Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
Dirk Denker
VOLKSTIGTINGGEBED
Die beginsels en uitgangspunte van die Afrikaner is so interessant dat oneindig baie daaroor geskryf kan word. Hoe dieper op die geskiedenis ingegaan word, hoe meer begrip kry ons van ons voorouers se wettige en opregte handelinge en van buitelanders se belangstelling omdat ons eerlik en vasberade optree. Ons gewone volkgenote word ook hoog aangeslaan.
Om die geskiedenis van die Afrikanervolk se ontstaan na te gaan, moet by die vroegste geskiedenis van Jan van Riebeeck in die Kaap begin word. Hy was die vader van die volk wat in suider Afrika tot stand gekom het sonder dat die omvang daarvan in daardie stadium ontwaak het. Sy voorbeeld van goeie leierskap en karaktervastheid het hy hier neergelê.
Jan van Riebeeck het ons volksplanting met 'n gebed begin. Weliswaar het die Here XVII die gebed opgestel, maar dit was die grondslag van ons volk en hy het elke vergadering van die Politieke Raad op hierdie wyse geopen. Vandag nog is dit ons gebruik om vergaderings met 'n gepaste gebed te open. Waarskynlik is ons die enigste volk wie se ontstaan op so 'n wyse 'n aanvang geneem het, iets waarop ons trots is en wat ons diep Christelike geloof bevestig.
Baie vergaderings ten opsigte van lewenstake soos medies, wetenskap, werksgeleenthede, veiligheid, sport en ander velde word vandag nog op soortgelyke wyse geopen waar ons om wysheid vra. Daar is werksmense wat, voordat hulle hul dagtake aanpak, vergader en soortgelyk bid. Sommiges bid min of meer langs dieselfde riglyne, terwyl ander die bewoording skriftelik aanpas volgens die aard van die vergadering, miskien verkort, en dit dan voorlees. Die invloed van ons gelowige volkstigting is sterk by ons ingemessel.
Jan van Riebeeck het die gebed op 6 April 1652 voorgelees:
"Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder.
Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader, dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly.
Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer.
Laat ons nie, in watter mate ookal, op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus ... wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is, ... Amen"