Johan Dorfling
Daar was van die ANC se bestaan af 'n vertrouensgaping tussen hulle en Afrikaners omdat die ANC nie by die gees van samesprekings en verstandhoudings gehou het nie. Namate dit duidelik geword het dat die ANC se woordvoerders gesprekke nie ernstig opneem nie, het die belangstelling om te praat afgestomp en het die ANC die geringste politieke vertroue laat tuimel. Met hulle kwaadwillige benadering wat geweld en moord ingesluit het, is hulle heeltemal tereg volgens beskaafde standaarde onwettig verklaar. In die howe het hulle hul wandade openlik erken.
Toe die huidige volkvreemde regering, in 'n poging van versoening deur die blanke regering, die onverdiende geleentheid gebied was om beheer oor te neem, het die meerderheid met hulle getalle die grondliggende belange van 'n minderheid bloot weggestem, soos byvoorbeeld hul werk-, taal-, grond- of onderwysregte, of waar hul belasting bloot gevat word sonder dat hul belange ook daarmee gedien word. Regverdigheid sonder kulturele vryheid is betekenisloos, want dan beteken die begrip oorheersing en rassebevoordeling.
Weer eens, met hulle beheer as gevolg van getalle, probeer die regeringlede gereeld om die minderhede as rassehaters uit te kryt terwyl dit juis andersom is. Hulle is immers in beheer en tree verkleinerend op om hul eie onbevoegdheid te probeer verdoesel.
Regverdigheid is 'n begrip wat nie op Suid-Afrika met sy verskeidenheid volke van toepassing kan wees nie. Hier is geen volksregering nie, maar regering deur getalle. Getalle in hierdie geval is vergelykbaar met geweldadige onderdrukking, want die getalle maak die minderheidvolke magteloos om teen onregverdigheid op te tree. Selfs volksregering beteken nie noodwendig regverdigheid nie, dog dit is die naaste aan regverdige regering tot die beste belang van alle volke, om deur hul eie mense regeer te word. Regverdigheid lê nie in getalle nie, maar in wysheid.
Kyk na wat werklik in die lewe gebeur. Die inwoners van 'n woonbuurt soek en vind iemand wat 'n bokkie van 'n brandarm eienaar gesteel het, of wat 'n moord gepleeg het, of wat iemand verkrag het. Hulle wil sy hand afkap, of hom ophang, of hom stenig. Die oormag slaan en skop hom en begin uitvoer wat hulle in gedagte het. Intussen daag die polisie op en keer betyds met kalmerende woorde dat hy deur die hof gevonnis sal word. In die hof bevind die regter, of meer regters, egter dat die betrokke persoon onskuldig is. Intussen is die werklike skuldige dief aangekeer, die vermeende moordenaar was daardie betrokke week met die nodige bewyse meer as 500 kilometer van die moordtoneel af, en DNS toetse het bewys dat die beskuldigde verkragter nie skuldig was nie. Al drie die persone wat regtig skuldig was, is opgespoor en skuldig bevind.
Die oorweldigende meerderheid het geglo dat hulle reg was sonder dat hulle regverdig geoordeel het. Gelukkig het die wyse regters sonder emosionele betrokkenheid onskuldige mense gered. Getalle het nie getel of die deurslag gegee nie, maar wysheid.
Kyk nou na die regeringlede se optrede met hulle valse beskuldigings. Die regering se meerderheid in die parlement bring mee dat hulle 'n minderheidvolk oorstem sonder dat daar polisie en regters is wat met regverdigheid kan intree. Daar kan in die meeste gevalle nie na die geregshof vir beslissings gegaan word nie omdat die grondwet bepaalde regte aan die meerderheid toeken. Hoe kan 'n vertroue‒ en verstandhoudingskending bestry word? Slegs enkele gevalle mag na 'n hof verwys word.
Buitendien is regskostes besonder duur en kan die klaers teen getalle dit dikwels nie bekostig nie. In so 'n geval moet 'n onreg maar verduur word. Wat die regskostes betref :‒ Sou 'n saak aanhangig gemaak word, moet die minderheid hul eie regskoste dra asook help bydra aan die regering se regskoste. Is dit regverdig? Moet die verantwoordelike regeringpersoon of persone die ongerief en koste wat hy/sy veroorsaak het, vryspring?
Dit is glashelder dat getalle die deurslag gee en regverdigheid regstreeks verdruk word as 'n volkvreemde regering sy getalle gebruik om sy eensydige wil teenoor ander af te dwing. In die proses veronagsaam hy selfs die grondwet en ook ander volke se tale en kulture. Dit moet tot onluste lei.
Een volk, bestaande uit groter getalle, het namens sy volk een stem teenoor enige ander volk wat ook een stem het. Geen bespreking of onderhandeling kan plaasvind as een volk 'n houding inneem dat sy groter getalle die ander volk oorheers nie. Onderhandeling oor enige saak kan net onderneem word as regverdigheid heers. Dit is 'n vereiste vir demokrasie, vir vrye gesprekvoering.
Met sy groter getalle beheer die volkvreemde regering die radiowese, beeldradio en ander regeringinstrumente om sy eie siening te verkondig, wat reg is, maar terselfdertyd word die kleiner getalle andersdenkendes nie toegelaat om hul eie beskaafde en geloofwaardige sienings weer te gee nie. Hulle eie volkfeeste word selde selfs terloops genoem en dan in 'n swak lig gestel.
Kyk hoe word getalle weergegee om 'n saak vir politieke doeleindes te misbruik. Om voordeel te trek, word beweer dat regeringoptrede daartoe gelei het dat plaasaanvalle byvoorbeeld die afgelope jaar van 1 200 tot 500 afgeneem het. Dit is onwaar. Plaasaanvalle het vermeerder van 1 200 tot 1 700. So ook word beweer motorongelukke het byvoorbeeld van 700 tot 900 toegeneem, maar in werklikheid het dit van 700 tot 1 600 toegeneem.
Dit kan nie oorbeklemtoon word nie. Wanneer een volk 'n ander met sy getalle oorheers : ‒
GETALLE VERDRUK REGVERDIGHEID REGSTREEKS
APARTHEID BESKERM VOLKE TEEN UITBUITING