VOLKSREGERING (31)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

Dirk  Denker

AFRIKANERS  SE  VOLKSLIED

Die Afrikaners se volkslied is bevestiging van die vorming van die eie volk en sy geskiedenis en die eenwordinggevoel. Vertel ons ouers nog ons kinders wie DIE STEM van Suid-Afrika gedig het, wie dit getoonset het en wat die bewoording en betekenis daarvan is?  Dit is ons plig.

Gelukkig ken byna almal hierdie pragtige lied wat wêreldwyd as een van die beste volksliedere ooit beskou word. Miskien moet DIE STEM en ander volksliedere weer in 'n klein boekie gedruk en versprei word sodat ons Afrikaners in woord en daad Afrikaners kan bly. Ja, dit is in die FAK se sangbundel opgeneem, maar dit is so 'n omvattende werk dat dit moeilik is om rond te karwei. 'n Klein boekie van miskien tien of twaalf van ons mooiste volksliedere met die note daarby kan onder ons mense versprei word teen 'n geringe koste.

Dit is werklik die morele plig van ouers om DIE STEM van Suid-Afrika aan hulle kinders te leer en die betekenis daarvan te verduidelik, want dit is die Afrikaner se eie trots wat 'n uitsonderlike betekenis vir die volk het. Ken jy nog die vier verse?  Dit is nie sommer net 'n volkslied nie, groot wysheid is daarin saamgevat wat dit 'n waardevolle volksverhaal maak en klink asof dit vertel word.

C J Langenhoven het sy huis op Oudtshoorn die naam Arbeidsgenot gegee. Dit pas goed in by sy spreuk:  Jy moet swaarkry met lekkerkry klaarkry. Daar het hy die eerste drie verse van DIE STEM van Suid-Afrika op 30 en 31 Mei 1918 gedig. Die woorde is allerweë geprys en Langenhoven het 'n ope wedstryd aangekondig om 'n geskikte melodie te kry. Intussen het 'n vierde vers bygekom. Talle goeie komponiste het hul pogings aan Langenhoven voorgelê, maar hy was op gehalte en passing gesteld en eers na ses jaar het hy die toonsetting van ds M L de Villiers aanvaar.

Die lied was dadelik gewild, maar veral nadat dit in 1924 in die Groote Kerk in Kaapstad gespeel is, het dit by almal inslag gevind. Nadat dit op 31 Mei 1928 by die eerste hysing van die volksvlag gesing is, het die volk DIE STEM, soos dit in die volksmond bekend staan, as sy eie aanvaar en het dit 'n landwye simbool geword. Die rede hiervoor is omdat dit 'n treffende beskrywing van ons geskiedenis en geloof en standvastigheid is. Daarby is die melodie treffend.

So gewild het DIE STEM geword dat Engelssprekendes daarop aangedring het dat hierdie pragtige volkslied ook in Engels vertaal moet word. Die vertaling is op 5 April 1952 as deel van die Van Riebeeck-vierings in Kaapstad vir die eerste keer gesing. Hoewel die Engelse bewoording treffend is, het dit gebruik geword om DIE STEM op groot en openbare byeenkomste in Afrikaans te sing.

DIE STEM is die Afrikaner, en die andertalige blankes wat hulle daarmee vereenselwig, se volkslied. Daar bestaan nie 'n sogenaamde gesamentlike volkslied in Suid-Afrika nie omdat hier nie 'n gesamentlike volk bestaan nie, dog verskillende volke wat van mekaar te onderskeie is. Daar kan tog nie 'n  "verskeie volkslied"  vir verskeie volke wees nie. 'n Volkslied is immers 'n weerspieëling van dit wat eie aan een volk is en wat noodwendig van ander volke se beginsels, geskiedenis en sienings verskil.

Dat een vers van DIE STEM na 1994 by die kunsmatige Suid-Afrikaanse  "landlied"  ingevoeg is, is geveins en pas nie. Die eerste vers van DIE STEM het regstreeks op die Voortrekkers betrekking terwyl die res van die nuwe  "landlied"  niks met ons voorouers of geskiedenis te doen het nie. Geen ander volk het die ossewa gebruik nie. Suid-Afrika het nie 'n volkslied nie. Een of ander tyd sal die eerste vers van DIE STEM weggelaat word omdat die ossewa slegs op Afrikaners betrekking het. Dit is ook slegs 'n kenmerk wat Afrikanergeskiedenis aandui.

Die blankes se volksvlag is doelbewus nie in die nuwe onwelkome "landvlag"  ingesluit soos met die lied misluk is nie. Dit dui op doelbewuste valsheid om die skyn van eenheid te skep. Miskien sal enige wit uit die vlag weggelaat word.