VOLKSREGERING (61)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

GRONDSLAG  VAN  AFRIKAANS

Taal is die wese van 'n volk. Dit kan nooit oorbeklemtoon word nie. Wie die bestaan van Afrikaans probeer beveg, beweer dat toevoeging van vreemde woorde 'n taal laat ontwikkel. Dit is 'n gevaarlike uitgangspunt. Taalstryders weet 'n taal moet gebruik word soos 'n ambagsman wat trots is op sy werk. Almal het respek vir 'n meubelmaker wie se voeë netjies vertoon, 'n motorwerktuigkundige wie se werk gewaarborg kan word aangaande netjiese en betroubare resultate, en 'n tuinier wie se tuin pragtig en netjies vertoon. Iemand wat netjies Afrikaans praat en skryf word lof toegeswaai, openlik of in stilswye. Almal het eerbied vir hom of haar.

Wie poog om veral Romaanse woorde in Afrikaans op te neem, verloën die taal. Dit verryk kastig ons taal, maar het 'n afbrekende gevolg. 'n Mens kan nouliks 'n woordeskat van sowat 30 000 woorde bemeester. As die woordeskat meer uitgebrei word, raak dit werklik onhanteerbaar. Vakwoorde is nog nie eens hierby ingesluit nie. Toevoeging van Engelse en ander woorde laat die Afrikaanse woordeskat krimp.

Ook probeer taalafbrekers al hoe meer erkenning vir Romaanse woorde verkry wat dan kwansuis nie Engels is nie. Tog begin sodanige woorde die Dietse karakter van Afrikaans oorheers. Dan noem hulle dit vooruitgang, uitbreiding van die taal, vernuwing (nee, modernisering), kastig meer in pas met eenvormigheid op wêreldvlak om gesprekvoering moontlik makliker te maak. Romaanse woorde kom oorspronklik uit Latyn, maar word uit Engels na Afrikaans oorgedra. Dus is dit werklik Anglisismes anders sou ons dit nie geken het nie.

Dit is gewoonlik andertaliges en Afrikaanssprekendes met intervolkharte wat Afrikaans met woorde uit sogenaamde wêreldtale probeer bevorder, dog terselfdertyd wegbeweeg van die besondere eienskappe van Afrikaans, naamlik eiesoortig en beskrywend volgens volksaard. Afrikaans is nie 'n wêreldtaal nie, maar ons ryk taal.

Daar is in sommige kringe doelbewuste pogings om ons taal en dus ons volk te laat verdwyn. Hulle beweer dat Afrikaans nie bestaansreg het nie omdat dit kwansuis 'n  "inferieure detoriasie van originele superieure"  taal is wat saamgeflans is. So 'n drogredenasie laat die weg oop om alle tale in die wêreld saam te voeg en dit as Afrikaans te beskou. Die ergste van alles is egter dat die gewone Afrikaanse (Dietse) woorde in onbruik verval en alleen die vreemde woorde gebruik word. Is dit taalverrykend?  Dit is ontaarding van Afrikaans.

Die wese van 'n taal moet ten volle besef word. Dit gaan nie net oor die woordeskat nie, maar 'n taal se waarde word ook weerspieël in sy agtergrond, geskiedenis, in volkuitdrukkings, in die kultuur waarin dit ontwikkel het en ook in trotse volkbewustheid. Daarom behoort 'n regering wat nie 'n Afrikaanse inslag het nie, nie die gesag te hê om die taal te beheer nie. Geen andertalige ken die diepte en siels-verwantskap van Afrikaans nie.

Die grondleggers van Afrikaans was ons eie mense, en die eerste geleerdes wat die reëls daarvolgens neergelê het, het dit met Afrikanerharte gedoen, losstaande van die destydse vreemde regering. Selfs die regering tydens die jare 1939 tot 1948 het Afrikaans verwaarloos.

Gelukkig het taalsuiweraars gedurende die tydperk ongeveer 1945 tot 1960 gewaarsku dat Afrikaans as 'n taal sal uitsterf as ons dit nie suiwer praat nie; bedoelende eie aard, geestelike ingesteldheid en tradisie. Hulle het pragtige beskrywende woorde geskep teenoor die traak-my-nie-agtige houding van aanvaar Engelse woorde en Anglisismes en Romaanse leenwoorde omdat dit moeite is om skeppend te wees. Sonder die beginselvaste taalkundiges sou Afrikaans waarskynlik beland het waar die Gaeliese taal vandag is; erg verwaarloos.

Agteloosheid is 'n goeie aanduiding dat as jy sommige woorde toelaat, dit die deur wawyd oopmaak vir onbeperkte oorname uit alle ander tale om die leemtes wat veral as gevolg van ontwikkeling op vakgebiede ontstaan, te vul, en dan is daar geen verweer nie. Afrikaans kan maklik 'n wêreldtaal word, deurspek met vreemde woorde en begrippe. Taalkundiges se taak is nie om vreemde woorde oor te neem nie, maar om beskrywende woorde te skep wat Afrikaans verryk. Dan moet hulle die gepaste woorde luid aankondig en by die invloedrykste taalgebruikers laat inslag vind.

Oorname van vreemde woorde verryk nie die taal nie, want die Dietse woorde word gou as verouderd voorgestel en slegs die vreemde woorde gebruik. Kyk hoe word verouderde woorde in woordeboeke uitgewys. Daarom bring opname van vreemde woorde verarming in ons gebruikwoordeskat mee, en dit kan nie oorbeklemtoon word nie; verdwyning van die Afrikaner omdat taalapartheid verdwyn.

In hierdie opsig moet ons veral oplet hoedat goeie Afrikaanse woorde deur beriggewers en woordeboekmakers met geleerde wetenskaplike benamings vervang word, en beswaar maak.