VOLKSREGERING (59)

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

Dirk  Denker

VERENGELSING

Sedert Engeland die Kaap vanaf 1806 beheer het, het die Engelse regering om politieke redes doelbewus gepoog om die gebruik en ontwikkeling van Afrikaans te verhoed. Reeds in 1813 is maatreëls getref om Afrikaans in te perk sodat algehele verengelsing kon plaasvind, waarskynlik om die sterk beginsels van die nuwe volk aan bande te lê. Verengelsing is in die kerk, howe en skole afgedwing, maar steeds het die Afrikaanse volk wat reeds vorm aangeneem het, met die destydse Afrikaans in hulle huise en ander gesprekke volhard.

Die toestand het egter ondraaglik begin word, in so 'n mate dat C P Hoogenhout uitgeroep het: "Engels! Engels! Alles Engels!  Engels wat jy siet en hoor; in ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor. Hollands nog in sekere skole is bedrog, 'n blote naam."  Daar was volkverset, 'n felle stryd om die Afrikanervolk uit die verbete wurggreep van verengelsing en gedwonge oorheersing te bevry.

 

Die Afrikanervolk wou sy siel bewaar en het Engels as die taal van slawe beskou. So sterk was die bewuswording van die Afrikanervolk dat hulle suiwer Hollands-Afrikaans begin praat het en alle Engelse woorde verwerp het. Hulle het trots geword op hulle selfstandige taal en daarmee saam hulle kultuur. Selfs halfgeskoolde Afrikaners het onomwonde besef dat taal– en kultuurverwaarlosing tot hulle ondergang sal lei. Trots het hulle suiwer Afrikaans vir vandag se nageslag bewaar.

Dit laat 'n mens dink aan die huidige toestand in ons skole, by regeringskantore, in howe en ook in kerke waar daar al hoe meer op listige wyse van ons taal, kultuur en Christelike geloof afgewyk word. In Bybelvertalings word vreemde Griekse en Latynse woorde opgeneem. Soos C P Hoogenhout kan ons ook sê,  "Afrikaans nog in sekere skole is bedrog, 'n blote naam". Gelukkig begin Afrikaners hierdie fyn sluheid in die hantering van sake in al hoe groter getalle raaksien en daarteen in opstand kom.

Ons voorouers het vinnig werk begin maak teen die verengelsingbeleid van die regering en het onafhanklike skole gestig waar Afrikaans, Afrikanerkultuur en godsdiensonderrig heringestel is. Weerstand is opgebou teen die regeringskole wat nie vir godsdiensonderwys voorsiening gemaak het nie. Dit was die taal van die Bybel en van die gebed en ons voorouers het nie aan hul godsdiens laat torring nie. Hulle het dit beklemtoon dat taal en volksbestaan nie van mekaar geskei kan word nie. As die taal verlore gaan, gaan die volk verlore.

Aan die einde van die agtiende eeu/begin negentiende eeu was mense in die algemeen minder gegoed as vandag en moes hulle groter opofferinge maak om te spaar en skraps te leef sodat hulle daardie geld kon gebruik om vir hulle kinders se onderrig in private Afrikaanse skole en onderwysers te betaal. Hulle het selfs halfnoodsaaklikhede ontbeer. Ons mooi moedertaal is, net soos ons geloof, mos nie met geld te koop nie. Hoe groter die leerlinggetalle, hoe goedkoper kon die onderwys aangebied word. So moet ons ouers nou ook optree en help.

As moedertaalonderrig in die skoolwese verlam word, word die volk met ondergang bedreig, want op skool word die seuns en dogters gevorm wat die volk moet voorgaan. Daardie jare is Afrikaans afgekraak deur dit uit te maak vir 'n kombuistaal, geskik vir halwe barbare, en Die Afrikaanse Patriot vir 'n ou blaadjie wat net goed genoeg is vir halfgeleerde mense. Afrikaanssprekendes het daarenteen nie probeer om Engels te beledig nie. Vanselfsprekend is geskiedenis in Engels vanuit 'n Engelse beskouing aan die kinders geleer. Om die stryd teen die beskuldiging van kombuistaal aan te knoop, is die eerste spelreëls vir Afrikaans laat in die negentiende eeu vasgelê.

Die ganse Afrikanervolk het 'n landwye beweging begin om Afrikaans tot sy reg te laat kom. Hulle volk– en taalgevoel het versterk. Belange wat hulle volk en taal benadeel het, het hulle op vergaderings bespreek en by verenigings aangesluit wat Afrikaans bevorder het. Almal het geesdriftig saamgewerk.

Elke Afrikaanssprekende, geleerde tot halfgeskoolde, het aangedring op regte om Afrikaans erken te kry by skole, kerke, handelsverenigings, staatsdepartemente, plaaslike regerings, banke, landbouvergaderings met die regering, en by algemene winkels. Afrikaanse boeke is doelbewus geskryf, gekoop, versprei en gelees. Niks sou ons voorouers keer nie.

Binne enkele jare kon hulle die vrugte pluk. 'n Vereniging is gestig met die hoofdoel om die gebruik van suiwer Afrikaans as spreek– sowel as skryf– en leestaal aan te moedig, en om groter liefde en waardering by ons volk daarvoor op te wek. Hieraan het een en almal deelgeneem. Wie nie leiding kon neem nie, het daadwerklik ondersteuning gegee. Samewerking was heelhartig.

Twee grondreëls van die taal was om so min as moontlik van vereenvoudigde spelling af te wyk en om volgens beskaafde Afrikaanse uitspraak te spel. 'n Taal moet so vry as moontlik van vreemde woorde en uitdrukkings gebruik word ten einde verbastering en uiteindelike verdwyning te bekamp.

Om eenvormigheid te verseker, is op 'n standaard Afrikaans besluit. Dit beteken landwyd dieselfde spelwyse, dieselfde betekenis van begrippe en dieselfde manier van uitspreek sodat daar geen verwarring kon ontstaan nie. Die standpunt het posgevat dat ons skryf soos ons praat.

Alle Afrikaanssprekendes van die Kaap af tot in Transvaal is hierin geken en die samewerking het spontaan plaasgevind. Niemand het dwars probeer wees nie. Ons mense kan saamwerk. Afrikaans is al op alle gebiede as 'n volwaardige taal gevestig en daarom hoef geen bewyse of oortuiging voorgelê te word nie. By baie ontwikkelde en vooraanstaande Afrikaners het dit mode geraak om suiwer Afrikaans te praat; 'n teken van trots en aansien en belangrikheid van die taal. Dit was 'n wonderlike eenvormige ervaring.