Die Britse konneksie werk vir Ramaphosa
Meinhard Peters
Lees meer by OORSIG EN REPLIEK
Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Cyril Ramaphosa was tussen April 2018 in Londen waar hy verskeie funksies en vergaderings bygewoon het. Hy is onder andere ontvang deur die Britse eerste minister, Theresa May, en ook deur koningin Elizabeth II. Theresa May het beleggings ter waarde van R850 miljoen aan Suid-Afrika belowe (ongeveer £50 miljoen). Die doel van die skenkings is breed en vaag geformuleer. Dit moet glo gebruik word om armoede te bestry, om beleggingsgeleenthede te ontwikkel en vir werkskepping. Dit is op die oomblik nie duidelik wat wel gedoen gaan word, of wie dit gaan bestuur of wie dit gaan ontvang nie.
Dit val in ’n patroon van skenkings aan ANC-leiers of aan ANC-frontorganisasies sedert die sewentigjare van die vorige eeu. Groot bedrae het van Europese en ander regerings gevloei na verskillende rekenings wat deur die ANC beheer is. Nou kan Europese lande die skenkings kamoefleer as hulp aan die armes, as “beleggings” of as “ontwikkelingshulp”.
Onder die instansies wat geld na die ANC of na ANC-fronte gekanaliseer het, tel byna al die skandinawiese lande, kerklike bewegings, die Wêreldraad van Kerke, die Anti-Apartheidsbewegings in Londen, die Anglikaanse Kerk, studentebewegings soos NUSAS, groot korporasies, die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO), vakbonde, die VN se agentskappe en verskeie Amerikaanse Stigtings.
’n Beeld van hierdie kanale van befondsing word geskilder in die onlangse boek oor die Suid-Afrikaanse spioen, Craig Williamson [SPY: Uncovering Craig Williamson, geskryf deur Jonathan Ancer, Jacana Media, 2017]. Die hele skandaal rondom Alan Boesak het onder andere ook die ingewikkelde netwerke ontbloot wat gebruik is om revolusionêre ondermyning in Suid-Afrika te befonds.
Voeg daarby die geheime smokkelary met wapens wat in verskeie gevalle terug te spoor was na die Britse geheime diens, dan kom die hele beeld van internasionale hulp aan die ANC duidelik na vore. Dit is waarmee Suid-Afrika te doen gehad het vir dekades lank, voordat president FW de Klerk besluit het om die ANC en die SA Kommunistiese Party te ontban.