STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (19)

LW Bienedell

Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing

16 September 1994.

“Ter bemoediging van die regses het mnr. Marais daarop gewys dat daar nog nêrens ’n suksesvolle kommunistiese of Swart regering ter wêreld was nie.”

Mnr. Marais het daarop gewys dat dit die derde keer is dat die Afrikaner sy vryheid verloor. Die eerste keer was in 1877 as gevolg van swak leierskap, en die tweede in 1902 na ’n heroïese stryd toe hy met militêre mag onderwerp is. Die skandaligste was egter in 1994 toe De Klerk deur verraad sy land aan die kommuniste oorgelewer het. Hy het dit gedoen ten spyte daarvan dat hy geen mandaat van die kiesers daarvoor gehad het nie.

In dié proses het De Klerk alle waarborge wat hy aan die kiesers gegee het, oorboord gegooi. Hy het onder meer belowe dat hy groepsregte sou beveilig deur middel van ’n akte van menseregte. Die menseregte wat toe aanvaar is, het slegs die reg van die individu in die oog. Die Afrikaner het geen behoefte aan sodanige handveste nie. Daarenteen het De Klerk in 1977 self gewaarsku teen magsdeling, omdat dit ’n resep vir ondergang sou wees. In dieselfde jaar het Pik Botha ’n stelsel van een-mens-een-stem bestempel as ’n resep vir selfmoord. Die volk sou nooit ’n mandaat gegee het vir sulke optrede nie.

Mnr. Marais het dit benadruk dat die moord op dr. Verwoerd die eerste stap was in hierdie proses van verraad. Sedert daardie daad gepleeg is, is dit net die HNP wat by dr. Verwoerd se siening van Afrikanernasionalisme bly staan het. So het Schalk Pienaar in Rapport van 1971 geskryf dat die Hertzog-skeuring die doel gehad het om van Suid-Afrika ’n Afrikanerrepubliek te maak. Hy het daaraan toegevoeg dat dit nie toegelaat mag word nie.

In sy stryd teen die HNP het die NP net een doel gehad—hierdie party moes vernietig word. Dit was die direkte woorde van Ben Schoeman toe hy die vervroeging van die 1970-verkiesing aangekondig het. Daarna is alle verkiesings vervroeg om die HNP te probeer uitwis. Die HNP moes vernietig word, omdat hy die waarheid verkondig het. ’n Verdere misleiding was toe Vorster in 1977 die veldtog begin het met die doel om die insluiting van Nieblankes in die konstitusionele bestel te verdedig, maar dit soos ’n warm patat gelos het en uitsluitlik die buitelandse bedreiging soos deur Jimmy Carter verpersoonlik, as hoof aanvalspunt gebruik het.

Die metodes wat die NP gebruik het om die HNP te vernietig, het geen grense geken nie. Hulle het probeer om te verhoed dat die HNP as ’ n politieke party geregistreer word. Daarna het hulle die HNP gedwing om 300 handtekeninge te verkry voordat hulle ’n kandidaat in enige verkiesing kon nomineer. Die HNP is letterlik doodgewens, maar het telkens alle teenslae oorleef. Die HNP het selfs hierdie politici wat hom wou doodmaak, oorleef. Toe die HNP in 1981 ’n groot deurbraak gemaak het, het Piet Cillie van Die Burger geskryf dat die HNP se vordering “nie katastrofies” is nie, maar “baie onheilspellend”.

Met die verraad van 1994 wys mnr. Marais daarop dat 27 April die kommuniste in beheer van Suid-Afrika gestel het. Die oorgrote meerderheid van die kabinetslede is kommuniste, en waar dit nie die geval is nie, is daar seker gemaak dat sy adjunk wel ’n kommunis is. Dit het verseker dat alle portefeuljes kommunisties beman is. Mandela het nog nooit ’n aanval op kommunisme gemaak nie.

Ook die vakbond Cosatu word deur die kommuniste oorheers. Hulle is een van die drie organisasies wat die regeringskoalisie uitmaak, en hulle dwing beleid in die regering af.

