Dirk Denker
Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
DIE STEM VAN SUID-AFRIKA
Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,
Deur ons vêr-verlate vlaktes met die kreun van ossewa –
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou Suid-Afrika.
In die merg van ons gebeente, in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees,
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf –
Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trou ons af.
Vaderland! Ons sal die adel van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners – kinders van Suid-Afrika.
In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou,
By die klink van huw'liks-klokkies, by die kluitklap op die kis–
Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit nee nie, sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe – ja, ons kom, Suid-Afrika.
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer –
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.
Hierdie volkslied spreek uit hart en siel van 'n volk se geestesgoedere en kan nooit met of deur ander volke gedeel word nie. Dit is die stem van ons mense.
NOG 'N ROEPSTEM
Daar bestaan nog 'n STEM wat in Suid-Afrika wortelgeskiet het en wat die Afrikanergelofte van 1838 weerspieël. Hierdie lied vorm deel van ons geskiedenis, kultuur en geloof en nakoming van die gelofte wat aan God gemaak is. Dit word onder meer jaarliks in Afrikaanse kerke gesing.
Die Gelofte (1838)
Wysie Psalm 42 – Berym deur dr Louw du Toit
Broers en medelandgenote,
voor die heilig-grote God
van die hemel en die aarde
saam vergader om ons lot
biddend in sy hand te gee –
waar ons smekend voor Hom tree,
sien ons met geloof na Bowe
as ons aan ons God belowe:
As U ons die dag beskerm,
in ons hand die vyand gee,
ons die roem vir die oorwinning
en die eer aan U sal gee,
ons vir U 'n huis sal bou
en ons kinders laat onthou
steeds die dag met Sabbatswyding
U te loof vir ons bevryding.
Ons kan gelukkig wees dat ons voorouers hulle gelofte nagekom en 'n huis vir God in Pietermaritzburg gebou het. Ook word die gelofte steeds deur ouers aan ons kinders oorgedra. Hierdie oordrag word al hoe noodsaakliker omdat die Afrikanergeskiedenis wat by staatskole aangebied word, al hoe meer afgewater of heeltemal afgemaak word. Dit is 'n oortreding van die gelofte wat op ons almal van toepassing is.
Die Gelofte van 1838 word elke jaar op 16 Desember by alle Afrikaanse kerke of ander stigtelike byeenkomste herdenk in nakoming van ons voorouers se gelofte wat aan ons oorgedra is en sodat kwaadwillige volkvreemde breinspoeling teengewerk word. Hierdie dag is vir ons Afrikaners 'n Geloftedag en nie 'n versoeningsdag om 'n doodloopspoor te skep nie.