VOLKSREGERING (47)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

STANDVASTIGHEID

Vir die Afrikanervolk is sy geskiedenis uiters belangrik omdat hy daaruit die ervaring van sy voorouers put. Hulle standvastigheid in onsterflike geloof en alles wat belangrik vir hulle was om 'n eerbare lewenswyse aan hulle nageslag na te laat, is beginsels waarop almal trots is. Selfs die sterkste buitelandse moonthede had respek vir die dapperheid en voorbeeldigheid van die Afrikanervoorouers. Afrikanerleiers was nie net leiers in hulle tyd nie, maar leiers vir alle tye. Vooruitsigte wat hulle tot 'n honderd jaar gestel het, het tot op die letter waar geword.

Die Afrikaner leef nie net op sy geskiedenis en verlede nie. Hy is ook man van die toekoms en sien geen verlore stryd nie, maar redding in die toekoms wat verseker weer gevind sal word al dink teenstanders dat hulle gewen het. Dit is in 'n tydvak van tydelike terugslag wat hom sterker met sy volkgenote laat saamwerk om te bou waar afgebreek was. Daarin is die Afrikaner vergestalt. Hy openbaar nie haat of nyd nie, maar steek voortdurend 'n hand van vriendskap en vrede na enigeen uit, selfs as daardie een sy hand wegklap. Die hand van vriendskap is nie 'n teken van nederlaag nie, maar van oorwinning in gees en bewaring van wat volkseie is met die oog op 'n toekomstige oorwinning wat nog altyd behaal was, selfs teen die sterkste moondheid van sy tyd.

Vir die Afrikaner is daar rede om voor te lewe en voor te sterwe. Die beloning is 'n erfenis vir sy nageslag wat hom tot die hoogste punt ophef en deur sy nageslag met diepe onsag waardeer word. In die verloop van sake word geweld slegs gebruik wanneer dit noodsaaklik raak om uitwissing te verhoed en hul siel van ondergang te red. Op hierdie manier is sy volk se siel onsterflik met die uiteinde dat die toekoms aan sy volk behoort.

GLO  IN  JOUSELF

Geloof is om te glo. Onwrikbaar te glo. Te aanvaar jy kan enigiets bewerkstellig. Gewoonlik dink mense aan die begrip van geloof binne godsdienstige verband en nie vanuit binne die mens se persoonlike ruimte nie. Godsdienstige verband en persoonlike denke is twee verskillende begrippe. Dit is vir 'n gelowige 'n moet om binne godsdienstige verband te glo. Om ook in jouself te glo, te glo dat jy gewone daaglikse take uitstekend kan verrig en die vermoëns het om dit te kan doen, is 'n moet om jouself te handhaaf. Dit is nie selfverheerliking nie. Geloof in jouself en godsdienstige geloof het elkeen sy regmatige plek, aanvullend tot mekaar. Geloof in God eerste en dan geloof in jouself. Net geloof in jouself is hier ter sprake.

Opvoedkundige inrigtings en werkplekke verkondig spanwerk as vaardighede wat 'n suksesvolle toekoms verseker. Glo aan die krag van die ons en nie die ek nie, is die stemverheffing. Jy is blykbaar van ander se denke en samewerking afhanklik om te kan presteer. Is dit dan enigsins vreemd dat ons in 'n samelewing leef waar so baie mense bewondering het vir enkelinge wat presteer?  Samewerking is goed, mits jy ook weet wie jy is en waartoe jy in staat is. Jy kan enige tyd net so goed en selfs beter as die bestes presteer in sfere waarin jy belangstel. Met geloof in jouself kan jy wondere verrig.

Sangers en filmsterre gee raad oor bepaalde sake, al is hulle nie toegerus om kenners op daardie gebied te wees nie. 'n Mooi onkundige meisie weet meer van motorkarre as 'n deeglik opgeleide motorwerktuigkundige of knap meganiese ingenieur, daarom word sy by 'n nuwe motor afgeneem en 'n koper glo haar, want die verkope styg. 'n Baba weet beter as 'n ma oor wat die beste doekwasmiddel is. Hy vertel dit in advertensies met klank of gebaar en verkope styg. Dit is geen geloof in jouself nie, maar geloof in of aanvaarding van propaganda, hetsy korrekte feite of nie.

Jy het 'n keuse. Jy kan in jou eie vermoëns glo en self doen, of jy kan agteroor sit en net asemhaal. As jy nie doen nie, wat is die nut van die geloof in jouself dan?  Daarby, as jy nie dadelik doen nie, wanneer gaan jy iets bereik?  Nadat jy die aarde verlaat het?  Glo en doen, bepaal jou sukses slegs as jy tot die daad oorgaan. Om ander af te takel is afbrekend en bring geen sukses nie. Jy moet hierdie oortuigings uitleef en saamwerk.

Om sukses te behaal moet jy toegewyd werk, hard aan jou oortuigings werk, anders kan jy nie suksesvol wees nie. 'n Toeskouer of iemand wat net af en toe 'n handjie bysit, bereik niks noemenswaardig. Vind uit hoeveel ure werk suksesvolle mense elke dag. Hulle is nie geseënd met 'n gawe wat sommer vanself sukses bring nie. Alle mense is met dieselfde vermoëns gebore; soos om te kan loop, praat, skryf en dink. Glo ook in jou volkgenote en ondersteun hulle met jou vermoëns.

Die mens leer by onderrig-instellings oor biologie, fisika, chemie, ingenieurswese, ekonomie, staatsleer en nog wat. Tog is die belangrikste vakgebied ons denke. Leer hoe die mens en jou eie denke funksioneer, oogfunksies en die invloed daarvan op denke, of klank (gehoor) se invloed, hoe die aard van konsentrasie by omstandighede aanpas, watter uitwerking dryfvere op vermoëns het, hoe tegnieke in verskillende dissiplines toegepas word. Groot is die genoegdoening om vir jou volk se bestaan te werk en nie willoos te wees nie.