VOLKSREGERING (28)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

Dirk  Denker

 MEER  VALSHEDE

Dat die blankes Afrikaans gebruik om swartes uit te sluit is ewe onwaar. Hoe, waar, wanneer en waarna verwys die spreker, want geen nadere besonderhede is verstrek nie.  Moet Afrikaanssprekendes hulle taal verloën?  'n Taal wat tans in die grondwet beskerm word?  Engels is ook blankes se taal, maar daarteen word geen beswaar geopper nie.

Ook is gesê dat die land (Suid-Afrika) na sy wettige eienaars teruggebring moet word. Nou is die vraag wanneer die blankes se regverdige deel, soos tussen die Wes-Kaap en die Kei-rivier, die deel wat Dingaan in 'n wettige transaksie aan die Voortrekkers verkoop het en verskeie ander wettig verkreë grondgebiede, erken en aan Afrikaners teruggegee gaan word. Blankes is ook wettige grondeienaars. Wanneer gaan die swartes onder andere uit die Wes-Kaap onttrek?

Daar is gesê dat dr Verwoerd beweer het dat daar geen waarde in is om 'n swart kind in wiskunde of wetenskap te onderrig nie omdat hulle dit nooit nodig sal kry nie. Waar is enige getuienis dat hierdie valse bewering waar is?  Dit word verswyg. Baie mense glo die onware bewering sonder dat dit ondersoek is. Hoe sal 'n man wat  "Skep jou eie toekoms"  uitgedra het, hindernisse op die pad stel?

Ook is gesê dat apartheid 'n gemors nagelaat het sonder dat daarop uitgebrei word. So 'n wilde bewering kan nie net aanvaar word asof dit 'n feit is nie.  Terselfdertyd is beweer dat apartheid ontwerp was om blankes te bevoordeel  –  in wie se grondgebied?  Blankes was juis verbied om swart volke se grondgebied te oortree met die doel om alle volke te beskerm. Dat die onderskeie volke gedwing was om hulle in bepaalde grondgebiede te vestig, is waar, maar net so was die blankes gedwing om hulself in 'n bepaalde grondgebied te vestig en in swart gebiede belet. Vaaghede en skewe voorstellings skep net onsekerhede wat gewoonlik onwaar is en bevestig niks.

Dieselfde spreker meld dat die swartes nou (in 2017) dieselfde regte en vryheid (as die blankes) het, maar dat die gehalte van swartes se lewens steeds minderwaardig is. Blankes was glo verbied op enige voordele in die tuislande. Wat word hiermee bedoel?  Dit was mos die swartes se voordele in hulle eie hartlande. Wie was die afgelope 24 jaar verantwoordelik vir die swartes se ontwikkeling in lewenstandaard?  Hierdie bewering is verdagmaking. Hul eie mense regeer die land.

'n Ander spreker van dieselfde politieke party het op dieselfde dag gesê dat (die sogenaamde) Vryheiddag gaan oor terugblik van hoe ver die regering gevorder het. Suid-Afrika is in 2017 glo 'n oneindig beter plek om in te leef as wat dit in 1994 was. Dit bots met die paragraaf hierbo en die huidige regering se verantwoordelikheid. Wat van die oorvol tronke, talle meer ernstige misdade, verswakte (rand)geldstelsel, afgradering van Suid-Afrika se finansiële betroubaarheid, duurder lewenskoste, werkloosheid, ontwrigting van opvoedkundige instellings, en nog veel meer. Vergelyk dit met voor 1994 om perspektief te kry. Ons leef dan in tronke agter tralies in ons eie huise wat voorheen vreemd was.

Daar is ook gesê dat die swartes nooit verskoning moet maak vir die regstel van wat onder apartheid verkeerd gedoen was nie. Daar word egter na niks verwys om die verkeerd van apartheid te bevestig nie. Sodanige bewerings wat in die lug hang, hou geen water nie, maar dra 'n vals boodskap van verkeerdhede wat nie bestaan nie. Hoe meer dieselfde gerugte herhaal word, hoe meer mense van alle volke begin dit glo terwyl hulle nie weet wat die korrekte feite is nie.

Wat skok is dat dr Willem Nicol in 1998 die vraag gestel het hoe die Afrikaner uit die sware las kan kom, met verwysing na die Afrikaner se skuld deurdat hy apartheid toegepas het. Prof Christof Heyns het aan die hand gedoen  "So kan die Afrikaner weer sy selfrespek terugkry."  Hulle gaan van die standpunt uit dat die Afrikaner ongetwyfeld skuldig staan. Dit is bog omdat apartheid juis die enigste regverdige politieke bedeling is vir enige volk, hetsy klein  in  getalle  of  groot. Die probleem is dat hierdie geleerdes nie insien wat apartheid behels nie omdat hulle deur kommunistiese sienings beïnvloed is.

Hierdie valse bewerings word net gemaak om die Afrikaner te breinspoel, soos kommuniste te werk gaan. Dit word so dikwels in die pers en oor die radio herhaal asof dit 'n feit is, maar dit bots met die werklikheid. Ons mag nie gebreinspoel word met bewerings oor skending van menseregte wat nie bestaan nie. Jongmense van alle volke, veral die wat na ongeveer 1985 gebore is, moet die korrekte feite grondig ondersoek en by ouer mense navraag doen voordat hulle valse bewerings glo.

Aanhoudende bewerings dat 'n minderheid blankes tot 1994 in Suid-Afrika regeer het, skep ook 'n skewe wanindruk. Om te herhaal:  Groot eie gebiede vir die onderskeie volke binne Suid-Afrika se grense, was openlik voorsien vir Lebowa, Bophuthatswana, KwaZulu, Transkei, Ciskei, KaNgwane, Gazankulu, Venda en KwaNdebele. Dit was waar die volke oorspronklik en tradisioneel gewoon het en dit was hulle selfgekose hartlande. Geleidelik sou daardie reeds volwaardige lewensvatbare en vrugbare gebiede vergroot word soos die onderskeie volke dit kon behartig en soos hulle behoeftes toeneem.

Die blankes was slegs voogde totdat die onderskeie volke hulself waardig en met vertroue kon regeer. Dr Verwoerd het op 5 Desember 1950 al verklaar die blanke glo in heerskappy in sy eie gebied en heerskappy van die Bantoe in sy gebiede.

'n Swart raadslid vir Pretoria het in 2013 te kenne gegee dat Jan van Riebeeck aan Pretoria sy naam gegee het sonder om uit te vind aan wie die grond behoort. Jan van Riebeeck was in 1652 tot 1662 goewerneur aan die Kaap en Pretoria het sy naam in 1855 ontvang. Het Jan van Riebeeck regtig so oud geword?  Valshede!  Die sprekers is nie eens skaam vir hulle leuens of onkunde nie.

Uiteraard is apartheid ingeweef in alle volke se strewe na onafhanklikheid. Dit bevat geen meerderwaardigheid of onderdrukking nie soos kwaadwilliges probeer voorgee. Dit is juis erkenning van elke volk se regte en die skepping van ruimte om daardie regte te beoefen en ongehinderd uit te leef.