VOLKSREGERING (6)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

 

Dirk  Denker

 

ONTSTAAN  VAN  APARTHEID  IN  VOLKVERBAND

Totius is wêreldbekend en die Afrikaanse Bybelvertaling (1933/53) onder sy leiding is een van die betroubaarste vertalings uit die oorspronklike brontekste in enige taal. Hy het die betekenis van God se woord in alle opsigte deurgewerk. Totius is een van die grootste kenners van God se woord en kon God se wil betroubaar uitlê. Hier volg uittreksels uit 'n referaat oor apartheid of eiesoortigheid wat hy in 1944 op 'n volkskongres oor rassebeleid gelewer het.

" 'n Teks om segregasie te bewys het ek nie, maar ek het die Bybel, die hele Bybel.  My bewysvoering sal gaan van Genesis tot Openbaring; so moet ons bewyse uit die Heilige Skrif aanvoer.

Ek begin met die eerste bladsy van die Skrif. Hoe tree Hy (God) op? As Hammabdil, dit wil sê as Skeidingmaker. Dadelik lees ons van die eerste dag:  "God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis" (Gen 1:4). Aangaande die tweede skeppingsdag staan geskrywe:  "God het gesê:  Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters."  (1:6). Dan volg die derde dag die skeiding tussen droë grond en die versameling van waters, die see (1:9 -10).

Op die vierde dag kom die hemelligte te voorskyn:  "Om te heers oor die dag en oor die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis"  (1:18). Op die vyfde dag skep God die lewende wesens wat wemel in die waters volgens hulle soorte en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte (1:21). Dus weer 'n onderskeiding, en dit hou tot vandag toe stand wat die evolusie ook al redeneer ten gunste van die eenmaking. Dit is en bly soorte. 'n Kloof is daar gevestig, en vir dié kloof is daar geen brug nie.

Ten laaste word van die sesde dag dieselfde gemeld, naamlik die skepping van die diere volgens hulle soorte (1:24). Ja, ook die mens, die hoogste van die werk van God, kom in onderskeidenheid te voorskyn:  "Man en vrou het Hy hulle geskape" (1:27). Dan word alles beseël met die woord:  "Toe sien God al wat Hy gemaak het en  –  dit was baie goed" (1:31). Geen enerleiheid maar menigvuldigheid; en dit bly so ondanks alle teëstribbeling van die mens.

Die massa geskape dinge kom derhalwe nie deurmekaar in aansyn nie, maar elkeen word afgesonder in sy eie kraal. Dit is dan ook wat die woord segregasie volgens sy afstamming te kenne wil gee. Wat hier allermees van belang is, is dat plante en diere in  "soorte"  gegroepeer word, geskeie van mekaar en tog weer een onder die versamelnaam plante en diere.

Maar dan die mens – is by hom ook soorte aanwesig kragtens skeppingsordinansie?  Daar staan alleen dat God die mens  "man en vrou geskape het".  Vandaar dat Paulus aan die wysheidmense in Athene kon sê:  "Hy (God) het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak."  Die skeppingsdaad is die  "een bloed."  Maar let daarop dat daaruit in die weg van die voorsienigheid van God  "al die nasies"  van die mensdom voortgekom het – dus nie 'n hoop mense sonder onderskeid nie. Paulus voeg dan ook hierdie belangrike woorde aan sy uitspraak toe:  "Om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy (God) vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het."  (Hand 17:26).

"Om die aarde te bewoon" – hiermee gryp die apostel na die bevel terug:  "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde" (Gen 1:28), 'n bevel wat na die Sondvloed letterlik herhaal is toe God gesê het:  "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde." (Gen 9:1).

Wat wil dit sê?  "Vul die aarde"  beteken, trek, en trek beteken nasiewording:  Eers toe ons vaders die lae lande by die see in die omtrek van Kaapstad verlaat het en getrek het na die hoër geleë binnelande van Suid-Afrika, het ons 'n nasie geword.  Wat toe begin is, het die Groot Trek voltooi. Deur die bevel:  "Vul die aarde"  het God sy goedkeuring aan nasiewording geheg. Vandaar dat Paulus kon sê dat God uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak het. Maar nou kom die mens met sy eiewysheid. Voor die Sondvloed al het die geslag van Set met die geslag van Kain gemeng. Toe het die reuse gekom en oor die voor-Sondvloed-wêreld het die geweld losgebreek wat oorsaak was van die strafgerig.

Maar na die Sondvloed het dié eiewysheid en verset teen die bevel van die Here nog kwaaier te voorskyn getree. In die laagte van Sinear het die toringbouers van Babel vergader en uitgeroep:  Laat ons nie verder trek nie. Laat ons bymekaar bly. Ons spreek een-en-dieselfde taal.  Ons moet een nasie bly. As ons uitmekaar gaan, word ons swak. As ons saamstaan, kan ons 'n toring bou waar die punt die hemel raak.

Nou kom die Here weer as die Skeidingmaker. Hy sê:  "Daar is hulle nou een volk en het almal een taal!  En dit is net die begin van hulle onderneming."  (Gen 11:6). Deur taalverwarring  "het die Here hulle (toe) oor die hele aarde verstrooi." (11:9).

Nouwel, so 'n  'trek'  is juis die teendeel van wat in Sinear se vlakte geopenbaar is.  Ook toe moes hulle trek, maar hulle wou nie; hulle stel hul nou uit beginsel en met voorbedagte rade teenoor die beginsel van trek.  Nie  'trek'  nie, maar  'bymekaarbly'  was die wagwoord en soos nou van agter wel toegestem sal word dat die Kaapse Boere die bestel van God sou weerstaan het as hulle nie uitgetrek het nie, eweso het die toenmalige geslag in die vlakte van Sinear die wil van die Here weerstaan deurdat hulle hul nie wou versprei nie."

Die Skrif leer ons dat ten opsigte die vermeerdering van volke 'n Goddelike en menslike faktor onderskei moet word. Enersyds is dit God die Here wat die mense uit Babel  "oor die hele aarde verstrooi" (Gen 11:9), en andersyds is dit die nasies op die aarde wat hulle  "verdeel het na die vloed"  (Gen 10:32).

Totius vervolg...