VOLKSREGERING (3)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

 

Dirk  Denker

 

INLEIDING

Om verwronge idees by mense oor die begrip volksregering of apartheid reg te stel, is dit noodsaaklik om die juiste betekenis uit te spel, asook die geskiedenis daaraan verbonde omdat dit noodsaaklike insig verskaf in die agtergrond, beginsels, denkwyse en lewenswyse van 'n volk. Dikwels word òf 'n Bybelse òf geskiedkundige òf partypolitieke gesigspunt beskryf wat eensydige sienings is as dit nie in 'n eenheid aangebied word nie. Hiermee word nie te kenne gegee dat die afsonderlike uitgangspunte verkeerd is nie, trouens, in hierdie geskrif word getrag om alle bewyse en getuienisse selfstandig te bespreek en bymekaar te voeg sonder om eensydig te wees, meer bepaald in Suid-Afrika en die Afrikaner se opset.

Hierdie reeks is nie 'n poging om die menslik wetlike aspekte van en oor apartheid te bespreek en te verdedig nie, maar om die natuurlike lewenswaarhede waaruit apartheid ontstaan het, op skrif te stel. Dit word aan regsgeleerdes oorgelaat om die wetlike benadering te hanteer. Weens die erns opgesluit in die wysheid van apartheid, is dit noodsaaklik dat dit duidelik omskryf moet word. 'n Indringende gesprek oor die diepte van die saak kan nie tot alledaagsheid of dagbladbespreking verlaag word nie. Om te dink dat apartheid met kort en bondige meedelings beskryf kan word, toon 'n gebrek aan insig en kennis. Die omvattendheid en diepte van apartheid moet eers bestudeer word om die nodige feite en opheldering te verkry om saam te kan praat.

Die tartende stemtoon en inhoud van persoonlike aanvalle in plaas van besinning oor die feite, is bloot verdagmaking met leë inhoud en dus 'n sinnelose wyse van strydvoer. Om iemand met stemverheffing te probeer oorrrompel is tragies en getuig van magteloosheid. Vryheid bestaan daarin dat mense mekaar op wetenskaplike wyse aanpak met wapens wat in alle opsigte beskaafd en welgemanierd is. Apartheid is juis 'n bewys van die hoogste vorm van politieke eerlikheid.

Voordat apartheid as sodanig verstaanbaar verduidelik kan word, moet die natuurlike ontwikkelingsverloop van alle volke eers duidelik uiteengesit word.

VOLKGROEPERING

Hierdie gedeelte is 'n betroubare opsomming, verwerking en pasmaking vir die doel van geluk en vrede waar volkgroepe hulself regeer volgens die beginsels van dr J Albert Coetzee se boek  "Politieke Groepering in die wording van die Afrikanernasie". Die boek is in 1941 gedruk, dit wil sê voordat dr Malan en eendersdenkendes soos adv Strydom en dr Verwoerd apartheid duideliker in wetgewing vasgelê het. Die inhoud waarop toegespits word is egter die grondslag en agtergrond van die totstandkoming van alle volke wat oor die wêreld versprei is en het nie slegs betrekking op die Afrikanervolk nie. Volke het nie net in die suidpunt van Afrika tot stand gekom nie, maar duisende jare vroeër.

Dr Coetzee het duidelik 'n deeglike studie van sy vakgebied gemaak en dit op 'n wetenskaplike wyse ontleed wat onweerlegbaar is. Wat hy beskryf, is werklik deur die loop van die geskiedenis ervaar soos in van die oudste geskrifte gevind.

'n Volk is 'n groepseenheid met 'n besliste bestemming, taak en werksverrigting. Die bestemmingsbeginsel hang saam met die algemene roeping van die mensdom om te vermenigvuldig, die aarde te onderwerp, te ontwikkel en daaroor heerskappy te voer; dit is om 'n kultuurtaak te vervul. Om hierdie taak te kan uitvoer, het daar uit die mensdom volke in verskeidenheid tot stand gekom, elkeen met sy eie vermoëns, denke en roeping.

