DIE ALTERNATIEF (9)

T. M. Hart

'n STRATEGIE vir OORLEWING

‘Klink my tot kruik waarin u Gees
Weer water vir my volk sal wees’.

G.A. Watermeyer: Die Republiek van Duisend Jaar

Kopiereg © : T.M. Hart
Uitgewer: Tobie Hart
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Eerste Druk: 2014 ISBN: 978-1-928202-13-4

Lees reeks by Die Alternatief

Gelofteland plaas met toestemming van skrywer hierdie werk in reeksvorm. Dit is ‘n eerlike en praktiese besinning oor aspekte van 'n strategie om in die veeleisende 21ste eeu te kan oorleef. Sake soos nasionalisme, die ekonomie, politiek, godsdiens, die media, apartheid en ander word onder die loep geneem. Ná deeglike navorsing het skrywer besin oor wat 'n alternatiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse leefwyse sou kon wees. Al sou lesers nie noodwendig met elke sienswyse saamstem nie kan hulle in vandag se Suid-Afrikaanse omstandige hierby baat.

9. KULTUURGOEDERE van 'n VOLK

Miskien effens vreemd op die oog en oor kan 'n mens nie anders as om hier te begin met 'n stelling van Piet Cillié nie. In Baanbrekers van Vryheid wat reeds vroeër genoem is, het hy dit op p 99 oor die begrip etnisiteit en veral wat hy noem 'die wêreldprobleem van etnisiteit'. In die beskrywing van wat dit wesenlik is, verwys hy na ethnos wat oa volk of ras beteken. (Hy noem ook nog nasie, maar skep tog moontlik daardeur verwarring omdat die verskil tussen die twee begrippe redelik duidelik behoort te wees.) Wat verder in sy betoog hanteer word, is egter baie belangrik: "Ek wil die verskynsel van etnisiteit vir my doel definieer as enige gedeelde hoedanigheid by versamelings van mense wat nie in die massa (sy kursivering) te verander is nie. Dit dui dan nie net op velkleur of ander verskille in voorkoms nie, maar ook op taal, godsdiens, kultuur, tradisies."

In die volgende paragraaf waarin hy verduidelik dat velkleur ook nie by die individu te verander is nie, maak hy nogtans 'n saak uit vir die enkeling met verwysing na 'n moontlik fiktiewe 'Chinese kleuter' wat 'n 'Afrikanertjie met smal ogies en 'n goue velkleur' kan word, maar dat dit hoegenaamd nie kan beteken "ek kan van die miljoene Chinese Afrikaners maak nie".

Eiesoortigheid is uniek

Eiesoortigheid is dus ook hiervolgens iets uniek wat niks of niemand op aarde kan laat verdwyn nie. Hoe suksesvol ookal globaal en internasionaal, is die eie taal, kultuur, godsdiens en leefwyse iets wat jy nie kan prys gee sonder oneindige skade aan die self nie. Veral in die groter verband kan selfs die ophefbare verskille nie sondermeer en skielik opgehef word sonder die gevaar van totale verswelging of vernietigende vereensaming nie.

'n Mens sou dié standpunt kon uitbrei deur daarop te wys dat selfs waar 'n individu, homself sekere vryhede om watter rede en op watter vlakke ookal, veroorloof, dit nie die eiesoortige van die groep kan ophef of vervang nie. Vir die persoon wat nogtans 'n klein en veral, by wyse van spreke en metafories bedoel, 'n groot 'chinesie' aangeneem het, sou dit tot groot spanning kon lei, maar tog ook uiteindelik wins (of natuurlik ook verlies) vir die groep kon beteken. Oor geslagte heen is en was 'nouer kontak' met ander groepe immers nog altyd 'n verskynsel wat met meer of minder verdraagsaamheid hanteer is. Ons was immers nie een 400 jaar gelede 'n Afrikaner of Boer nie. Volgens dr Pama was baie selfs redelik onlangs dit ook nog nie, maar in die eiesoortigheid van 'n groep is dit nie waaroor dit gaan nie en vorm die uitsondering nooit die reël nie. Ten spyte daarvan dat sommige woordkunstenaars, joernaliste en ekstremiste van toevallige en selfs veronderstelde gevalle, wîe probeer maak met die oog op goedkoop sensasie of om verdeeldheid te probeer saai.

