VOLKSREGERING (72)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

AFRIKANERSIENSWYSE

Dit is noodsaaklik dat elke volk in Suid-Afrika die werklike bedreiging insien. Die erns van die bedreiging vir elkeen en hulle gesinne moet erken word. Daar moet gewilligheid wees om die waarheid te besef en die versoeking om die gevare te verbloem, te vermy. Om die regering te blameer, is wegskram van wat elkeen self behoort te doen. Die wesenlike is dink en doen en hoe nou daadwerklik opgetree behoort te word. Elke persoon moet sy eie verantwoordelikheid onder die oë sien voordat hy ander begin afkraak. Die mag van die enkeling is ongelooflik sterk. As een persoon met een ander persoon praat en hom van inligting voorsien, al is dit met 'n goeie strooibiljet, word duisende mense in 'n kort tyd bereik, want twee word vier, vier word agt, en gou-gou word een duisend twee duisend. Ons ken mos die mag van vermenigvuldiging.

So word die mag van een, oneindig. Die tyd het aangebreek dat mense moet ophou om uit te kyk na hulp van ander. 'n Roerende toespraak in 'n massavergadering wek tydelike emosies wat sonder toegewyde werk die volgende dag al afkoel. Dade moet volg. Die kwessie van motivering is van grondliggende belang in 'n stryd. Maar die getalle teen ons is te groot?  Wat sal ons bereik?  Voordat jy so redeneer, moet jy vra wat sal ons bereik as ons niks doen nie?  Eerstens moet ons in aller erns onsself geestelik voorberei, want met 'n sterk gees het enkelinge en volke groot suksesse behaal. Kyk na ons geskiedenis van voortdurende stryd om erkenning en let op hoe net meer as 400 man teen minstens 15 000 Zoeloe-impi's geveg het, en dit met voorlaaiers waarmee een koeël met 'n lang prosedure gelaai moes word, met kruit wat in mis en reën onbruikbaar was en 'n geweer wat na 'n paar skote te warm geword het.

Ondersoek jou eie lewe en vra  "Wat doen ek om my vrou en kinders se toekoms te verseker?  Ek leef goed en gemaklik, het 'n goeie werk, 'n redelike bankbalans, maar wat baat dit my as ons volk mettertyd deur die swart meerderheid verswelg word?"  Daar sal net 'n gekleurde nageslag wees met beslis geen Afrikaanse taal of volkseie nie. Of ons mense moet trek en in ander lande se beleid en taal opgeneem word.

Word die vrae hiervoor omseil?  Ja, want daar is verskillende moontlikhede wat ons as volk moet bespreek. Dit kan ons net doen as ons die mag van vermenigvuldiging in werking stel. Intussen is die beste dryfkrag magteloos sonder toereikende kennis. Die moeilikheid is dat baie mense eenvoudig nie die feite oor gevare glo nie. 'n Doelwit kan nie bereik word as jy kennis veronagsaam nie.

Saamwerk met ander volke in een span om ons selfbestaan te probeer verseker, klink pragtig, maar is bedrieglik. Wanneer volke in een groep probeer saamwerk om 'n ander se toekoms uit te stippel, moet hulle noodwendig geskille onderdruk, daarmee onderdruk hulle hul eie dryfkragte, en die samewerking is soos 'n motor sonder brandstof, want die stukrag van handeling setel in die onderdrukte geskille. Agteroorsit en niksdoen en verdwyn is die gevolg. Deur apart na jou eie volk se heil te soek en uit te leef, maak niemand inbreuk op sy gewete nie. Elkeen het die stukrag van sy eie strewes en kan baie doeltreffender wees as wat op ander se leiding en gesamentlike planne staat gemaak word. Op die grondslag van selfdoen kan die politieke, wetgewende en kulturele ontwikkeling wat nodig is, gebou word. Intussen is dit aangewese om noue teenwoordigheid met lede van ander volke te vermy.

Waar kontak nie vermy kan word nie, soos in 'n werksituasie, moet die verhouding vriendelik, dog onpersoonlik gehou word. Sodra intieme gesels begin plaasvind, word die grense van afsonderlike volkbestaan oorskry en vermenging is noodwendig 'n regstreekse gevolg. Dit is waarom gemengde skole en ander opvoedkundige inrigtings doelbewus afgedwing word, om die jeug tot vryelike vermenging op sosiale gebied aan te moedig. Dit moet ons teenwerk. Om in omstandighede van gedienstig ondergeskik te wees aan 'n volkvreemde regering, noue persoonlike skakeling met die regering en/of ander volke aan te gaan, is om onder die juk te buig, om onder die juk te krom, in plaas daarvan om die juk af te gooi.

Soos verduidelik, is 'n volkslied en 'n volksvlag noodsaaklik om die volk saam te snoer in 'n gemeenskaplike kultuur van – dit is ons eie. DIE STEM is 'n volkslied wat spontaan deur alle blankes, Afrikaans– sowel as Engelssprekendes aanvaar is. Die vlag wat blankes tot dusver aanvaar het, is 'n samestelling van die twee Boere-republieke en die twee Britse kolonies se vlae en is as 'n skikkingsvlag aanvaar. Ons is nou in 'n nuwe stryd betrokke waar altwee blanke groeperinge in dieselfde bootjie is en saam die mas moet probeer opkom.

'n Vlag is nie net 'n lapdoek nie. Dit is 'n sinnebeeld van volkbestaan, die middelpunt van die volksgevoel. 'n Vlag kan die grootste geesdrif skep, die diepste dryfvere tot handeling in beweging bring en tot die edelste dade besiel. Sonder 'n gemeenskaplike volksvlag kan geen volk leef nie omdat dit almal saambind in 'n geheel. In die geval van ons blankes in Suis-Afrika moet dit Afrikaans– en Engelssprekendes saamvoeg sodat ons saam die toekoms kan aandurf. 'n Vlag moet nie aan verskille herinner nie; dit moet ons staatregtelike posisie op juiste wyse weergee. Swartes is 'n geheel ander volk (Totius) met eie vlag.

Alhoewel 'n volksvlag dringend is, sal dit voortydig wees om dit noual te bespreek. Ons moet eers onafhanklikheid verkry, maar intussen sal dit goed wees om daaraan te dink sodat wanneer die regte tyd aanbreek, daar deurdinkte aandag aan gegee kan word. As die meerderheid dit verkies, kan die volksvlag soos voor 1994 steeds as 'n volksvlag dien omdat dit ons blankes se gesamentlike geskiedenis weergee. Na omstandighede mag 'n nuwe vlag geskep word, solank dit die blankes saamsnoer in 'n verenigde volksgevoel om ons voortbestaan te verseker.