VOLKSREGERING (62)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

AFRIKAANS  TEENOOR  ENGELS

Daar word beweer dat Engels 'n taal is wat wêreldwyd gepraat word. Die doel hiervan is weer eens politiekgedrewe net om Afrikaners se volkseie te probeer inkort. Min gewone burgers in Europese lande ken Engels. Dit is omdat hierdie lande eentalig is en die mense hulself binnelands oral verstaanbaar kan maak. Net so is Afrikaans ook 'n taal van die Afrikanervolk en kan ons mense onsself duidelik uitdruk.

Enigiemand kom makliker in sommige Engelsgerigte lande met Engels oor die weg as met Afrikaans, maar Afrikaans is ons erkende taal in ons eie land. Selfs die ander volke in Suid-Afrika verstaan Afrikaans, en waar hulle voorgee om Afrikaans nie magtig te wees nie, praat hulle gou Afrikaans as dit vir hulle voordeel inhou.

 

Om hierby verby te kom, vertel diegene wat met Afrikaans wil wegdoen dat verdere studie aan universiteite makliker in Engels geskied omdat die handboeke hoofsaaklik in Engels is. Maar die bewering is halfgebak omdat al die voordele van moedertaalonderrig tydens die jeug se beste vormingsjare doelbewus buite rekening gelaat word. Afrikaanse studente wat skoolopleiding in Afrikaans ontvang het en daarna in die buiteland of hier studeer het, het min moeite ondervind om suksesvol te wees. Ons leerlinge (tog net nie leerders nie), leer Engels as 'n skoolvak en is dus nie ongeleerd in Engels nie.

Baie verhandelings en werkstukke is in Suid-Afrikaanse universiteite in Afrikaans ingedien, met groot sukses. Afrikaanse studente wat hulle verdere studies in Nederland en Duitsland voortsit, doen beter om daardie tale te bemeester.

Kleiner kinders leer uit huis uit en ook op skool Afrikaanse uitdrukkings en eiesoortige betekenisse wat nie dieselfde as in Engels of 'n ander taal is nie. Ons aanspreekvorms verskil ook soos byvoorbeeld, die Engelse woord  "you"  kan dikwels nie as  "jy"  in Afrikaans vertaal word nie omdat dit in bepaalde gevalle oneerbiedig is. Ouer mense word nie as jy aangespreek nie. Ook word eerbiedwaardige persone soos regters, professore of predikante as u aangespreek. Moedertaalonderrig pas mooi in by die kinders se ontwikkeling binne volkverband soos in speelgroepe, gesellige verkeer met ouer mense en ook in kerke.

Moedertaalonderrig maak ons kinders trots op hulle pragtige taal en volk, want deur moedertaalonderrig leer hulle ons volksgeskiedenis vanuit Afrikanerstandpunt en nie van 'n Engelse kant af nie. Afrikaanse gedigte en volksliedere pas nie in by onderrig in 'n ander taal nie en word noodwendig by andertalige skole uitgesluit.

Omdat Afrikaanse kinders op hulle moedertaal ingestel is, leer hulle makliker die inhoudelike begrippe van ander vakgebiede soos wiskunde, biologie, skei– en natuurkunde, ekonomie, Bybelkunde, en so meer. Namate hulle ouer en meer volwasse raak, is hulle goed voorberei om hulle taal, kultuur en geloof op 'n edele wyse te behou terwyl hulle Engelse studieboeke gemaklik as handleidings gebruik, indien nodig.

AFRIKAANSE  WOORDESKAT

Wat onbegryplik is, is dat 'n andertalige regering kan voorskryf watter woorde ons in Afrikaans mag gebruik. Daar is dikwels woorde in een taal wat 'n ander gevoelswaarde of bybetekenis in 'n verwante taal het, maar ons kan byvoorbeeld nie aan Nederlanders voorskryf watter Nederlandse woorde hulle uit hulle taal moet verwyder nie omdat dit kru en selfs beledigend in Afrikaans sal wees. Die Nederlanders het goeie bedoelings, maar uit ons kultuur en opvoeding heg ons 'n ander betekenis aan dieselfde woorde. Dit is mos ons eie saak as ons taalagtergrond en ondervinding verskillend is. Net so moet andertaliges nie aanstoot neem oor die regstreekse betekenisse van Afrikaanse woorde in hulle taal nie.

Deesdae word aan ons Afrikaanssprekendes voorgeskryf dat ons etlike bepaalde woorde moet vermy omdat dit kwansuis aanstoot gee. Ons moet praat van swartman en swartvrou omdat die ander woorde (almal weet watter) wat vanuit ons vredeliewende goedgesindheid gevorm is, deur andertaliges as verbode verklaar is. Onderskeiding bevestig glo apartheid. Daar word egter tussen Afrikaner, Zoeloe, Tswana, en so meer, onderskei (apartheid) sonder dat 'n bohaai opgeskop word. Hulle aparte tale word ook deur hulle self erken!  Dit is mos openlike apartheid ! ! !

Andersyds word aangevoer dat die bepaalde woorde beledigend sou wees. Dit is egter die andertaliges wat hierdie bybetekenis daaraan heg sonder dat Afrikaanssprekendes dit so bedoel. Hulle is dus die oortreders. Sommige woorde is met goeie gesindheid uit 'n ander taal oorgeneem en daardie taal word nie gekritiseer nie. Verskeie ander soortgelyke woorde waarmee ons kinders voorheen uit respek die volwassenes van ander volke aangespreek het, word nou met moedswillige bybetekenisse begroet.

Wat sal andertaliges doen as ons aandring dat hulle bepaalde woorde uit hulle woordeskat moet haal?  Sekerlik sal hulle vir ons sê dit het niks met ons uit te waai nie, en heeltemal tereg. Hoekom mag ons nie ons eie taal met goeie bedoelings praat soos ons in 'n goeie gesindheid wil nie?  Net Afrikaans as taal word onderskei, maar daar is mos ook apartheid tussen die ander tale in Suid-Afrika en dit word aanvaar.