VOLKSREGERING (9)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

 

Dirk  Denker

 AANVULLENDE  BYBELVERWYSINGS

Voordat die uwe op die referaat van Totius afgekom het, het hy die volgende oor die ontstaan van apartheid in 'n artikel geskryf:

Sover vasgestel kon word, was die eerste verwysing na apartheid in die eerste boek van die Bybel. Apartheid is nie 'n begrip wat net op mense van toepassing is nie, maar ook op diere en plante. Gen 1: 11 –  "En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so."  Let wel, elkeen volgens hulle soorte wat beteken dat hulle nie vermeng nie. In Gen 1: 21 en Gen 1: 25 het God duidelik dieselfde met die voëls, seediere en landdiere gemaak.

Die Here het die mense in verskillende tale laat praat om hulle apart te laat woon; oor die aarde verstrooid (Gen 11: 7 en 8). Die nageslag van Noag is deur God in nasies met verskillende tale verdeel, dit is, Hy het apartheid weer bevestig (Gen 10: 5, 20, 31, 32).

'n Verdere aanduiding dat God die aparte nasies geskep het, is sy mededeling aan Abram dat hy 'n vader van 'n menigte nasies sal wees (Gen 17: 4 – 6 en 16 en 20). God het nog meer nasies beskik soos gemeld in Gen 25: 23 en 35: 11. Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het, toe Hy die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle grense bepaal (Deut 32: 8). Ook in Ps 86: 9 word bevestig dat God al die nasies gemaak het omdat hy dit so gewil het.

God het daaroor gewaak dat Israel nie met ander nasies mag meng nie en het dit bewerkstellig dat die Israeliete van die vreemde vroue moes skei en ook die kinders met gemengde bloed moes wegstuur (Esra 10: 10 – 11 en 44). Waar Israel deurgaans aan ons as voorbeeld voorgehou word (hulle goeie dade sowel as hulle oortredinge en straf), behoort ons uit hierdie voorbeelde te leer. Daarom is dit in die Bybel opgeteken. Ook Nehemia het huwelike tussen die Joodse gemeenskap en vreemdelinge afgekeur (Neh 13: 23 – 27).

Opmerklik is dat God nêrens aangedui het dat as die vreemdelinge gelowig word, hulle dan in die Israelitiese volk opgeneem mag word nie. Tot bloedvermengde kinders is weggestuur. God was dus daarteen gekant omdat dit heidense volke was, maar ook omdat dit vermenging van nasies was.

In Mat 28: 19 gee Jesus erkenning aan die bestaan van die nasies en dat die evangelie aan verskillende nasies verkondig moet word; nie met hulle moet vermeng nie. Toe die apostels na die hemelvaart van Jesus die Heilige Gees ontvang het, is hulle met die onderskeie tale toegerus om die evangelie aan die verskeidenheid van volke te verkondig (Hand 2: 4 – 11).

As God al die nasies gemaak het en so ook ons Afrikanernasie, mag ons God se wil nie teengaan nie. God se optrede is verhewe bo ons mense s'n (Jes 55: 8 en 9). Ons is verplig om die afsonderlikheid van volke te eerbiedig. Wat God doen, is volmaak (Ps 18: 31). Spr 10: 29 –  Om te leef soos die Here wil, is die krag van die opregte.