Die NP het tydens die verkiesing gewys op die kommunistiese gevaar, maar daarna swyg hy soos die graf. Dit moet daaraan toegeskryf word dat hy of bang is, of net vir stemme gebie het. Die ANC se aanval op apartheid is niks anders as ’n aanval op Afrikanernasionalisme nie. Daarom moet die Afrikaner en die Blanke in ’n vemederde posisie ingedwing word. Dit word bewerkstellig deur regstellende aksie en veral deur die Waarheidskommissie waar die Afrikaner skaam gemaak moet word vir sy verlede. Waar Mandela in Pretoria ’n grootliks Afrikanergehoor oor Afrikaans toegespreek het, is hulle selfrespek al so afgetakel dat hulle nie eers weet dat hulle beledig is nie.

Mnr. Marais het dit benadruk dat die Afrikaner niks het om oor skaam te voel nie. Inteendeel, dit is hy wat hierdie land opgebou het tot waar hy vandag staan. Daarenteen het die Swartes nooit enige stede gebou of intensiewe landbou beoefen nie. Vandaar die groot gaping vandag tussen Afrika en Europa.

Nou het die situasie ontstaan dat alles weggeneem moet word deur ’ n kom­munistiese owerheid. Name van presteerders moet verander word, Afrikaans moet ondergeploeg word, en die geskiedenis moet anders vertolk word.

In 1881 het die Afrikaner sy vryheid met geweld herower. In 1902 het hy nie geslaag nie, maar die militêre weerstand het die weg geopen dat die Afrikaner sy vryheid langs ander weë kon herwin.

In 1994 is daar geen weerstand nie. Die Afrikaner is verneder. In plaas daarvan dat hy kragte saamgesnoer het, en ’n Blanke verkiesing geëis het, is hy ook op ’ n ander manier verraai deurdat die generaals die opsie van geweld oopgehou het, maar uiteindelik alle gewelddadige weerstand in die kiem gesmoor het. Dit het hulle gedoen deur teen alle versekeringe in aan die veelrassige verkiesing deel te neem.

Nou het die situasie in die KP ontstaan dat dr. Hartzenberg lynreg teen ’n besluit van sy eie Hoofraad in verkies om met genl. Viljoen en die Volkstaatraad gemene saak te maak in plaas van om sy energie daaraan te wy om almal wat nie gestem het nie, in ’n eenheidsfront saam te snoer.

Dit skakel in by die berig van Tim du Plessis in Beeld dat daar ’n beweging van Nuwe Regses op pad is en wat geskoei is op die vryemarkbeginsel. Dit moet elemente van die NP sowel as die KP en die VF insluit.

Ter bemoediging van die regses het mnr. Marais daarop gewys dat daar nog nêrens ’n suksesvolle kommunistiese of Swart regering ter wêreld was nie. Stakings is besig om die ekonomie ten gronde te rig. Blankes sal in opstand kom teen die vernietiging van hulle erfenis, soos die verwydering van standbeelde nou duidelik aandui. Daarbenewens is die ineenstorting van wet en orde en die bevoordelings van die soustrein seker die duidelikste bewys dat die ANC-regime nie die mas opkom nie, Mandela het ook self laat blyk dat die organisasie van die ANC aan skerwe lê.

Net soos die Boer ná die Tweede Vryheidsoorlog nie die nuwe bestel aanvaar het nie, aanvaar ons ook nie die huidige bestel nie. Mense wat nie gestem het nie, moet gekonsolideer word. Daarvoor is egter organisasie nodig.

Die Afrikaner sal nie rus voordat sy vryheid nie herstel is nie. Die geskiedenis leer dat die Afrikaner nooit gaan lê het nie. Hy sal dit nou ook nie doen nie. Hy sal ook nie swig voor ’n oormag nie.

Die HNP beskik oor die moed en die volharding, en daarop sal hy voortbou. Die hand van die geskiedenis lê op diegene wat hulle blik op die hoë spitse gerig hou. Met die bakens van witmanskap en Afrikaner- nasionalisme voor oë sal die toekoms weer aan ons behoort.

Vervolg...