Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
Dirk Denker
VERKIESINGS IN VEELVOLKIGE LAND
Munisipale en sentrale regeringverkiesings word gereeld in Suid-Afrika gehou. Wat is die betekenis daarvan vir die onderskeie volke waaronder Afrikaners?
Soos dit gereël word, is die verkiesings gedwonge veelrassig van aard. Die volke moet gelyktydig en gesamentlik na die stembus gaan om opnuut verteenwoordigers te kies. Volkevermenging word dus vir verkiesingdoeleindes afgedwing en die volk wat getalgewys in die meerderheid is, word in beheer gestel.
Op vergaderings tel die minderheid se beginsels en sienings weinig indien enigsins. As verskoning word demokrasie deur die meerderheid aangevoer dat die meerderheid reg is en dus besluite mag neem wat afdwingbaar is, maar hulle vermy die feit dat demokrasie slegs binne een volk geregverdig en regverdig is.
Slegs wanneer dit die meerderheid pas om 'n rookskerm te werp, stem hulle in tot 'n minderheidvolk se versoek of mening op so 'n manier dat dit moet lyk asof dit die meerderheid se eie siening was, of om kastige begrip te toon. Dit is een rede waarom daar swak dienslewering is. Die meerderheid verkeer onder geen druk tot prestasie nie omdat hulle hulself beskerm en nie veel ag slaan op die werklikheid nie.
Bewerings van demokratiese verkiesing en die meerderheid is reg, word vryelik gemaak, maar – demokrasie beteken immers volksregering. Vergeet maar die onnodige ingewikkelde soorte kleinlike demokrasieë wat nie vryheid beteken nie. Kyk na die geheelbeeld. Minderheidvolke het minderheidstemme. Daar is geen manier waarop hulle hul aansprake of selfbeskerming met stemming kan bewerkstellig nie.
O ja, daar kan hof toe gegaan word om die saak te besleg. Hofsake is egter baie duur, selfs onbekostigbaar en moet soms in gevalle van uitstekende meriete links gelaat word. Geld is dus deurslaggewend in so 'n geval en nie die vryheid om regverdig verhoor te word nie. Buitendien kan 'n saak slegs in die hof beveg word as dit ongrondwetlik is en nie omdat die minderheid 'n vrye keuse probeer uitoefen nie.
Wie betaal die regskostes? Die minderheidvolk moet sy eie kostes dra en as belastingbetalers (insluitend die minderheid) moet ook nog bydra tot die staat, provinsie, munisipaliteit of stadsraad se kostes al sou die betrokke owerheid sy saak verloor. Is dit regtig demokraties? Wat van die verantwoordelikheid van die besluitnemers wat die owerheid se fondse en geriewe gebruik?
Van die lede van die meerderheidregering het al in die parlement gekla dat Suid-Afrika nie deur hulle regeer word nie, maar deur die howe van die land. Minderheidpartye het hulle al dikwels tot die howe gewend om reg en geregtigheid te probeer bereik. As die regeerders hulle voorbereiding deeglik doen en die minderheid in ag neem, sal hofsake skerp afneem.
Daar word voortdurend gepraat oor versoening. Selfs met opregte bedoelings is dit uiters moeilik om versoening toe te pas omdat die onderskeie volke se begrip daarvan wyd van mekaar verskil. So sal een volksgroep tot betogings en optogte oorgaan om hulle siening aan te dui, terwyl 'n ander volk eerder skriftelike vertoë rig wat minder opsigtelik, minder aanskoulik is. Die owerheid maak nie maklik die omvang van skriftelike versoekskrifte bekend nie. Al sou heelwat meer handtekeninge ingedien word as die getal betogers wat deelneem, word dit om verdedigingsredes nie vergelyk nie. Eie siening gaan maklik oor tot oorheersing as 'n verdedigingswerktuig.
Wat is die oplossing in 'n veelvolkige land? Elke volk moet die reg verkry om homself te regeer in vreedsame naasbestaan. In die verlede is hierdie uitgangspunt meermale bewys. Onder meer Lesotho, Swaziland en Botswana beleef nie hierdie soort spanning nie omdat hulle selfregering het. Die Transkei en Bophuthatswana was uitstekende voorbeelde van sukses totdat dit doelbewus en afdwingend omgekeer is. Selfregering met wedersydse heil, maar samewerking tot almal se voordeel is die grondslag vir vrede en ontwikkeling.
Lesotho is alkant binne die grense van Suid-Afrika geleë en bestaan as 'n aparte land en volk. Die buiteland wou nooit die selfregering en uiteindelike onafhanklikheid van die swart volke in Suid-Afrika erken nie, maar sou heftig beswaar gemaak het as Lesotho by Suid-Afrika ingelyf is. Hulle sal nou ook heftig beswaar maak as Suid-Afrika Lesotho met geweld probeer inlyf. Tog was hulle daarteen dat Transkei en Bophuthatswana ook soos Lesotho apart leef. Hierdie twee volke was met goedkeuring van die groot moondhede met geweld by Suid-Afrika ingelyf. Hoekom keur die buiteland apartheid vir Lesotho goed, maar nie vir die ander volke in Suid-Afrika nie? Swaziland en Botswana leef ook apart.