STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (17)

LW Bienedell

Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing

ANC-staat gaan inmekaartuimel

12 Augustus 1994

DIE STAATSKONSTRUKSIE van Kommuniste en liberaliste waarin ons tans moet lewe, sal geen duur hê nie, het die Leier van die HNP, mnr. Jaap Marais, op ’n baie goed-bygewoonde vergadering van die HNP se Hoofbestuur gesê. Die tekens van disintegrasie is reeds oral sigbaar.

Tot dusver het ons met Kommuniste te doen gehad, wat die dryfkrag agter die nuwe staatskonstraksie was. Tans het ons met Kommuniste te doen, wat agter die ANC en sy Swart parlementsmeerderheid skuil. Hoewel hulle slegs ’n baie klein minderheid in die regeringskoalisie vorm, beset hulle minstens 10 uit 18 van die ministers- en adjunkposte. Die huidige regering is ’n Kommunisties-beheerde regering.

Omar, Kasrils, Mafumadi, Zuma, Nzo, Mboweni, Maharaj, Moosa, Slovo, Radebe, Tshwete en Naidoo is ou bekende Kommuniste. Winnie kan ook nog daarby getel word, word aanvaar.

Nerens in Afrika—en selfs nie in Haiti nie—het ’n Swart staat geslaag nie. Hulle het deur ekonomiese dwaashede en korrupte bestuur gefaal, almal van hulle.

Nêrens het ’n Kommunistiese regering geslaag nie. Oral het Kommunisme misluk, ondanks die miljoene menselewens wat Kommunistiese terreurmetodes geëis het.

Indien die huidige staat hoegenaamd duursaamheid moet hê, moet hy aan twee voorwaardes voldoen. Dit moet ’n groeiende ekonomie verskaf, is die eerste vereiste. Die tweede is respek vir wet en orde. Die wankelende struktuur wat tans opgerig word, kan nie een van die twee lewer nie, het mnr. Marais gesê.

Inflasie neem reeds toe en sal nog hande uitruk. Die salarisse van ministers, selfs die salarisse van Swart ministeriële tiksters, die uitdeel van miljoene aan Swart buurstate, wys net op een ding, en dit is inflasie. Die staatsdiens word ’n werkverskaffingsburo vir die ANC gemaak.

Die ANC sal die belastings moet verhoog, wat ekonomiese groei sal verlangsaam, en hulle sal uiteindelik geld moet skep met die drukpers. Die rand sal sy waarde nog vinniger as ooit tevore verloor. Daarby kom die verliese deur stakings, waarvan ons nog maar die begin gesien het.

Die motordiefstalle, die moorde, die inbrake, selfs die moorde op Polisiemanne, bereik ongekende hoogtes. Selfmoorde in die Polisie word ’n probleem. Dit word vir die Polisie steeds moeiliker gemaak om misdaad te bestry, moordenaars moet met “vriendelikheid” bekamp word. Die twee voorwaardes vir ’n suksesvolle “oorgang” ontbreek, die ANC-staat kan nie voortduur nie.

Die prioriteit is wraak teen die Afrikaner

’n Kommissie word benoem oor die name van damme. Die SAUK wil Afrikaans van TV af wegvee en jaag selfs NP-aanhangers in die harnas. Die “Waarheidskommissie” is die eerste skuif in ’n wraakoefening teen Afrikaners wat as lede van die gewapende magte in oorlogstyd teen die vyand, die ANC, opgetree het. Goldstone word blykbaar tans opgelei om met VVO- status voorsitter van Omar se Waarheidskommissie te word. Hulle het so baie van demokrasie gepraat, maar die demokrasie word ’n outoritêre demokrasie.

Ons is in ’n ontwikkelende rewolusionêre situasie, die verkiesing was nog maar net die eerste stap. Die Kommuniste is besig met die volgende stappe, veral met die onderwerping van die veiligheidsdienste, wat gereed gemaak moet word om op te tree teen Afrikaners en dalk teen Zoeloes.

Die doeleindes wat die regering hom gestel het, vereis sterk leiding. In die plek daarvan soek Mandela net publisiteit.

Ons moet ons voorberei vir wanneer al hierdie dinge in duie sal stort, het mnr. Marais gewaarsku.

Die NP is nutteloos. Hy moet opposisie speel en gelyktydig mede-verantwoordelikheid aanvaar vir wat sy ANC-kabinetskollega’s aanvang. Dit is ’n politieke onmoontlikheid.

Die gesalarieerde lede van die Volkstaatraad en die ander regse party wat weer toenadering tot die VSR soek, is ook uitgeskakel. As ’n mens aangaan met ’n volkstaat-plan, is jy nie in staat om gelyktydig die politieke stryd teen jou onderhandelingsvenoot voort te sit nie. Dan skakel jy ook die gees van weerstand uit wat noodsaaklik is om die kanse te kan benut wat die onvermydelike ineenstorting van die huidige bestel sal oplewer.

Vervolg...