Hoewel moeilik te definieer is kultuur te sien as die somtotaal van menslike aktiwiteit binne 'n bepaalde groep. Dit sluit in taal, godsdiens opvoeding en opleiding, sosiale gebruike en waardes, musiek en ander kunsvorme, eetgewoontes, sport en 'n mens wil byna sê: noem maar op.

Hoewel tog ook tydsgebonde en dus onderhewig aan verandering is 'n verdere kenmerk dat kultuur net deur geleidelike mikro-evolusie of aanpassing eerder as deur revolusie sonder groot skade en verlies verander kan word. 'n Selfs net tydelike verlies aan kultuur of kulturele ankers, laat die mens kwesbaar en selfs weerloos soos 'n miskruier in 'n glasbak. Dit is veral so omdat kultuur juis die residu en somtotaal van menslike ervaring in groepsverband weerspieël.

Die begrip Kultuur sluit in en uit

Die Duitse 'Kultur' veronderstel verder dat die term nie net aanduidend gebruik word nie, maar ook voorskriftelik-skeppend dui op alles wat die mens 'vanuit homself' tot stand bring teenoor 'Natur' wat as gegewene ook tot die mens se beskikking buite-menslik bestaan. Dus iets van klip na kasteel en van etergolwe na elektroniese verkeer.

Of die mens die enigste 'dier' of lewende organisme is wat oor dié vermoë beskik (of behoort te beskik) is 'n ope vraag, maar nie hier ter sake nie. Wat wel belangrik is, is om te besef dat die beoefening van 'n bepaalde vorm van kultuur slegs in groepsverband kan floreer.

Die postmoderne en veral westerse 'kitskultuur' wat moontlik daarop gemik is om onderlinge eiesoortigheid met 'n globalisme te vervang (en in elk geval, bedoel of nie, dit veroorsaak) lei dikwels tot ontstamming en verwildering. Hoewel daar noodwendig ruimte gelaat kan en moet word soos reeds aangedui, verg die saamgooi van volksvreemde elemente, eerder 'n langdurige saamgroei voordat iets soos 'n reënboognasie suksesvol in 'n nuwe lewensvatbaarheid sou kon ontwikkel. Selfs die sg Basilliaanse opsie, waarna soms in hierdie verband verwys word, vertoon nog duidelike etniese groeperinge met haas geen gevaar van verswelging van die eerste wêreldse kultuurdominante groep nie.

Wanneer 'n mens ernstig oor die kultuursituasie in Suid-Afrika dink, is dit duidelik dat 'n verkleining van die invloedsfeer van die sg eerste-wêreldse kultuur slegs tot groot nadeel en skade van alle groepe in die land kan geskied. Enige vorm van beduidende afrikanisering, op watter vlak ookal, sal lei tot 'n degradering op haas alle prestasieskale wat selfs net beleggingsmoontlikhede registreer. Hoewel seker nie sondermeer te sien as 'n waarskuwing teen afrikanisering nie, kan selfs Ronnie Kasrils se stuk in Daily Maverick van 5 Mei 2014 hier genoem word. Daarin verwys hy na "… where one's soul is sold to the devil in exchange for power and wealth…". Verder dan ook nog… "I locate corruption …" (reeds) "within the economic and property compromises of the 1992-1996 period." Blykbaar word daarna ook in sy Armed and Dangerous (2012) verwys.

Dit behoort niemand te verbaas dat bv korrupsie almal benadeel nie, omdat dit immers 'westerse' of dan eerste-wêreldse geld en tegnologie is wat betrokke is. Waar westerse moondhede in die verlede slegs derde-wêreldse grondstowwe en arbeid gebruik het, het verskeie 'nie-westerse kapitaliste' dieselfde begin doen. 'n Interessante maar ook ingrypende maatskaplike gevolg hiervan is die neiging om hul eie arbeid in mynbou, konstruksie en selfs ander prosesse in 'n verskeidenheid nywerhede te gebruik. Bewys hiervan is die toenemende aantal vreemde gemeenskappe, soms met tempels en al, wat toenemend, ook in veral plattelandse gebiede gevestig word. Vanselfsprekend sal hierdie tendens ook ingrypende kulturele implikasies hê. Iets wat waarskynlik veral in die land se onderwysstelsel, duidelik sigbaar sal word. - Of reeds verontrustend sigbaar is.

Vervolg...