WAAROM GLO MENSE NET DIE BESTE VAN AMERIKA?

Dr Pieter Swart

Die gewone man op straat (die meerderheid altans) glo net die beste van Amerika. Jy loop jou teen ‘n muur vas deur aan hulle die teendeel te wil verduidelik. Waarom is dit so?

Wel, ek glo dit het sy oorsprong by die Tweede Wêreldoorlog toe die VSA tot die redding van die Geallieerdes toegetree het en die bose Duitsland verslaan is.

Daarna was dit Amerika wat ons redding was teen die bose Kommunisme. Dis immers die VSA wat die Russe in toom gehou het en gekeer het dat die hele wêreld nie onder die Kommunistiese juk beland het nie, of hoe?

 

Na die val van Kommunisme het die bose Islam en “internasionale terreur” weer sy “verskyning” gemaak en weereens was dit Amerika wat ons red van hierdie bose euwels.

In ‘n studie wat Frances Fitzgerald oor Amerikaanse handboeke in skole gedoen het, het sy bevind dat die boodskap daarvan soos volg is:

“The United States has been a kind of Salvation Army to the rest of the world: throughout history it had done little but dispense benefit to poor, ignorant, and diseased countries. The US always acted in a disinterested fashion, always from the highest motives, it gave, never took...”

Ja, dit is waarom die meeste Amerikaners dit ook glo. So dit is deel van ‘n wêreldwye propaganda-veldtog wat die meerderheid laat vashou aan die persepsie.

Om dus met mense oor die gevalle Libië, Joegoeslawië, Irak en Sirië te praat is so goed as om met ‘n muur te praat. Jy maak net geen indruk nie. As hy ‘n duisend keer op TV en in die koerant gesien het hoe edel Amerika is, hoekom sal hy jou glo?

U sien, mense dink Amerika bedoel dit goed, al sterf daar mense in die proses. Die doel heilig die middele. Die gemiddelde Amerikaner en Westerling is soos kinders van ‘n Mafiabaas wat nie weet wat hulle pa doen nie en ook nie wil weet nie, maar verstaan nie hoekom mense dan ‘n bom deur die huis se venster gooi nie!

So kom Amerikaners nie agter dat “bose terroriste” hulle land op 9/11 aangeval het nie. Hoe vertel jy vir sulke gebreinspoeldes dis hulle eie regering!? Amerika met die beste, gevorderdste en duurste sekuriteitsisteem en intelligensie-sisteem in die wêreld word uitoorlê deur ‘n grotbewoner en ‘n paar van sy trawante!

Kom ons kyk na Amerika se rekord sedert die Tweede Wêreldoorlog:

  1. Amerika het gepoog om meer as 50 meestal demokraties verkose regerings omver te werp.
  2. Het bombardering van meer as 30 soewereine state gedoen met groot lewensverlies.
  3. Het gepoog om 50 hoofde van state te vermoor.
  4. Het nasionalistiese/populistiese bewegings in 20 state probeer onderdruk.
  5. Het in ten minste 30 state se verkiesings ingemeng.
  6. Is die wêreldleier in marteling van mense; ook deur hulp aan state wat hulle eie mense martel.

Is dit ‘n land wat dit goed bedoel? Miskien moet dieselfde mense gevra word wat Amerika moet doen wat hulle tot die teendeel sal oortuig. Miskien is die kans goed dat Amerika dit reeds gedoen het! Die wiel sal draai, glo my, al draai hy stadig.