Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
Dirk Denker
UITGEBREIDE APARTHEID
Van die vroegste jare af is Europa tussen aparte volke verdeel, elk met sy eie grondgebied, regeringvorm, taal en kultuur. Sommige is koninkryke en ander republieke of wat die volk verkies. Aldus word apartheid al vir baie eeue in Europa toegepas. Dit word allerweë as aanvaarbaar beskou en as een volk sou probeer om 'n ander volk se grondgebied af te neem en oor daardie volk te heers, word dit wêreldwyd veroordeel en ontstaan selfs wêreldoorloë. Apartheid word in Europa as die staatkundige oplossing gesien en so toegepas.
Soortgelyke apartheid is sedert die vroeë jare van die Afrikaner se volkwording in die Kaap ingestel met uitstekende gevolge. Intrekkers uit verwante blanke lande het hulle op hierdie voorwaarde aan die Kaap gevestig. Dit het veroorsaak dat 'n nuwe volk tot stand gekom het met vaste beginsels wat tot voordeel van alle ander volke strek. Let wel, hierdie nuwe volk het uit stamlande ontstaan en nie uit onverwante vreemde volkere nie. Die voordele word aanstons bespreek.
Maar, soos reeds beskryf, in suider Afrika was dit nie net die blankes wat apartheid gehandhaaf het nie. Lank voordat die swart volke met die blankes in aanraking gekom het, het hulle apartheid as deel van hulle lewenswyse beskou en gevestig. Die verskillende volke het elkeen hulle eie aparte regeerders in hulle eie volkverband gehad en die een volk het nie met die ander vermeng nie. Dat die onderskeie swart volke hulself bewapen het, was om hulself te verdedig en sodoende apartheid (volkseie vryheid) te handhaaf.
In die res van die wêreld het daar besinning gekom oor koloniale beleid waar Brittanje onder meer oor Suid-Afrika, Noord-Rhodesië, Suid-Rhodesië, Niassaland, Swaziland, Basoetoeland, Betsjoeanaland en Indië regeer het, en Frankryk, België, Portugal en ander ook oor ander volke. Hierdie lande het later die Afrikaner se sienswyse oorgeneem en daardie volke as aparte state in eie reg erken. Die leiding in hierdie verband het duidelik op daardie tydstip van Afrikanerleiers af gekom, want hulle het dit van die begin af verkondig en eerste vir hulself bewerkstellig.
Tuislande, groot eie van die vrugbaarste gebiede vir die onderskeie volke binne Suid-Afrika se grense, was voorsien vir Lebowa, Bophuthatswana, KwaZulu, Transkei, Ciskei, KaNgwane, Gazankulu, Venda en KwaNdebele. Dit was waar hulle oorspronklik en tradisioneel gewoon het en dit was hulle hartlande. Geleidelik sou die reeds volwaardige lewensvatbare gebiede vergroot word soos die onderskeie volke dit kon behartig en soos hulle behoeftes toeneem.
Waarom Engeland en die Europese lande die onafhanklikheid van hierdie volke nie wou erken nie, bly steeds 'n raaisel omdat hulle self aan die kolonies wat ondergeskik aan hulle was, onafhanklikheid verleen het. Dit is ook onverstaanbaar dat Europa onder volke verdeel is, maar in die groot Suid-Afrika moet daar 'n gesamentlike regering wees waar die getalsterkes die ander kan oorheers en wel doen.
Daar word onjuis beweer dat demokrasie sedert 1994 in Suid-Afrika bestaan. Net soos onderskeiding en onderdrukking kunsmatig gelykgestel word, word demokrasie met vermenging verwar. Demokrasie se werklike betekenis is vryheid, maar hierdie betekenis word moedswillig so verdraai dat vryheid (demokrasie) vermenging van rasse beteken. Dit beteken dat volkseie nie as 'n vrye keuse beskou word nie. As daar nie 'n keuse is nie, waar is die vryheid? Hoe kan dit demokrasie wees? Dit maak nie sin nie.
Wat nie gesê word nie is dat hier net 'n meerderheidregering is wat oor minderhede regeer en wat die minderheid geringskat. Volke kan nie saam 'n demokratiese regering (volksregering) vorm nie omdat die volk wat getallegewys in die minderheid is, nie seggenskap het nie. Die minderheidvolk word immers maklik op enige gebied uitgestem. Hulle is net marionette.
Stel volke soos die Nederlanders en die Duitsers onder een regering in een bestel en in getalle is daar geen demokrasie nie waar die minderheidvolk se klein stemmetal kragteloos is. Ongeveer 16 miljoen teenoor ongeveer 82 miljoen. Sal die Nederlanders dit aanvaar? Maar van Afrikaners word verwag om so 'n regering te aanvaar.
Demokrasie, nee, volkseie om duidelik te wees, bied vryheid vir elke volk. Een mens een stem klink wonderlik, maar nie waar meer as een volk betrokke is nie. Dit is waarom Europa apartheid toepas deur afsonderlike regerings te vorm en werklik demokrasie handhaaf.