VOLKSREGERING (48)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

AFRIKANERS  KAN  SAAMWERK

Sommige Afrikaners, gelukkig 'n klein minderheid stilsittende slimjanne, beweer dat ons mense nie kan saampraat en saamwerk nie. Ons verskil glo gedurig van mekaar en is sommer net dwars. Kyk net hoe ondersteun ons volkgenote verskillende politieke partye. Dieselfde mense glo egter teenstrydig nie in 'n eenpartystaat nie, want dan is daar te veel mag in die hande van een party wat geen teenstand het nie.

Wat gebeur onder ander volke in ander lande? 

By alle volke is daar verskillende politieke partye wat mekaar die stryd aansê. Noem Engeland, VSA, Frankryk, Duitsland of watter land ookal bestaan. In al hierdie lande is daar minstens twee groot politieke partye wat deur verdeelde volkgenote ondersteun word. Die bevolking verskil oor buitelandse beleid, ekonomie, belasting, gesondheiddienste, welsyn, en so meer. Waarom is dit skielik verkeerd as ons van mekaar verskil?  Dit is normaal.

Wanneer dit egter by ernstige gemeenskaplike doele kom soos beskerming van ons volk, ons taal, kultuur en sedes, behoort ons saam te staan in die stryd. Dan is ons 'n volkbeweging. In hierdie opsig stem ons saam, maar 'n slimjan wil net voorskryf en glo dat niemand van hom mag verskil nie, want net hy is reg. In die verloop word maklik ongeregverdig verkondig dat ons nie 'n leier het nie, net omdat onderskeie volkgenote verskillende benaderings het. Ons het goeie leiers, ons moet hulle net erken. Die saak of doel moet belangriker wees as enige persoon. Moenie afkraak of op persone ingestel wees nie, want dan is jy 'n brompot sonder 'n deksel.

Mense neem leiding op alle terreine van die lewe, en nie net vanuit die voorgestoeltes nie. Wat help dit as daar goeie leiers is op watter terrein ookal, maar daar waar die steun vandaan moet kom, is die samewerking of volgelingskap nie reg nie?  Dit is die kweking van 'n gesonde gees in die volk wat tot oorwinning vir die volk lei. Leiers se groot funksie is bo alles dienaars van volkgenote. Hulle span hulle werkkragte en dinkkragte in om dienaars van die volk te wees.

Mense wat sê dat ons nie saamwerk nie, is juis diegene wat nie wil saamwerk nie. Iemand kan reëlings tref sodat ons vir 'n bepaalde doel bymekaar kom en uit die geledere van die teenwoordiges 'n komitee saamstel wat uitvoering aan die besluite gee. Elkeen kan dus self deelneem aan die verkiesing van 'n leier. Dit is egter 'n uitgemaakte saak dat diegene wat beweer dat ons mense nie kan saamwerk nie, sal wegbly in plaas daarvan om saam te werk, vol verskonings. Dit herinner aan die gelykenis in Luk 14: 16-24. Maak seker dat jy saamwerk en nie doelloos rondsit nie.

Wat kan jy doen om te help?  Woon volkbyeenkomste by soos gedenkfeeste op Majubadag (27 Februarie), Stigtingsdag (6 April), Republiekdag (31 Mei), Afrikaanse Taaldag (14 Augustus), Krugerdag (10 Oktober) en Geloftedag (16 Desember). Dit is op hierdie feeste waar ons Afrikaners ons geskiedenis herdenk, ons geloftes nakom en mekaar geestelik versterk. So ontmoet ons opregte Afrikaners mekaar en van ons leiers wat deursettingsvermoë het.

Waar die liefde, geesdrif en ywer vir volkfeeste in jou omgewing getaan het, kan jy die organiseerders help deur jou dienste beskikbaar te stel of self leiding neem om daadwerklik by te dra.