Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, help my asseblief om nie 'n praatsieke ou mens te wees nie; en behoed my van die noodlottige gewoonte om oor elke onderwerp by elke geleentheid iets kwyt te raak in plaas daarvan om na ander te luister.
HOMOSEKUELE HUWELIKE
Homoseksuele huwelike neem skrikwekkend toe. Dit getuig van opstand teen God se heilige instelling en ’n toename in die heidendom. Op 14 November 2006 is huwelike van dieselfde geslag ook in Suid-Afrika goedgekeur. Wie homoseksualisme goedpraat, het uiteraard geen morele reg om huwelike van dieselfde geslag te veroordeel nie. Dis dieselfde gruwel! Homoseksualisme en VIGS neem wêreldwyd toe. In 2000 is die Pienk Loerie fees vir die eerste keer in Suid-Afrika gehou. Dit was die eerste homoseksuele fees op Afrika-bodem en is sedertdien jaarliks herhaal. Hierdie skande-fees word deur duisende volwassenes asook kinders bygewoon.
’n Onlangse opname oor die aanvaarding van homoseksualiteit het skokkende statistiek aan die lig gebring.
In Spanje was 91% van die ondervraagdes ten gunste van die aanvaarding van homoseksualisme, in Duitsland 87%, in Frankryk 86%, in Brittanje 81% en in die VSA 60%.
Die Bybel sê dat God die huwelik reg aan die begin van die mensdom ingestel het. Jesus bevestig dit: “… Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” (Mt.19:4). In vers vyf sê Jesus dat man en vrou deur die huwelik een vlees word en in vers 6 dat die huwelik ’n verbintenis is waarin God mense met mekaar verbind. Gevolglik het die huwelik in werklikheid alles met die kerk en niks met die staat te doen nie.
God ag die huwelik baie belangrik. Dis trouens ook die toonbeeld van sy verhouding met die kerk. Daarom moet dit rein wees. Om onreinheid hok te slaan, mag geslagsomgang slegs binne die huwelik plaasvind. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Heb.13:4). Alle geslagsverkeer buite die huwelik is sonde, hetsy heteroseksueel of homoseksueel.
Die huwelik is ’n goddelike instelling en nie ’n burgerlike aangeleentheid nie. ’n Staat wat die huwelik wil voorskryf, oortree teen God, die Insteller daarvan. Hy bepaal die parameters vir ’n huwelik en nie die mens nie. Die Bybel praat baie duidelik van ’n huwelik as ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou. Nêrens praat dit van ’n verbintenis tussen dieselfde geslagte nie. Hierdie gruwels het slegs onder heidene voorgekom.
Die Bybel veroordeel homoseksualisme in geen onduidelike taal nie. “Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel” (Lev.18:22). Die Bybel bepaal selfs die gepaste straf daarvoor: “En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het…. het hulle al twee iets gruwelik gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word…” (Lev.20:13). God het by geleentheid so kwaad vir homoseksualisme geword dat Hy twee stede met vuur en swael verwoes het!
Paulus beskryf hierdie gruwel as ’n vergryp teen die menslike natuur: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte , want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand…. en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Rom.1:26,27).
1 Kor.6:9,10 sê Paulus dat mense wat hulle aan hierdie gruwel skuldig maak, nie in die hemel sal kom nie. 1 Tim.1:10 sê hy dat homoseksualisme in stryd met die gesonde leer is en in Judas vers 7 praat die apostel van mense wat agter vreemde vlees aanloop. Homoseksualisme is en bly ’n vergryp teen God se wil.
Mense is geneig om in opstand teen God te kom: “Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en sy Gesalfde sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:2,3). Hierdie bande en toue, dui op dit wat God behaag. Homoseksualisme is opstand daarteen. Daarom is selfde geslag huwelike sprekend van ʼn staat wat teen God in opstand is. Hy aanvaar dit nie maar gelate nie en straf dit: “U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot” (vers 9). ”…. maar by die valse betoon U Uself verkeerd” (Ps. 18:27). Hoe vals het kerke nie vandag geword nie!
Mense wat homoseksualisme vanuit ʼn Bybelse agtergrond probeer goedpraat, verwys na die besondere vriendskap van Dawid en Jonathan asook dié tussen Rut en Naomi en maak die afleiding dat dit homoseksueel van aard was. Hulle sê ook dat Jesus nooit ’n woord oor homoseksualisme gesê het nie, maar wel oor egskeiding en egbreuk. Gevolglik was homoseksualisme vir Hom aanvaarbaar. Sulke redenasies is skokkend en ongegrond!
Jesus waarsku die Skrifgeleerdes van sy tyd dat hulle dwaal omdat hulle die Skrif nie ken nie. Die Skrif is baie duidelik - homoseksualisme is ’n gruwel en vergryp teen God se instelling van die huwelik. Net omdat Jesus niks daaroor sê nie, beteken nie dat Hy dit aanvaar het nie. Hy was eerder met die veroordeling daarvan deur die Joodse wet eens.
Voorstanders van homoseksualisme sê ook dat as iemand homoseksueel gebore word, dit nie teen die natuur kan wees nie. Dis onsin! Homoseksueles word nie so gebore nie, maar so gemaak. Dis ’n opvoedingsgebrek. By mans is dit te sterk moederbindinge en by vrouens te sterk vaderbindinge. Dis nie ’n sogenaamde chromosoom-afwyking nie. Indien dit so was, sou God nie ’n oordeel daaroor uitgespreek het nie.
Die Bybel het niks teen platoniese verhoudings tussen mense van dieselfde geslag nie. Dié tussen Dawid en Jonathan spreek van gelowige vriendskap. Die Septuagint (Griekse vertaling van die OT) gebruik die woord phileo om hierdie vriendskap te beskryf. Dit beteken broederliefde. Vir dié tussen Rut en Naomi word storge gebruik wat ’n liefde vir familie beskryf. Nêrens is daar van erotiese liefde (eros) sprake nie.
God heilig die huwelik as ’n heilige verbintenis tussen een man en een vrou. Die Satan ontwrig dit met ’n gruwel wat op sonde en wellus gegrond is. Dit kan nie anders as om gestraf te word nie!
Die huwelik is ’n unieke instelling. Dis die verbintenis van ’n man en vrou waarin gesinne opgevoed moet word. Die wettiging van selfde geslag huwelike ontwrig dit.
Twee mans kan beide goeie vaders wees, maar geeneen van hulle kan ’n moeder wees nie. God het dit nie so beskik nie. Twee vrouens mag dalk beide goeie moeders wees. Maar hulle kan geeneen ’n goeie vader wees nie. God het dit nie so beskik nie. ’n Kind kan net by een vader en een moeder rigting kry. Twee ouers van dieselfde geslag kan nooit die rol vervul wat kinders vir ʼn gesonde gesinsontwikkeling nodig het nie.
Gelowiges durf geen vrede met homoseksuele huwelike maak nie. Die huwelik is ’n instelling van God tussen een man en een vrou. Alle ander huwelikverbintenisse is boos en ontwrigtend. En dit geld nie net vir die gesin nie, maar ook vir die kerk en die gemeenskap. Die Bybel swyg nie oor hierdie gruwel nie. Gelowiges ook nie!