DIE NUWE SUID-AFRIKA (20)

Lees reeks by Die Nuwe Suid-Afrika (1990 en verder)

 

Ope brief aan mnr. PW Botha

Geagte Staatspresident

Vrylating van Mandela

“Daar word opgemerk dat u in Zurich gesê het dat u hoop dat Nelson Mandela sal aanhou om saam te werk, sodat dit nie nodig sal wees om horn terug te stuur na die tronk nie.

“U het ook gesê dat as u die keuse het, u nie ou mense in die tronk sal sit nie, maar verkies om hulle daarbuite te hê.

“Hieruit word afgelei dat die vrylating van Mandela reeds ’n aktuele saak vir u regering geword het, en dat die opmerkings ’n politieke voorbereiding vir sy vrylating is.

“Om so ’n vrylating ’n positiewe voorkoms te gee, het u ook gesê: ‘Die waarheid is dat die ANC Mandela nie uit die gevangenis wil hê nie, omdat dit hulle geval om hom voor te stel as ’n martelaar’.

“Hierdie laaste bewering is baie bedenklik. Daar kan met groot krag geredeneer word dat wat u beweer, nie die waarheid is nie.

“Die ANC wil Mandela vrygelaat hê as ’n bewys dat die Suid-Afrikaanse staat geswig het voor die politieke druk van die ANC en die Kommunistiese Party. Dit is presies hoe vrylating van Mandela vertolk sal word.

“Wat die betrokke bewering veral ongeloofwaardig maak, is die feit dat alle ANC-ondersteuners en -simpatiseerders hulle beywer vir Mande­la se vrylating, en dat dit beslis nie gedoen sou word as die ANC, soos u beweer, Mandela nie uit die tronk wil hê nie. Op dié feit versplinter die hele bewering.

“Dit is nie verregaande nie om te sê dat die storie dat die ANC Mandela nie uit die tronk wil hê nie, regstreeks van die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party afkomstig is.

“As u daaroor nadink, sal u besef dat dit vir u ongerade is om dit na te praat, want dit skep die valse indruk dat vrylating van Mandela ’n terugslag vir die ANC sou wees, hoewel dit presies die teenoorgestelde sal wees.

“Die vrylating van Mandela word klaarblyklik deur die Kommuniste begeer om die kwik van die revolusionêre klimaat te laat styg. Hulle weet dat vrylating van Mandela ’n toestand sal skep wat moeilik deur die veiligheidsmagte gehanteer sal word. En uiteraard sal vrylating van Mandela die ANC se politieke aansien met grade verhoog.

“Voortvloeiend uit sy vrylating sal die aandrang kom dat hy as leier van die ANC betrek moet word by wat genoem word ‘die groot indaba’.

“Die oorwegings teen vrylating van Mandela is derhalwe baie sterker as dié daarvoor, soos u self in Durban geredeneer het tydens ‘die Rubicon toespraak’, waarin u Mandela se politiek en misdade behandel het.

Die enkele jare wat Mandela sedertdien ouer geword het, maak geen verskil aan die meriete van die saak nie.

“Dat u nie, soos u sê, ’n ou man in die tronk wil hê nie, kan aanvaar word, maar dan geld dit nie net vir een besondere geval nie.

“Rudolph Hess was op negentigjarige leeftyd steeds in die tronk, en ek herinner my nie dat u in die openbaar u betuig het as ’n ondersteuner van die wêreldwye vertoë vir Hess se vrylating op humanitêre gronde nie. En as in Mandela se geval sy eie mense, volgens u, hom in die tronk wil hou, waarom sou Hess se mense hom so graag buite die tronk wou hê?

“U sien mnr. Botha, vandat mnr. John Vorster en u en die ander NP- leiers, ná die sluipmoord op dr. Verwoerd, van koers geraak en die vyand na regs gesoek het, het u noodwendig al verder na links beweeg, die linkse sentimente en aksiome aanvaar en u gaandeweg met die hele linkse politieke strewe vereenselwig.

“Die wyse waarop u die afgelope paar jaar telkens u standpunt oor vrylating van Mandela verander het, is beduidend van die mate waarin u steeds verder na links skuif. Dit is ’n politieke proses wat van die Nasionale Party se herkoms, aard en beginsels ’n bespotting gemaak het.

“As u in u verder beweging na links Mandela vrylaat, sal u Suid-Afrika nog baie duurder laat betaal vir die waan en foute van verligtheid”.

©

Jaap Marais

19 Oktober 1988