke gesag vir die Blanke binne ’n eie soewereine parlement wat in samewerking met die staatkundige strukture wat vir die Kleurling en Indiër geskep word, beheer oor die RSA sal uitoefen soos wat dit na onafhanklikwording en konsolidasie van Swart state daar sal uitsien.” Hoe die Blanke Parlement sy soewereiniteit sal behou wanneer mede-seggeskap (magsdeling) met die Nieblankes oor sake van gemeenskaplike belang ingevoer word, bly die UR in gebreke om te verduidelik. In paragraaf drie van die betrokke stuk word dit ook nie verduidelik nie wanneer net verklaar word: “Die onwikkeling en daarstelling van strukture tussen Blankes, Kleurlinge en Indiërs om gemeenskaplike sake te hanteer.”
Dit is opvallend dat die enigste verwysing in hierdie omsendbrief na die veelrassige Presidentsraad is wanneer die UR in paragraaf nege verklaar dat Swartes van die Presidentsraad uitgesluit word. Oor die veelrassige samestelling van die Presidentsraad word nie ’n woord gerep nie — ook nie oor die feit dat ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika gesamentlik deur Blankes, Kleurlinge en Indiërs geformuleer word nie.
Wanneer dit egter kom by “sommige praktiese implikasies”, blyk die misleiding op sy ergste. Die eerste praktiese implikasie lui: “Die onbetwiste behoud van afsonderlikheid soos byvoorbeeld die handhawing van eie onderwys, eie woonbuurte, eie plaaslike besture en eie sosiale strukture.” Geen vermelding word byvoorbeeld gemaak van die feit dat tersiêre onderwys, soos in die Januarie 1981-stuk van die Broederbond bepleit word, oopgestel is nie. Sorgvuldig word ook geswyg oor die feit dat ’n UR-lid soos Willem de Klerk reeds by verskeie geleenthede in skrif gepleit het vir die behoud van eie skole maar dat voorsiening gemaak moet word vir skole waar kinders van verskillende rassegroepe kan skoolgaan. Die De Lange-kommissie van ondersoek na die onderwys en die terme van opdrag aan daardie kommissie word glad nie aangeraak nie. De Klerk se pleidooie vir suiwer Blanke groepsgebiede en dan “grysgebiede” vir Blank en Nieblank word ook netjies verswyg. In sy eie stuk van Januarie 1981 word die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike as “diskriminerende” maatreëls uitgesonder en daar word gesê dat wanneer die wette verdwyn of aangepas word, huwelike tussen lede van verskillende rasse êrens sal moet “woon.” Hierdie aspek word glad nie deur die UR aangeraak wanneer hy twee maande later die indruk by gewone AB-lede wil wek dat apartheid nog die beleid is wat hy ondersteun.
Die tweede praktiese implikasie lui so: “Die voortgesette en versnelde daarstelling van meer afsonderlike geriewe van gelykwaardige gehalte, soos byvoorbeeld strandgeriewe, sportterreine, ontspanningsplekke en teaters met die oog op die gesonde ontwikkeling van eie gemeenskappe en behoud van identiteit saam met die oordeelkundige oopstel en deel van geriewe en geleenthede op ’n basis van behoefte en sonder om wrywingsvlakke te skep.”
Blykbaar dra die UR nie kennis of wil nie daarvan kennis dra dat feitlik elke Blanke strand aan die Kaapse en Natalse kus in die afgelope twee jaar aan Nieblankes oopgestel is en dat dit reeds tot ernstige wrywing en botsings aanleiding gegee het nie. Maar die mees ironiese is dat waar die UR verantwoordelik was vir die formulering van ’n veelrassige sportbeleid, hy nou pleit vir afsonderlike sportterreine, terwyl die huidige gebruik is om Blanke sportterreine toenemend vir Nieblankes toeganklik te maak en die huidige Regering die laaste wetgewende beletsels verwyder het wat in die weg van totale integrasie op sportgebied gestaan het. Duur staatsteaters word met Blanke belastingbetalers se geld gebou, maar dit word vir die Nieblankes oopgestel. Blanke swembaddens, biblioteke en parke word oopgestel maar hiervan neem die UR nie kennis nie. Die praktyk die afgelope twee tot drie jaar is die klinkendste bewys wat van die UR se “oordeelkundige oopstel en deel van geriewe en geleenthede” geword het.
Dit is hoe die UR vandag verskoning moet maak vir ’n beleid van toenemende integrasie nadat dit nog op 1 Oktober 1971 verklaar het dat “enige beleid wat, op welke basis ook al, tot integrasie tussen Blankes en Kleurlinge mag lei, verwerp word.” Die Broederbond het hom by sy stigting op die handhawing en uitlewing van die Christelik-nasionale lewens-en wêreldbeskouing gestel. Vandag swyg sy leiers wanneer nie-Christene saamwerk aan ’n nuwe grondwetlike bedeling vir Suid-Afrika in ’n liggaam waarin selfs anders gebid word as gewone Christene om nie die nie-Christene aanstoot te gee nie.
Vervolg...