STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (24)

                                                                            LW Bienedell

Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing

VERRAAD VAN BINNE HET LAND OORGELEWER

Hulle wat weier om te berus, sal geskiedenis maak

4 November 1994

DIE OORNAME van die land deur ’n bende Kommuniste was die gevolg van ’n lank beplande politieke moord op ons volk, soos ook die sluipmoord op dr. Verwoerd lank tevore beplan was.

Dit was lank voorbereide verraad van binne wat tot die ramp gelei het. Daarna het sorgvuldig geplante broedertwis die weerstand van die volk verlam.

Die wapens waarmee ons verower is, was misleiding, valse beloftes, openlike verraad en gesaaide verwarring. Teen die agtergrond van verarming en ekonomiese wanbestuur is Suid-Afrika se kredietwaardigheid afgebreek tot op die vlak van Meksiko. So veel as 32 persent van die Blankes lewe onder die broodlyn, die Afrikaner se besittings en swaarverdiende welstand word deur die gewettigde roof van “regstellende optrede” en “herverdeling van rykdom” van hom ontneem.

Wat die huidige verlies van ons vryheid onderskei van dié van 1902, is die beplande manier waarop dit geskied het, sonder roem en sonder eer en sonder die skepping van enige heldedom. Hierdie manier waarop ons verkneg is, was vir die vyand ewe belangrik as die onderwerping self, want dit moet verhoed dat daar trots en eer moes oorbly om ’n heropstanding te besiel.

Dit moet die grondslag vorm vir die “vrede” wat nou gemaak moet word. Tog, die weiering om te berus of te versoen met die verraad en oneer wat oor ons gekom het, sal soos in die verlede geskiedenis maak. Waar sou die Trekkers gekom het indien hulle berus het in die Britse imperialisme van die Kaapse bewind en bereid was om op te gaan in die Britse ryk? Waar sou die Boere na 1902 gekom het indien genl. Hertzog nie bereid gewees het om uit die Botha-kabinet geskop te word omdat hy by sy slagspreuk “Suid-Afrika eerste” gestaan het nie?

Net soos die HNP uit Vorster se NP geskop is omdat hy ’n Afrikanerrepubliek uit die Republiek van Suid-Afrika wou maak. Die HNP het die Boere-instink gehad om raak te sien dat Vorster-hulle besig was om verraad te pleeg. Die geskiedenis het die HNP in die gelyk gestel.

Die HNP bly by die Afrikanernasionalisme wat die volk in alle opbouende fases van sy bestaan besiel het, hy wil sy kragte rig na Bo en na binne.

Staan daarom op vir reg en waarheid, het mnr. Jaap Marais gevra. Ons sal nie berus in die verraad wat deur miserabele leiers gepleeg is nie. Ons SAL ons land terugneem wat onregmatig van ons geroof is!