VOLKSREGERING (39)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

AFRIKANER  VOLKSHELDE

Daar was soveel uitmuntende figure in Afrikanergeledere dat talle boeke oor hulle geskryf kan word. Dit is nie net generaals of presidente of mense met hoë range wat daarby ingesluit is nie. Dink maar aan die klomp Afrikanervroue wat na die Vryheidoorlog en sonder plaashulp ploeg getrek het by gebrek aan trekdiere en wie se name almal aangeteken moes gewees het. Diep ploegvore trek is moordend. Hulle mans was nog krygsgevangenes. Wat van die mans en seuns wat opgetekende en onopgetekende heldedade verrig het?

Danie Theron was 'n man wat in sy militêre loopbaan van net omtrent een jaar onsterflike roem verwerf het. J H Breytenbach skryf dat Danie Theron alles wat hy aangepak het, "deurgedruk het met 'n taaie volhardingsvermoë en 'n dryfkrag wat vir niks gestuit het nie, wat ook al die gevolge vir homself mog wees".

Net voor die Tweede Vryheidoorlog besoek Danie die redakteur van The Star in Johannesburg en eis 'n verskoning van hom oor 'n eensydige artikel in sy koerant. Op die redakteur se weiering, slaan hy hom blou-oog en word 'n boete van £20 opgelê. Die hoë boete is onmiddellik deur Afrikaners betaal. Hierna het Danie volkgenote gewerf vir die stryd teen die Britte wat onvermydelik geraak het. Hy het gewild geword en vaderlandliewende burgers het na hom as 'n leier opgesien. Met sy meesterlike beplanning en dade het hy gou vrees by die Britte ingeboesem.

Hy sluit by genl Louis Botha aan wat later verklaar:  "Hy was as soldaat gehoorsaam en trou, as offisier onverskrokke en bekwaam, as krygsman 'n held. Nooit het ek iemand ontmoet wat meer deurtastend te werk gegaan het, wat opgewekter 'n moeilike taak volbring het nie, hetsy as leier, as spioen, of as aanvoerder by 'n aanval. Die woord  'nee'  het Theron nooit geken nie. Wat aan hom opgedra is, het hy gedoen. Transvaal het geen dapperder man opgelewer nie."

Sedert Februarie 1900 bevind Danie Theron hom, met sy verkennerskorps, by genl De Wet waarna hy spoedig tot kommandant bevorder is. Genl De Wet was in 'n groot mate van Danie se vermoë afhanklik om te weet waar die Britse magte hulle bevind het. Genl De Wet het gesê: "Danie Theron het aan die hoogste eise van 'n krygsman beantwoord". Sy heldedade in so 'n kort tydperk tot met sy dood in September 1900 was soveel dat J H Breytenbach 'n biografie oor sy suksesse kon skryf.

Nog 'n uitstekende rapportryer was Jopie Fourie. Ongelukkig is hy in Oktober 1901 deur 'n Tommie in sy bobeen getref en moes hy deur die vyand se dokters behandel word om sy lewe te red. Hy was daarna mank vir die res van sy lewe en tot na die oorlog 'n gevangene.

Tydens die Rebellie in 1914 het Jopie hom by genl Beyers geskaar wat gesê het dat dit nie hulle bedoeling was om te rebelleer nie, maar net om vreedsame protes aan te teken teen hulpverlening aan Brittanje wat die Boere soveel lyding aangedoen het. Nogtans het die regeringsmagte in opdrag van genl Louis Botha hulle aangeval en moes die sogenaamde rebelle (protesteerders) hulself verdedig. Jopie is gevang en 'n krygshof het, ten spyte van besware dat dit onwettig saamgestel was, besluit dat hy die volgende oggend voor 'n vuurpeleton moes sterf.

Genl Smuts het enige betrokkenheid vermy, ontwyk. Tot vandag toe word dit as 'n ongeregverdige vergryping beskou. Handtekeninge en 'n afvaardiging uit hoë kringe het hy 'n dag lank laat wag sodat dit te laat geword het om Jopie te red.