VOLKSREGERING (70)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

MIN BEREIK

Na regeringoorname het die volkvreemde leiers in bykans 'n kwarteeu nie 'n kwart bereik van wat hulle beloof of in die vooruitsig gestel het nie, en op verskeie gebiede het die toestande versleg. In die geheel was daar grootskaalse agteruitgang. Hulle het ontdek dat daar veel meer in regeervermoë is as wat hulle kon hanteer. Geld kan nie sonder deeglike beplanning bestee word nie omdat die fontein vinnig opdroog. Toe sake hand-uit ruk, het dit verwarring veroorsaak, die verband tussen verwagting en werklikheid het verlore geraak en die voorgangers is nie meer seker wat waar en wat vals is nie. Swaarmoedigheid tree in, met hulle gemoed in 'n greep van hulpeloosheid. Die maklikste is om apartheid te beskuldig wat beteken dat hulle na 'n kwarteeu nie op apartheid kon verbeter nie, maar misluk het.

 

Ten spyte van die hulp en bystand wat die blanke regering aan die swartes verleen het, het hulle dit nie verwerk nie. Onverstaanbaar, maar dit is deel van die plasing van hulself in 'n staat van stryd en onvrede weens wanbegrip. Dit het nooit by hulle opgekom nie dat die apartheidstelsel wat hulle verafsku, die oplossing is vir die vrede wat hulle so hoog waardeer. Noem dit en hulle is uit die veld geslaan. Onderdrukking is mos die gevolg van apartheid, is verkeerdelik by hulle ingeprent.

Die swart leiers glo werklik dat apartheid die skepper is van ondeug, misdaad en al die euwels in die samelewing omdat dit so deur molesmakers wat van toeka af die land se rykdomme begeer, by hulle ingeskerp is. Ver die meerderheid swartes weet nie wat apartheid werklik is nie. Vra aan hulle of hulle van apartheid gehoor het, en almal sê ja. Vra of hulle teen apartheid gekant is, en die antwoord is ja. Vra of hulle weet wat die betekenis van apartheid is, en die antwoord is  "onderdrukking". Vra dat as volke apart van mekaar leef, wie onderdruk vir wie, en stilte heers.

Goedhartige swart leiers ly aan eerlike sinsbedrog sonder dat hulle dit besef, daarom kan hulle nie rasioneel redeneer nie. Enige redenasie met hulle is nutteloos. Dit wil voorkom asof volkekundiges, gemeenskapkenners en sielkundiges betrek moet word om die swartes te laat besef dat wat hulle glo, 'n dwaling is. 'n Leeftyd se opvattings kan nie binne 'n paar jaar omgekeer word nie.

Vals kennis is 'n geweldige mag. Vertel rond dat nagemaakte koffie in Suid-Afrika verkoop word. Kasterolieboontjies gee die geur, houtkleursel die kleur, en dommes drink dit. Al word onmiddellik bygevoeg dat dit 'n grap is, word so 'n bewering maklik geglo en oorvertel sonder dat die feite nagegaan word. Regstelling is moeilik. Daar word geglo dat waar 'n rokie trek, daar 'n vuurtjie moet wees. Verdagmaking saai dadelik 'n saadjie wat vertroetel word.

Apartheid is die strewe na en bereiking van die betroubaarste wetenskaplike regeerstelsel wat betref ontwikkeling, stukrag vir vooruitgang, vrede, rustigheid, regverdigheid, welsyn en verskeie ander voordele. Enigeen wat tot hier gelees het en die waarheid nog nie begryp nie, het sy geheue vir regdenkendheid gesluit, daarom kan hy nie oor apartheid se voor‒ of nadele gesels nie. Hy weet steeds te min van apartheid af en moet hierdie reeks noodwendig weer van vooraf bekyk, hierdie keer met 'n oop gemoed. Dan eers sal hy ewewigtig kan redeneer.

Om met iemand te redeneer wat weinig van 'n onderwerp af weet, is nutteloos. Hy het nie 'n benul waarvan hy praat nie en sal eers 'n lang lesing moet aanhoor of 'n gesaghebbende werk moet raadpleeg.