VOLKSREGERING (29)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

Dirk  Denker

BELANGRIKHEID  VAN  GELOFTES

Prediker 5:3 en elders – As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe het.

Jan van Riebeeck het twee jaar na sy aankoms in die Kaap op 6 April 1654 die volgende gelofte afgelê:

"Waar dit vandag die tweede verjaarsdag is van die dag waarop ons deur die HERE gelei, met die skepe Drommedaris, Reyger en De Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters [Here XVII – die Direkteure van die VOC] te bou en te bestendig, en opgelet dat God die HERE alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot 'n vasblywende dank– en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word."

Hierdie gelofte wat Jan van Riebeeck (stigter van en namens ons volk) afgelê het om 6 April as 'n dank– en bededag te vier, moet nagekom word, sowel as die toepassing van die beginsels wat hieruit voortgevloei het. Alle blanke bewoners van die Kaap, asook die latere aankomelinge, het die gelofte onvoorwaardelik vir hulself en hul nageslag aanvaar. Dit was al die jare deurlopend 'n ingestelde vakansiedag vir hierdie doel.

Die huidige regering misgun egter die Afrikaner hierdie gelofte deur die heilige dag as vakansiedag af te skaf wat niks anders is nie as onderdrukking van godsdiens. Dit is elke Afrikaner se plig om hierdie dag as 'n dankdag te aanvaar, al word dit deur 'n volkvreemde regering misken. Hier kan ons kerke 'n belangrike rol speel deur 6 April weer as 'n bededag in te stel en minstens in die aand 'n erediens te hou om die dag gepas te gedenk.

Alle nuwe inwoners wat hulle hierna in die huidige Suid-Afrika kom vestig het, het die gelofte vrywilliglik met erns aanvaar. Die ganse Afrikanervolk is aan hierdie gelofte gebonde met die verantwoordelikheid om dit na te kom. Dit is ook so deur die Voortrekkers en ander Afrikaners wat na ander dele van die land verhuis het, aanvaar. Teen hierdie agtergrond het 'n volk met 'n eie taal, eie beginsels, lewensbeskouing, denk– en lewenswyse tot stand gekom. Nuwe inwoners het hulle daarby aangepas en daaruit het die Afrikanervolk ontstaan. Jan van Riebeeck was die vader en stigter van die nuwe volk met doelbewuste uitsluiting van rasvermenging. Valse bewerings dat Jan van Riebeeck geen apartheidmaatreëls ingestel het nie, is doelbewuste leuens.

Nog 'n gelofte is later jare deur die Voortrekkers afgelê toe hulle onder bevel van Andries Pretorius teen die vyandige Zoeloes opgetrek het om hulself te verdedig. Let wel, dit het net om verdediging en selfbeskerming gegaan na onsinnige aanvalle deur die Zoeloes.

Die Voortrekkers het Andries Pretorius onvoorwaardelik vertrou en tot op die letter saamgewerk. Maar hulle vertroue was grotendeels op die Here soos bewys deurdat hulle vooraf die gelofte elke dag afgelê het. Dit bind alle Afrikaners soos verduidelik deur ds Mossie van den Berg, prof Adriaan Pont, prof VE d'Assonville, prof J P Oberholzer, prof Ben Engelbrecht, dr J M G Storm, prof Schalk Botha, ds H J Botes en ander. Daaroor bestaan geen twyfel nie. Die genoemde wyse here en ander is immers diepdenkers wat onvoorwaardelik geglo kan word. Terselfdertyd bevestig dit Bybelse apartheid soos deur God ingestel.

Daar bestaan drie weergawes van die Gelofte van 1838 soos agterna deur ooggetuies onthou, maar die verskil tussen die drie is baie gering en beteken in wese dieselfde. Die weergawe wat meer algemeen aanvaar word, word weergegee.

DIE GELOFTE VAN 1838

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde

om 'n gelofte aan Hom te doen dat,

as Hy ons sal beskerm

en ons vyand in ons hand sal gee,

ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag

soos 'n Sabbat sal deurbring,

en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig

waar dit Hom behaag,

en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat

hulle met ons daarin moet deel tot

nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte,

want die eer van sy Naam sal verheerlik word

deur die roem en die eer van oorwinning

aan Hom te gee.

 Ons weet dat God se roem en eer deur die hele wêreld weerklink het omdat Hy vir die oorwinning gesorg het. In die volgende aflewering word vervolgens verduidelik van watter waarde die gelofte van die Voortrekkers vir die res van Suid-Afrika was en is en hoekom alle volkgenote aan die Gelofte van 1838 gebonde is. Ook ander volke het voordeel hieruit verkry.