Gelowige
Dit is vir my vreemd om van 'n Direkte Bybelvertaling te lees asof wat ons as 'n die betroubare Bybelvertaling beskou het, nie 'n direkte vertaling uit die ou geskrifte was nie. Dit skep verwarring omdat die 1933/53 vertaling juis vanuit die oorspronklike tekste gedoen was in goeie Afrikaans sonder om Afrikaans te verbaster.
In elk geval, ek het op die Internet nagegaan en gevind dat uit verskeie oorde geldige besware aangeteken is teen die vreemde woorde wat nou in die Afrikaanse Bybel ingesluit word. Dit beteken onder andere blykbaar dat Hebreeuse en Griekse woorde as Afrikaans beskou word. Moet ons dan ander tale se woordeskat leer om die Afrikaanse Bybel tuis te kan lees en verstaan? 'n Vriend wat 'n taalkundige is, vertel dat meeste mense se woordeskat in hulle eie tale beperk is tot ongeveer 20 000, miskien tot 30 000 vir 'n klein persentasie indien hulle beroep in daardie rigting is.
Dit bring my by die woordeboek WAT. Geen mens kan daardie honderdeduisende woorde onthou en weet wat hulle lees nie. Die Bybelvertalers kan die WAT dus geensins as 'n maatstaf gebruik nie. Selfs HAT is reeds te omvattend vir my brein. Ek sou dink dat die Bybelvertalers 'n leesbare Bybel aan ons beskikbaar sou wou stel. Die oorspronklike Bybel in die ou tale was immers in 'n maklike eenvoudige trant geskryf soos die massas wat nie kon lees of skryf nie, dit maklik kon verstaan. Jesus (en die ou profete) het byvoorbeeld eenvoudig met die vissers en sy ander volgelinge gepraat en gelykenisse gebruik waar hy dit nogtans nodig gevind het.
Moet ons matrikulante en selfs gegradueerdes op ander gebiede, nou op predikante staat maak om die deurmekaar Bybel aan ons uit te lê? Sal hulle ons elke dag tuis besoek sodat ons dit kan verstaan wanneer ons aandgodsdiens hou? Hoe kan ons saans of op ander tye aan ons kinders verduidelik wat in die Bybel staan as ons ouers dit self nie weet nie. Ons is trots op ons taal en wil dit nie vermink sien nie.
Vreemde Griekse range in weermagtaal plaas ons denke in verkeerde begrippe en daarmee besef ons nie hoe belangrik of onbelangrik die persoon was wat daardie range gedra het nie.
Die Bybelvertalers sal vol verskonings wees omdat hulle hulself wil regverdig, maar verskonings is sinneloos omdat dit nie die doel van die vertaling beantwoord nie. In my woordeskat sluit ek juis verskoning uit omdat dit beteken dat jy 'n fout maak of gemaak het. Daardie fout moet reggestel word, anders duur die mistasting voort.
Gelukkig blyk daar 'n ligpunt te wees omdat sommige taalkundiges en teoloë volgens praatjies met 'n eie vertaling wil begin, skynbaar gegrond op die 1933/53 vertaling en die oorspronklike tale omdat dit uiters betroubaar is.
Waarom word 'n wêreldwye besonder betroubare en erkende Bybel bederf met 'n aardse inslag. Nadat ek groot gedeeltes van die sogenaamde direkte vertaling gelees het, kry ek die gewaarwording dat die siel uit die Bybel gehaal word. Dit was ook met die 1983-vertaling die geval en met al daardie foute is dit verwerp. Met die huidige poging slaag die vertalers goed daarin om ons mense te verdeel.
Ek wonder of die Bybelvertalers dit sal oorweeg om te herbesin. Of sou hulle in hierdie laat stadium te veel aansien verloor, asook die koste wat aangegaan is? Of hulle nou sou heroorweeg of op die pad van verskonings sou voortgaan, aansien het hulle reeds verloor.