Elke mens koester inherent die behoefte om te weet wat vorentoe gaan gebeur. Uit die geskrifte van Johanna Brandt en Siener van Rensburg kry ons die geleentheid om in hulle insigte te deel. Wat interessant is, is die talle ooreenkomste in hulle uitsprake nadat die Here hulle met visioene toebedeel het. Dit is dus nodig dat ons, by die lees van Johanna Brandt se politieke vlugskrif, Die Smeltkroes, wat in 1918 verskyn het, en verskeie profetiese uitsprake oor die toekomstige tyd van benoudheid vir die blankes in Suid-Afrika bevat, ook sal kennis neem van Siener van Rensburg se visioene.
In Deuteronomium 19:15 en Matteus 18:16 lees ons “op die verklaring of uit die mond van twee of meer getuies sal ’n saak van krag wees” — m.a.w. wanneer twee mense oor ’n saak saamstem, staan dit bo alle twyfel vas. So kan selfs ’n verdagte misdadiger op grond van slegs twee getuies ter dood veroordeel word (Deut. 17:6). Siener van Rensburg en Johanna Brandt was beide kinders van die Here wat gebruik is om ons wat vandag in hierdie toestande waarvan hulle gepraat het leef, te waarsku maar ook gerus te stel oor die uiteinde daarvan.
Hoewel hulle min of meer in dieselfde tyd as profete oor die Boervolk opgetree het, het hulle mekaar glad nie geken nie, en waarskynlik ook nie van mekaar se gesigte of visioene geweet nie. Ons sê “waarskynlik”, want nêrens in haar geskrifte oor hierdie onderwerp, het Johanna Brandt na Siener verwys of selfs net melding van sy voorspellings gemaak nie, en net so is daar in Siener se versamelde visioene, wat gedurende 1916-1926 deur sy dogter Anna opgeteken is, ook geen verwysing na Johanna Brandt nie.
In daardie stadium van haar visioene was mev. Brandt 'n pastoriemoeder in Pretoria, terwyl Siener op sy plaas, Rietkuil, sowat 320 kilometer wes van Pretoria geboer het. Hy was toe 52 jaar oud en sy in haar Iaat dertigerjare.
Die parallelle tussen hulle visioene is meermale so merkwaardig en opvallend dat mens partykeer die gevoel kry hulle het uit een mond gepraat.
Om hierdie parallelle aan die leser bekend te maak, het ons die gesigte van Siener van Rensburg wat met dié van Johanna Brandt ooreenstem, probeer uitwys in die volgende aflewerings. In breë trekke verskil hulle profesië slegs wat aanbieding betref, terwyl die inhoud dieselfde boodskap uitdra. So bv. het hulle albei voorspel dat daar nog ’n bloedige stryd, groot rampe, pessiektes en ellende vir Suid-Afrika in die verre toekoms voorlê. Dit sou begin met ’n reeks stakings hier en ’n oorlog in Europa of die Midde-Ooste. Groot natuurrampe sou ook wêreldwyd voorkom. In albei se visioene is daar fyn beskrywings van strafgerigte wat Engeland juis in die nabye tyd gaan tref en wat tot sy finale ondergang sal lei; Amerika sal sy aansien en mag as Westerse leier verloor; en wanneer hierdie laaste Groot Oorlog verby is, sal Duitsland as die nuwe wêreldheerser en bondgenoot van die Derde Boererepubliek te voorskyn tree.
“Suid-Afrika sal dan nie net die mees begenadigde volk op aarde wees nie, maar ook vir die res van die beskaafde wêreld uitermate groot seën bring... ” het hulle beide gesê.
Ten slotte het albei ook voorspel dat ons die Messias se Wederkoms nie lank ná hierdie gebeure nie sou beleef.
Ons volg op deur elke dag een van die 14 aflewerings te plaas.