VOLKSREGERING (49)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

 VOLKSLIED

Wat is 'n volkslied?  Dit is 'n gewilde, eenvoudige lied wat in die volk se mond lewe en wat by 'n volk se feestelike en plegtige geleenthede gespeel en gesing word, 'n lied van getrouheid en toewyding aan 'n volk. Die stem van 'n volk. 'n Volkslied is 'n lied wat diens doen as sinnebeeld vir 'n eie volk wat saamval met volkverband. Binne volkverband kan 'n volkslied ook geldig wees vir 'n volk sonder eie staat. Dit is saambindend binne die geledere van 'n aparte volk, bevestiging van apartheid in lande soos Duitsland, Nederland, Frankryk en Brittanje.

 

 

DIE STEM is 'n egte Afrikanervolkslied wat aan die hart van die Afrikaanssprekende ontspring het, en die gees van sy land adem op 'n wyse wat sprekend is van die rykheid van sy taal. Die volkslied getuig kortliks van geloof, toewyding, taal, geskiedenis en beskrywing van sy land. Geen ander Afrikanerlied of 'n ander volk se lied ewenaar DIE STEM nie. Voordat dit tot volkslied verklaar was, het dit 'n geesdriftige ontvangs geniet in die harte van Afrikaners, en deur hulle aangeneem as hulle volkslied en as die enigste Afrikaanse lied wat geregtig is op landwye erkenning as Volkslied.

In hierdie gevoel en eis was die Afrikaners destyds alreeds ten volle ondersteun deur 'n aansienlike gedeelte landgenote van wat bekend staan as die Britse gevoel in Suid-Afrika. Trouens, tot vandag toe word DIE STEM as een van die heel beste volksliedere in die wêreld beskou. Ná sy ingebruikneming is DIE STEM by elke amptelike geleentheid gesing. Op aandrang van Engelssprekendes is dit ook in Engels vertaal.

Nkosi Sikelel' iAfrika (Kôsa vir "God seën Afrika") is 'n gebedlied wat in Afrika en later in Suid-Afrika as kerkgesang en lied met politieke bybetekenis gebruik word. Dit is geen volkslied van enige volk nie. Nkosi Sikelel' iAfrika is die eerste keer in 1927 gepubliseer. Die lied is wêreldwyd bekend as 'n protes-sangstuk van verskeie protesgroepe gedurende wat voorgehou word as die apartheidtydvak in Suid-Afrika se geskiedenis. Jan van Riebeeck het apartheid egter al in 1652 alhier ingestel.

Aanvanklik is net die eerste vers en die refrein van Nkosi in 1897 geskryf en getoonset. Dit is gegrond op die wysie van die deuntjie Aberystwyth deur Joseph Parry ('n blanke van Wallis). Dit kom dus nie uit die kultuur van enige volk in Suid-Afrika nie. In 1927 is van die res van die verse bygeskryf, maar dit is as 'n kunsmatige daad van politieke verset voorgehou teen die latere apartheidregering (onbedoeld teen selfontwikkeling en selfregering).

Dit is nie 'n volkslied in die ware sin van die woord nie, maar 'n betogerlied of proteslied. Zambië, Tanzanië, Namibië, Malawi en Zimbabwe het dit eerste gesing voordat dit na Suid-Afrika oorgespoel het. Dit is dus nie 'n besondere volk se lied nie. Buitendien gaan die lied oor Afrika, die vasteland van Afrika ten noorde van Suid-Afrika, en sy volkere oor wie geen regering van Suid-Afrika enige beheer het nie. Dit word verkondig as gemik teen die apartheidregering wat in 1948 aan bewind gekom het, maar is reeds in 1897 geskryf met byvoegings in 1927.

Die woorde  "Seën ons Here God, seën Afrika", klink pragtig en goedbedoeld, maar dit het 'n duistere versteekte betekenis. Valse woorde met opsetlike valse bedoelings. Aanhitsende betogerwoorde. Buitendien verwys volkslied na 'n bepaalde volk soos DIE STEM na die Afrikanervolk verwys. Van watter volk getuig die sogenaamde Suid-Afrikaanse landlied in terme van geloof, toewyding, taal en geskiedenis wat deel van die vereistes van 'n volkslied is?  Selfs die ander volke in Suid-Afrika en die Afrikanervolk is beslis nie daarby ingesluit nie.