VOLKSREGERING (65)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

TAALFLOUS  IS  DEURSIGTIG

Nog 'n nadeel as Afrikaans verbied sou word, is die verloop van ons geskiedenis en die dade van ons volkshelde. Hoe kan dit andersins aan ons volkgenote en nageslag oorgedra word as ons dit uit die oogpunt van Engelsgesindes of andertaliges moet beskryf?  Hulle kan hul eie denke nie omdraai nie.

Sal die gewelddadige betogers blywend tevrede wees met Engelse lesings in vakke soos geskiedenis, staatsleer, sielkunde en sosiologie in plaas vanuit hulle eie volksgedagtes? Die werklike doel van die gewelddadige betogers is om die wettige  Afrikaners, en ook die Engelse, uit Suid-Afrika te verdryf of onder te laat gaan omdat hulle onjuis beweer dat die blankes hulle grond gesteel het. Vaste eiendom kan nie gesteel word nie. Onbesette grond kan ook nie afgeneem word nie. Lees weer die geskiedenis sedert 1652. Betogings teen Afrikaans is 'n dekmantel wat vir politieke redes aangewend word.

Die metode wat vyandiges probeer toepas om ons mense te probeer taalflous, is deursigtig. Almal kan maklik daardeur sien. Die dop lyk mooi, maar binne skuil verraad soos die geval met die Trojaanse perd, behalwe dat die taalperd van glas is. In hulle oë mag die Afrikaner nie as 'n aparte volk bestaan nie. Die regering poog om Afrikaans as taal te vernietig omdat dit een van die hoekstene van ons volk is. Met Afrikaans uit die weg, verloor die Afrikaner se stem sy trefkrag, want in skole en universiteite en kerke en by kultuurbyeenkomste word net Engels toegelaat. Die Afrikaner se geskiedenis en die pragtige Afrikaanse uitdrukkings word uitgeskuif en gepoog om ons politieke siening om te keer. Cradock en Somerset het dieselfde metode onsuksesvol vanaf 1814 probeer toepas, maar die beginselvastheid van die Afrikaner het geseëvier.

Noudat verengelsing sterk teenstand ondervind en die Afrikaner vasberade maak, word tot die volgende stap oorgegaan. Die stap is  "Wek meegevoel vir Afrikaans en selftevredenheid by die Afrikanervolk deur Kleurlingkinders en hulle ouers te gebruik om Afrikaans te verdedig."  Hulle het mos die taal aangeneem en die Afrikaners kan hulself verheug dat hulle die stryd (tydelik) gewen het. Hulle gesels met die Kleurlinge om verder saam te beplan, saam skool toe te gaan, saam aanklank op kultuur– en sosiale gebied te vind, saam in die hart van die Voortrekkermonument vir Afrikaans te stry.

Nou is die Voortrekkermonument nie meer die simbool van die Voortrekkers nie omdat dit vir ander doeleindes gebruik word. Die stap hierna is om swart kinders wat nie sterk teen Afrikaans gekant is nie, veral op die platteland, te betrek. Dit was nog altyd die kommuniste se werkswyse. Op hierdie manier sal die volkere vermeng en ondertrou en siedaar, die Afrikanervolk verdwyn al sou die taal tydelik voortleef. Die eintlike doel is nie om Afrikaans te vernietig nie, maar om die Afrikaner met sy beginsels en geloof en volkseie te laat verdwyn. Wat sou die rede hiervoor wees?

Ons mense is mos maklik goedgelowig soos Piet Retief was, maar ons het uit die geskiedenis geleer om ons nie met 'n slap riem te laat vang nie. Volkseie skole, kerke, monumente en gemeenskaplewe bly vir ons die wese van ons volk. Deurmekaar saamwerk met ander volke oor ons eie sake tas ons siel aan.

Saamwerk is goed en selfs noodsaaklik, maar dan nie in 'n wêreldse mengelmoes nie, maar vanuit jou taaleie en volkseie Afrikaans. Dink slinkses en kommuniste werklik dat ons skape is?  Buitendien, die ander volke met wie verwag word dat ons moet vermeng, het geen sin of gevoel vir die diepere betekenis van ons helde-voorvaders en volksmoeders nie. Die grootse Voortrekkermonument is uitsluitend aan ons Voortrekkers opgedra. Hoekom moet ons hulle verloën?

Om die stelling te staaf, kyk wat werklik gebeur. Die direkteur van die Afrikaanse Taalmonument en –museum, Michael Jonas, het gesê:  "Afrikaans het 'n unieke ontstaangeskiedenis met verskillende kulture wat almal 'n bydrae gelewer het tot die totstandkoming van die kreoolse taal met al sy diverse gebruikers. Die taal is later misbruik om 'n sekere identiteit te skep, maar ons is vandag weer besig met die skep van 'n nuwe identiteit gebaseer op 'n gedeelde verlede. Afrikaans kán 'n taal van versoening wees."

Hierdie uitlating is 'n duidelike poging om die Afrikanervolk te laat verdwyn soos die Engelse met die Afrikanervolk vanaf 1813 tot met die Groot Trek probeer doen het. Die werkwyse is:  Beskryf Afrikaans as 'n bastertaal en nie 'n skepping van die Afrikaners nie, vertel dat Afrikaners nie 'n eie kultuur het nie, maar 'n vermengsel, wurm ander volke in die geskiedenis van die Afrikaners in, breek die volk se identiteit af, gebruik Afrikaans as politieke instrument. Hou voor dat Afrikaans verdeeldheid bring.

Jonas praat voorts van die taalgemeenskap in sy breë. Daar bestaan nie 'n taalgemeenskap oor volkgrense heen nie omdat dit van volk tot volk verskil soos die Engelse taal in Brittanje, Amerika en Australië van mekaar verskil. Dit word voorgehou dat Afrikaans ook die moedertaal van die Kleurlinge is, maar hulle het dit van ons voorouers oorgeneem, daarom is daar verskille soos die verskille in Engels in verskillende lande.

Ons Afrikaners het ons eie geskiedenis, taal en kultuur geskep, en kan self ons eie taalgeskilpunte hanteer indien dit nodig sou wees. Nadat 'n taal tot 'n volwaardige erkende taal ontwikkel het, skaal die toevoeging van leenwoorde uit ander verwante tale af, want nou vind eie skepping van nuwe woorde plaas soos om by te voeg tuinslang, moltrein, duikweg, bromponie en klopdisselboom. Talle volkseie uitdrukkings kan bygevoeg word. Ons volk en taal is goed gevestig en selfontwikkelend.

Ons voorouers het die verengelsingbeleid van die vreemde regering bestry deur onafhanklike skole te stig waar Afrikaans, Afrikanerkultuur en eie godsdiensonderrig heringestel is. Sterk weerstand het vinnig opgebou teen regeringskole wat nie vir godsdiensonderwys voorsiening gemaak het nie. Dit was en is ons Bybeltaal en gebed, en ons voorouers se geloof was standvastig. Dit was beklemtoon dat taal en volkbestaan nie van mekaar geskei kan word nie. As die taal verlore gaan, gaan die volk verlore. Basta hierdie kastige samewerking om ons taal en ons volk te laat verdwyn.