VOLKSREGERING (2)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

 

Dirk  Denker

Daar bestaan soveel wanbegrip oor volksregering (demokrasie) dat dit noodsaaklik is om die juiste betekenis daarvan uit te spel. Neem gerus 'n onbevange houding en opvatting in voordat tot verkeerde gevolgtrekkings geraak word wat op onkunde rus, al sou dit aanvanklik ontken word. Om vooraf 'n eie standpunt in te neem sonder om die ware feite in ag te neem, is onewewigtig en moedswillig wat meebring dat die oë vir die werklikheid gesluit word. Die ware begrip moet opreg bekyk word.

 

Weens die erns opgesluit in die wysheid van volksregering waarby apartheid ingereken word, kan 'n indringende gesprek oor die diepte van die saak nie tot alledaagsheid of dagbladbespreking verlaag word nie. Kort en bondige inligting sal vrugteloos by mistasters verbygaan vanweë hulle gebrek aan insig en kennis omdat hulle te min van die onderwerp weet. Dit is 'n groot fout om die mening toegedaan te wees dat jy alles of selfs geredelik baie van 'n onderwerp af weet sonder dat jy feite onbevooroordeeld inneem en in wysheid oordink. Dit is wat teenstanders van die stelsel van volksregering doen omdat hulle die werklikheid nie besef nie.

Almal weet dat volksregering bestaan en voorstanders daarvan weet wat dit behels, dog mistasters het geen benul dat dit apartheid beteken nie. Die ontstaan en betekenis is nog nie duidelik vir hulle omskryf nie, maar net gedeeltes. Gevolglik is 'n indiepte studie gemaak en dit duidelik uiteengesit. In Suid-Afrika moet daar noodwendig tussen blankes en swart mense onderskei word omdat dit deur die verloop van die geskiedenis en deur aansprake op grondgebied vereis word. Volksregering is in alle lande noodsaaklik volgens hulle omstandighede.

Noem dit volksregering of apartheid of demokrasie, die wese van die begrip kom neer op die afsonderlike verskille wat tussen volke bestaan op grond van 'n gemeenskaplike lewenspatroon, bloed– en geestesverwantskap, 'n kulturele band, eie waardes, bewussyn van eie kenmerke, eie geskiedenis, eie taal, eie politieke strewes en soveel meer. Hierdie verskille het sedert die mens se bestaan afsonderlik ontwikkel volgens die natuurlike beginsel van apartheid wat alle volke, sonder uitsondering, tot stand laat kom het, soos later toegelig. Daar is dus geen rede tot stryd tussen volke nie.

Apartheid is in beginsel 'n lewensbeskouing en 'n bestaanswerklikheid. Dit gaan oor die betekenis van die lewe, kennis, korrekte optrede en denkwyse van mense wat eerlik glo dat hulle suiwer waardes daaraan koppel wat lewenswaarhede oor grondbeginsels en begrip insluit. Lewensbeskouing word nie deur wetgewing bepaal nie, maar wetgewing kan gebruik word om 'n lewensbeskouing te beskerm.

Apartheid erken verskeidenheid van sienings, hetsy op die gebied van die wetenskap, sielkunde, geloof, sport, of wat ookal. As 'n sportklub besluit om net tennis te beoefen en te bevorder en nie voorsiening vir ander sportsoorte se beoefening en ontwikkeling te maak nie, pas die tennisbestuur apartheid of afsonderlikheid toe.

As 'n groep gelowiges in hulle denke en geloof van ander kerkgenootskappe verskil en hulle dan apart 'n eie kerk stig, is dit vryheid en apartheid. Apartheid is aldus geregverdige vryheid van keuse. Dit is keuse volgens die groep se eie oortuiging vir hulself sonder om ander te dwing om dieselfde lewensbeskouing of geloof uit te leef en maak geen inbreuk op ander se regte nie.

Op staatkundige gebied bestaan verskille in volkseienskappe en denke net soos die verskille in belangstelling hierbo, en in 'n apartheidbestel regeer elke volk volgens eie vrye keuse. Onderskeie volke word deur hulle eie volkgenote in hulle eie grondgebiede apart van ander regeer. Dit is ware demokrasie.

Apartheid benader rasseverhoudings in welwillendheid en nugterheid omdat almal vir ander gun wat hulle vir hulself opeis en begrip en respek vir mekaar se lewensvreugde en behoeftes toon. Menseregte, goeie behandeling, billikheid en welgemanierdheid tussen volkgroepe is deeglik in apartheid ingebou.

Elke volk wat homself regeer voorsien in sy eie behoeftes en het nie nodig om bedelaarshande na ander volke uit te strek nie. Afsonderlike volke het politieke en ander strukture ontwikkel wat aan hulle bekend is en bou hulle verdere ontwikkeling ernstig daarop. Hul eie kultuur (geestesgoedere) is in hulle siel gegraveer. Hulle wil nie ander volke se bouwerke slaafs of gedwonge oorneem nie, maar wat hulle eie is, behou en uitbrei volgens hul eie omstandighede, aard en behoeftes. Die apartheidbeleid is die beleid van groei uit eie wortels, uit eie instellings, uit eie krag.

Valse en moedswillige beskuldigings teen apartheid, veral uit die buiteland, maar ook plaaslik, word vervolgens onder andere uitgewys en weerlê, asook die bevestigde nadele van integrasie of volkvermenging wat uiteraard van nature gedwonge is en as sodanig uitgewys word. Kennisontbrekende goedbedoelde menings word met die nodige begrip toegelig.

Uit die vorige paragraaf moet nie afgelei word dat standpunt ingeneem word voordat die voor– en nadele van apartheid en volkvermenging bestudeer is nie. Hier word verwys na werklikhede teenoor eensydige moedswillige beskuldigings wat nie gegrond is nie. Lees al die inligting met aandag en 'n oop gemoed sonder onjuiste eensydige vooropgestelde idees. Dit is wat met leesstof en meedelings gedoen moet word om ewewigtig te kan oordeel.

In hierdie reeks word dit wat reeds vermeld is, later herhaal en deeglik ontleed om aansluiting te vind by die diepte-studie om sodoende 'n beredeneerde deurlopendheid te vorm wat lees en verstaan makliker maak. Tot dusver is slegs die omlyning van die regeerstelsel uitgewys.