In die verskeidenheid van volke is verskillende wesenlikhede werksaam, waaronder hoofsaaklik die volgende:

(a)        Afstamming, waardeur bloedverwantskap binne die volksgroep uitbrei. Die bloedband begin met ouers en hulle kinders en kleinkinders, broers en susters, neefs en niggies, en geleidelike al hoe meer uitgebreide verwantskap totdat die familiegroep groot genoeg word om eers as 'n stam en later as 'n volk beskou te word.

(b)        Taalvorming, wat 'n afsonderlike spraaknetwerk skep. Die familiegroep moet noodwendig met mekaar skakel om mekaar te verstaan sodat hulle boodskappe aan mekaar kan gee om hulle kennis, menings en gevoelens aan mekaar te kan oordra. Dusdanig ontwikkel hulle geluide (woorde) en uitdrukkings wat bepaalde betekenisse inhou wat van ander tale en volke verskil en as moedertaal bekend staan.

(c)        Godsdiens, wat aan die eie volk 'n bepaalde geloof en 'n eie lewensbeskouing besorg. Die onderskeie volkgroepe se godsdienstige gelowe verskil so wyd van mekaar dat dit nie alleen rusies tot gevolg het nie, maar ook godsdienstige of heilige oorloë.

(d)       Aardrykskunde, wat 'n afsonderlike gebiedbewussyn kweek. Elke volk is vanselfsprekend ook die skepping van die bepaalde deel van die aardbol wat hy bewoon. Die besondere ligging van sy land, byvoorbeeld hoe ver dit van een van die pole en die ewenaar geleë is, of dit aan die see geleë is, of dit 'n reën– dan wel 'n droëklimaat het, of dit bergagtig of plat is, of dit oor 'n groot aantal riviere beskik, of dit vir landbou en veeteelt geskik is, welke soort plante en diere daar voorkom, of daar allerlei minerale in die bodem voorkom – dit alles is omstandighede wat help om 'n eie volksaard liggaamlik en geestelik te vorm. Gemeenskaplike belange trek nouer bande.

(e)        Staatkunde, wat 'n bevolking op 'n wetenskaplike wyse saambind. Saam met al die ander onderskeie elemente vorm staatkunde vaderlandliefde wat gerig is op die verwesenliking van 'n eie staat. Die staat weer is by uitstek die magsorganisasie in die samelewing ter handhawing van die reg en ordening van die samelewing wat uitloop op die kultuurbestemming van die volk op sy eie deel van die aarde. Onder kultuur word verstaan ontasbare geestesgoedere soos onder meer godsdiens, taal, kunste en eiesoortige gewoontes wat nie met 'n maatstaf gemeet kan word nie.

(f)        Geskiedenis, wat aan die groep 'n gemeenskaplike leefwyse gee. Afwenning van ander volkgroeperings vind plaas omdat die verloop van hulle geskiedenis te veel van mekaar verskil en selfs vyandig teenoor mekaar gestaan het. 'n Natuurlike afsonderingsgees het ingetree wat te breed van mekaar verskil om samevoeging van volke moontlik te maak. Wie derhalwe iets van die denke van 'n volk wil begryp, moet noodwendig eers soek na die oorsaak van bepaalde gebeurtenisse.

(g)        Gedragswyse, waar die onderskeie volkgroepe op verskillende maniere teenoor mekaar te werk gaan om hulle bestaan uit te leef. Een volksgroep poog om deur middel van onderhandeling 'n doelwit te bereik, terwyl 'n ander geweld as die oplossing sien, en ander weer wegtrek na onbesette grondgebied.

Al hierdie en ander aspekte was werksaam tot die vorming van volksbewussyn. Dit is geheel en al teen die natuur van die mens om met ander volkgroepe te vermeng. Slegs wanorde en geweld kan die gevolg wees soos duidelik later in hierdie reeks uiteengesit.