Johan Dorfling
'n Regering is 'n groep mense met eenderse staatkundige denke wat die gesag het om 'n volk te bestuur. Daardie gesag ontvang die betrokke groep mense van hulle eie volkgenote omdat die meerderheid volkgenote van mening is dat daardie voorgangers die bekwaamste mense is om hulle verkondigde beleid en strewes die doeltreffendste uit te voer. Met sy gesag moet die regering na die behoeftes van al hulle mense omsien, al sou daar volkgenote wees wat nie met die regering se beleid en administrasie saamstem nie.
Daar bestaan verskillende vorme van regering soos onder meer 'n monargie, 'n republiek, 'n aristokrasie en 'n tirannie. Dit is slegs enkele regeringvorms.
In die eerste plek word regering van 'n volk deur die volk beklemtoon, want regering oor ander volke is onderdrukking van 'n ander volk se vryheid om homself te regeer. Wanneer so 'n regering aan ander sy taal, geloof en kultuur wil voorskryf, matig hy hom 'n reg aan wat hom nie toekom nie. Hy beroof die ander van vryheid wat 'n vergryping is. Dit het die apartheidregering besef en uitgeleef volgens neergelegde beginsels.
Verder word beklemtoon dat 'n regering 'n groep mense met eenderse staatkundige denke is. As byvoorbeeld een minister se siening of beginsel met 'n beginsel van 'n ander minister of president of ander toonaangewendes in dieselfde regeringopset bots, is hulle nie eendersdenkend nie. In so 'n geval sal die regeringlede begin bont praat en soos skape al in die rondte maal. Geen wettige kieser sal begryp wat gebeur nie en administrasie sal uiteindelik platval.
Stellings wat deur lede van dieselfde regering in die parlement gemaak word, sal debat, of eintlik 'n stryery tussen regeringlede veroorsaak wat nie tot 'n einde kan kom nie. Watter beleid of wetgewing sal aanvaar word? Sal elke minister sy eie idees deurvoer sodat wetgewing op ekonomiese, handel, gesondheid, vervoer en ander gebiede met mekaar bots. Waar dieselfde wet op die verskillende gebiede toegepas moet word, sal 'n hof daaroor moet beslis? Wie regeer dan die land?
Dit is nie net parlementêre bedrywighede wat ter sake is nie. As 'n munisipale bestuur wat lede van dieselfde groep as die sentrale regering is, met die hoër gesag bots en stakings veroorsaak, is daar tweespalt in dieselfde bestuurgroep, hetsy plaaslik, provinsiaal of sentraal. Geen regering kan op die verskillende vlakke met mekaar verskil en doeltreffend regeer nie. Dit bly 'n gemors met gevolglike wanorde, wanbesteding van geld en korrupsie. Dit gebeur nou feitlik daagliks tussen ANC munisipaliteite en die regering. Daarom al die stakings oor behuising, dienste en wat nog.
Daarby word volke wat onderdruk word, misgekyk sodat hulle uitstekende insette iewers op 'n rak beland. Buitendien het 'n minderheidvolk geen verantwoordelikheid teenoor so 'n regering nie omdat hy nie daardie regering verkies het nie en onderdruk word. Geen regering kan sy verantwoordelikheid vermy en bly regeer nie. In die wêreldgeskiedenis kon geen volk 'n ander bly onderdruk nie. Net so gaan ons Afrikaners soos voorheen dit weer regkry om staatkundig vry te wees soos ons steeds geestelik vry is. Ons elkeen moet net ons deel doen soos ons voorouers dit administratief reggekry het. Dr Verwoerd het gewys hoe dit gedoen moet word toe hy teen die hele wêreld moes veg.
Op die oomblik is dit die geval met die ANC. Die ANC regeer nie, maar probeer om vure dood te slaan wat reeds die hele plantasie afgebrand het. Die boeties en sussies beledig mekaar asof hulle aan verskillende politieke partye behoort. Selfs die ministers maak voorspraak vir verskillende beleidrigtings wat die regering 'n ernstige knou gee. Hulle president probeer sy bes om persoonlik gewild te raak sodat hy sy eie kleiner volk (Vendas) kan beskerm deur na links en regs ondersteuning te kry sonder om iemand uitgesluit te laat voel. Om dit te bereik laat hy na om duidelik standpunte in te neem en 'n vaste beleid neer te lê. Daarteen maak die Zoeloes en die Kȏsas beswaar omdat hulle eie kulture in die proses vermeng word. Hulle knoop al hoe meer 'n stryd aan om die verteenwoordiger van 'n klein volk (Venda) uitgewerk te kry. Dit is die hoofrede waarom die Zoeloes in Zoeloeland die afgesette vorige president van die ANC sterk ondersteun, al is daar soveel wetlike klagtes teen hom.
Eenvormige vaste beginsels is ingebou in 'n volkseie benadering, en dit bestendig vrede en harmonie. Ons moet met volkseie vir alle volke volhard totdat die waarde van apartheid reg begryp word.
OM NA GOD TE SOEK