GRONDGRYP SE GEVOLGE

Meinhard Peters

Lees meer by OORSIG EN REPLIEK  

Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

ANC se beleid oor grondbesit bedreig die ekonomiese orde tot in sy fondamente

Die grootste en belangrikste nuus hierdie jaar is nie die dood van Winnie Mandela nie; soos dit onlangs in die groot media voorgestel is nie. Dit is ook nie die droogte in die Wes-Kaap nie. (Gelukkig het seisoenreëns uitkoms in die Wes-Kaap gebring. Oplossings sal nog gevind moet word vir die daarstelling van infrastruktuur om water beter op te gaar. Die dreigende droogte-ramp het inderdaad die gebrek aan tydige beplanning aan die kaak gestel.)

         Die grootste nuus van die jaar is eintlik dat die ANC-regime vas van plan is om grond in die stede en in die platteland sonder vergoeding te onteien.

Die beoogde maatreël en verandering van die RSA se grondwet is deur die ANC-regering onder Ramaphosa na die Kommissie vir die Wysiging van die Grondwet verwys vir hul aanbevelings oor hoe die grondwet verander moet word om die beleid te implimenteer. Ramaphosa hou in elke toespraak vol dat die beleid uitgevoer sal word, met allerlei versekeringe daarby.

Oor die afgelope weke het wye kritiek teen die voorgenome beleid oor grondonteiening ingestroom. Een van die tekens dat die besware die mure begin kraak is die feit dat die ANC nou elke keer dié stertjie aan hulle storie byvoeg: “….onteiening sonder vergoeding, maar op so ’n wyse dat dit nie voedselsekerheid in gevaar sal stel nie.”

     Die feit van die saak is dat die voorneme om grond sonder vergoeding te onteien ’n ondemokratiese vergryp binne die hele orde van die ekonomie te weeg sal bring. Die soet sousie oor voedselsekerheid en volhoubaarheid maak die kriminele aard van die beleid nie minder ernstig nie. Bowendien het navorsing oor plase wat van blankes in die verlede geëis en onteien is, aangetoon dat produksie op die plase onder swart bestuur in meer as 90% van die gevalle misluk. Die onreg van die hele proses word onderstreep deur die feit dat die staat in die meeste gevalle nie eiendomsreg aan die nuwe swart “eienaars” oordra in die vorm van kaart en trans-port nie. Dit is dus valse propaganda dat die grond sogenaamd teruggegee word aan “die mense”. Dit kom in staatsbesit tereg soos in dit in enige kommunistiese land gebeur.

     Nog ’n feit is dat baie van die eisers verkies om kontant van die staat as “vergoeding” te ontvang, eerder as om toe te tree tot die landbou as ernstige “opkomende boere”. Dit is verstaanbaar, gesien die feit dat bitter min of geen opleiding gedoen word nie, en dat bedryfskapitaal vir die aanvang van ’n boerdery-onderneming nie geredelik beskikbaar is nie. In gevalle waar geldelike hulp wel beskikbaar gestel word, het dit baie gou in die niet verdwyn. Die korrupsie-ondersoeke na die melkplaas-projek by Vrede het die misbruik van die finansieringsbeleid aan die kaak gestel. ANC-politici het die uitspattige befondsing van ’n plaas uitgebuit en boonop nog miljoene tot voordeel van die Gupta-familie uitbetaal.

       Die ANC-regime het die publiek uitgenooi om deel te neem aan die proses om Seksie 25 van die RSA-grondwet te laat wysig. Die spertyd vir besware, kommentaar en voorleggings aan die Grondwetlike Hersieningskomitee is 31 Mei 2018. Verskeie Afrikanerorganisasie, asook georganiseerde landbouverenigings, is tans hard besig om kommentaarstukke voor te berei. Die e-pos adres vir korrespondensie in hierdie verband word aangegee as: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..