VOLKSREGERING (68)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

OORSIGTELIKE  SIENING

Daar is sekerlik 'n hele paar vrae wat gevra sal word. Dit bevestig dat apartheid nie ondiep of ligsinnig is nie, maar 'n diepgaande wetenskaplike regeerstelsel wat deeglike kennis vereis voordat kommentaar daaroor gelewer kan word. Tog verwerp oningeligtes wat geen benul het waaroor dit gaan nie, apartheid summier met neerhalende onware bewerings. Vra aan diesulkes om redes te verstrek, en hulle onkunde kom na vore met die antwoord dat apartheid onderdrukking beteken. Geen sinvolle antwoord nie, net snedige opmerkings. Waarom sommige mense weier om hulle opvattings te hersien nadat hulle van die ware feite bewus gemaak is, bly 'n raaisel.

 

Kan iemand 'n groot brug ontwerp en toesig hou wanneer dit gebou word as hy geen kennis van ingenieurswese het nie?  Sal hy toelaat dat 'n leek 'n breinoperasie op hom uitvoer?  Hoe kan hy apartheid verwerp as hy nie uitgebreide kennis daarvan het nie?  Is hy bereid om 'n kennistoets af te lê om sy kennis en uitlatings as sinvol te bewys?

'n Ander vraag wat opduik is, wat het 'n gelofte, volkslied, die Afrikaner, Afrikanervrou, geesteskrag en so meer met 'n regeerstelsel soos apartheid in gemeen?  Let weer op na die inhoud van hierdie hoofstukkies wat die waarde daarvan beklemtoon. Daar is nie so breedvoerig oor uitgebrei soos oor die Bybel en taal nie, want die beginsels is op alle terreine dieselfde. Vergelyk ekonomie, gesondheidsorg, landbou, die arbeidsektor, kommunikasie, gemeenskapdiens, die regstelsel in volkverband, en al die ander terreine. Om alle aspekte van apartheid volledig te beskryf, is vir staatkundiges van belang wat reeds die begrip begryp.

Alhoewel apartheid 'n diepsinnige, omvattende en uiters betroubare regeerstelsel is, die enigste regverdige politieke bedeling vir enige volk, is die toepassing daarvan eenvoudig en maklik verstaanbaar omdat dit deeglik beredeneerd en getoets is. Die uitkoms van 'n beleid bevestig die waarde daarvan. Eenvoudige denke is die beste wenke. Apartheid beteken die opbou van vrede, geluk en voorspoed.

Die regering het demokrasie sedert 1994 afgeskaf. Voor 1994 het die destydse regering Suid-Afrika op 'n demokratiese wyse regeer deur aan elke volk in die land erkenning te gee met eie strukture en grondgebied om hulle tot volle selfstandigheid (outonomie) te lei wanneer hulle daarvoor gereed was. Die Transkei en Boputhatswana was op die voorpunt met selfregering en ander sou volg.

Sedert 1994 het die regering gedwonge integrasie ingevoer en dit vryheid genoem. Duidelik het hulle vryheid met integrasie verwar en dit gelyk aan mekaar gestel. Volkvryheid word moedswillig so verdraai dat dit vermenging van rasse beteken. In die praktyk is integrasie nie as 'n keuse gestel nie, maar afgedwing. Betekenis van die begrip demokrasie word verkeerdelik van volkvryheid tot gedwonge integrasie vervals.

In 1994 is Afrikaners van hulle grond beroof en dit moet teruggegee word. Ook moet die staatkundige verbintenis met die vreemde regering verbreek word omdat hulle integrasie toepas wat met demokrasie bots en inmenging in ander volke se sake meebring. In die parlement sal die regering met hulle getalle-oorwig altyd oorheersing toepas. Sal die meerderheid parlementslede dit duld indien hulle voortdurend oorheers word, of sal hulle regverdig apart wil leef soos voor 1994? 'n Volgende stap sou 'n eie parlement of wetgewende liggaam in hulle eie grondgebied wees.

Deur aan die vreemde volke se verkiesings deel te neem, bevestig jy dat jy hulle verkiesingstelsel erken en jouself aan hulle onderwerp. As iemand meedoen aan die meervolkige verkiesingstelsel, moet hy vanselfsprekend ook die uitslag aanvaar en daarmee saamleef. Hoe kan jy in dieselfde juk trek as die ander 15 osse in die span 'n ander rigting as jy inslaan en jou dan met getalle oorweldig?

Al die talle betogings en geweldadige onluste sedert 1994 waar grootskaalse skade aangerig is aan talle skole, universiteite, besighede, staatseiendom en paaie en nog sal word, is die gevolg van integrasie en die onbevoegde regering. Daardie skades behoort persoonlik deur die regeringslede betaal te word en nie uit die staatskas nie. Belastingbetalers het geen aandeel in die hopelose swak landbestuur nie.

Terwyl die huidige regering landsake uiters swak hanteer, meng dieselfde regering in by die sake van die blankes. Blanke ondernemers word gedwing om hulle personeel met swartes te vermeng; sonder vrye keuse. Alle besighede van blankes soos winkeliers, hospitale, banke en alle soorte maatskappye en firmas, asook sportliggame, word verplig om aan die ondenkende regering se eise te voldoen, en dan noem die regering dit vrye keuse, of te wel demokrasie. Wat is dit anders as dwang?

Dit is 'n regering se plig om hulp aan mense te verleen om self die mas op te kom sodat hulle meer en meer vir hulself kan sorg. Dit help niks om elke dag vis aan hulpbehoewendes te voer nie. Leer hulle om self vis te vang en dan sorg hulle vir hulself. Dit is wat apartheid regkry.

Dit is slegs regverdig dat dele van die oorspronklike grondgebied (vandag Suid-Afrika) na die wettige eienaars teruggebring moet word. Nou is die vraag:  Wanneer sal die blankes se regverdige deel, soos tussen die Wes-Kaap en die Kei-rivier, die deel wat Dingaan in 'n wettige transaksie aan die Voortrekkers verkoop het en verskeie ander wettig verkreë grondgebiede, teruggegee word?  Swart gemeenskappe dien eise in, maar die voorwaardes vir eise word so gestel dat blankes benadeel word. Die grootte van die volke speel nie 'n rol nie, wel die wettige eienaarskap.