VOLKSREGERING (60)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

EERSTE  AFRIKAANSE  VOLKSLIED

Die eerste Afrikaanse Volkslied is met hart en siel opgestel. Geskryf deur A Pannevis en op 7 Julie 1875 gepubliseer. Op versoek is dit deur C P Hoogenhout, D F du Toit en S J du Toit "verbeter", en op 15 Januarie 1876 in die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot geplaas. Dit was te verwelkom, maar is nooit amptelik goedgekeur nie, waarskynlik omdat die taal nog aan die ontwikkel was. Net soos in die geval van ander aanvanklike uitvindings en geskrifte was dit baanbrekerswerk wat die denke van die destydse taalkundiges en patriotte weerspieël. W J van Gorkom het die lied getoonset. Hy was direkteur van onderwys in die Z A R.

Met die lied is gepoog en daarin geslaag om geestesvoedsel aan Afrikaners te voorsien en hulle op te wek tot eerbied vir hulle taal en volkstrots. Aan die wêreld is gewys dat Afrikaans 'n skryftaal is waarmee enige gedagtes uitgedruk kan word.

Hierdie lied begin met vaderlandliefde, en gaan in die tweede vers oor tot die taal, daarna na wetsorde binne 'n volk, regte van 'n volk, volkslewe en 'n volk se geloof. Dit weerspieël duidelik die beginsel van die Afrikaner en selfregerende volke dat elke volk afsonderlik sonder afsondering van die ander te onderskei is met hulle eie aard en leefwyse. Die weergawe hieronder is soos dit na hedendaagse Afrikaans omgesit is.

                                          

'N  AFRIKAANSE  VOLKSLIED

'n Ieder nasie het sy LAND!
Ons woon op Afrikaanse strand;
Vir ons is daar g'n beter grond
Op al die wye wêreld rond.
Trots is ons om die naam te dra
Van kinders van Suid-Afrika.

'n Ieder nasie het sy TAAL,
Ons praat van Kaap tot in Transvaal
Wat almal maklik kan verstaan,
Wat gaan die ander tale ons aan?
Ons praat soos Pa en Oupapa,
Die landtaal van Suid-Afrika.

'n Ieder nasie het sy WET,
Wat goed gebied en kwaad belet;
En elk se wet is na sy aard
En gaan met sy natuur gepaard:
So volg ons ook die sedes na,
Wat tuis hoort in Suid-Afrika.

'n Ieder nasie het sy REG,
Al is hy nog so swak en sleg.
Daar is een Oog wat alles merk,
Hy sit die onreg paal en perk.
Hy kyk ook ons verdrukkers na
En waak ook vir Suid-Afrika.

'n Ieder nasie het sy TYD
Om op te groei en af te slyt,
En soos ons liewe Heer dit doen,
So is dit altyd wys en goed.
Daar kom 'n dag vir ons ook, ja;
Vertrou op God, Suid-Afrika.

Want al die nasies het één GOD,
Hy reël ieder volk se lot;
Hy het vir ieder volk sy taal,
Sy land, sy reg, sy tyd bepaal.
Wie dit verag sal sy straf dra.
O God, beskerm Suid-Afrika.