JOHANNA BRANDT VERSUS SIENER (3)

Lees reeks by Johanna Brandt versus Siener

Die regverdige minderheid

(In alle tale en geslagte)

En Jesus sê vir hulle: Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder”. (Lukas 12:52-53).

In die wêreld-smeltkroes waarin ons tans verkeer, en op die vooraand van ’n politieke omwenteling in ons eie land, wat nie meer gekeer kan word nie, wil ons met hierdie publikasie probeer om ’n beknopte, maar tog ook betroubare oorsig te gee van feite in verband met verwikkelinge in die land en wêreld, asook die verwagte gebeurtenisse wat hierop kan volg.

By die oordenking van alles wat vir ons duister en onverklaarbaar is, tref die algemene verdeeldheid van die Afrikanervolk ons in die eerste plek. Letterlik, en in ’n meer verskriklike mate as wat die mens hom dit ooit kon indink, leef ons nou in die tydperk van verdeeldheid, soos meer as tweeduisend jaar gelede deur Jesus Chnstus voorspel.

Toe dr. Servaas Rossouw, ’n predikant van Swellendam. Nicolaas van Rensburg in 1920 besoek het, en die middag saam met Siener by sy huis op Rietkuil aan tafel gesit en eet het, het die ou Boereprofeet aan hom gesê: ”Ek sien ‘n verdeelde volk ... en daar is ’n vreeslike kloof wat ons volk van mekaar skei...”

0ns sien dit onder die volke, in die kerke, regerings, organisasies en ook huisgesinne — daardie gees van tweedrag onder eie vlees en bloed. Oppervlakkig beskou, is dit die wapen van die Satan self, en waar ons dit vind, kan ons seker wees dat dit die sluipende verteenwoordigers van die ryk van duistemis is wat aan die werk is. Terwyl daar vrede geroep word, moet ons weet dit sal vorentoe net vererger: Verdeeldheid, tweedrag, ontrou, verraad, alles woorde wat min of meer dieselfde betekenis het. En as Hy dit dan voorspel het, wie van ons gaan dit kan keer?

Vir iemand wat as onpartydige buite ’n kwessie staan, is dit somtyds moeilik om te beslis wie van die twee verdeelde partye reg en geregtigheid aan hulle kant het. Maar nou het die dure ervaring ons geleer dat dit byna sonder uitsondering die “minderheid” is wat vir geregtigheid staan, d.w.s. die minderheid in mag, in geld, posisie, invloed, eer of gesag; nie altyd die minderheid in getalle nie. Dit is die onaansienlike, eenvoudige volksmassa, met hier en daar ’n verligte siel wat bereid is om die voortou te neem, en wat dan ook son­der uitsondering staan vir regverdigheid, dis hulle wat alle wêreldse voordele prysgee vir hul ideale.

Die onaansienlike minderheid, dus, is die verteenwoordigers van die ryk van Lig, en hulle weg is met dorings besaai, hulle deel is die veragting en vervolging van die wêreld, terwyl voorspoed en verering weggelê is vir die maghebbende meerderheid, die regeerders van die volk. Te dikwels sien ons dat hulle die verdrukkers, pleks van die beskermers van hulle volk is, en as ons dit goed beskou, is dit die werklike oorsaak van die seëviering van die onregverdigheid die feit dat die mag in die verkeerde hande is.

Die vraag is nou, verdruk hulle die volk omdat hulle regeer, of regeer hulle omdat die volk verdruk moet word? Gebeur hierdie dinge per toeval, was dit altyd so gewees en sal altyd so bly?

Sover ons kan nagaan, was dit maar altyd so gewees. Wat moet ons daarvan dink? Ons hoef nie eens honderd jaar terug te gaan om dit te bevestig nie.

Dink maar aan die gewetenlose inval van twee vreedsame Republieke jare gelede, en die ongelooflike oorwinning van die geweldenaars! Ofskoon ons dit toe nie ten volle kon besef nie, was verdeeldheid in ons eie range en geledere grotendeels die oorsaak van ons ondergang — ’n verdeeldheid wat op gewetenlose en afskuwelike wyse aangekweek word deur die listige vyand.

Dink aan die mislukte Rebellie van 1914. Staan die woord “rebel­lie” nie reeds vir “verdeeldheid” nie? Was dit nie die opstand van die verdrukte, onaansienlike minderheid teen die krenkende onreg van die magsbehepte meerderheid nie? Laat ons selfs verder gaan — was dit nie die regeerders wat die Rebellie aangevoer en opgesweep het om die minderheid ten enemale te vernietig nie? En was daar ooit groter onreg, ’n meer verpletterende teleurstelling as die einde van daardie opgesweepte Rebellie? Was daar ooit ’n heiliger, ’n meer regverdige saak as dié van opstandelinge wat gerebelleer het teen die misdadige inval van die kolonies van ’n goedgesinde ryk? En tog moes die saak skipbreuk ly, tog moes die voorstanders van vryheid en geregtigheid die drinkbeker van vernedering tot die bodem toe ledig!

Maar wat is dit alles vergeleke met die latere ontwikkelinge, toe die Europese slagvelde gedrenk is met die bloed van Afrikaners om Engeland te ondersteun? Wat van die verpletterende einde van daar­die konflik?

Menslikerwys gesproke, is Suid-Afnka nou vir ons verlore.

Siener: “Met genl. Manie Maritz en die Rebelle se oorgawe ná die slag van Upington in Januarie 1915, is dié wat nie dood is nie, gevange geneem en per trein teruggevat Transvaal toe. Die offisiere is na Johannesburg se fort gestuur en ons burgers na die Kimberley-kompound, waar ons onder haglike omstandighede aangehou is”.

Houthakkers en waterdraers sal ons nou word. Verarm en verag sal ons kinders wees; as vreemdelinge in hulle eie land, sal hulle die oorheerser dien.  Ons, die minderheid, het destyds ons hoop op vryheid gevestig op die militêre mag van Wilhelm, die Keiser van Duitsland, maar staan ons vandag beskaamd en verpletter.

Menslikerwyse gesproke is ons skynbaar vir al­tyd verlore. Maar tog bly die hoop dat ons (Duitsland en Suid-Afrika) mekaar weer sal onderskraag, want die Vryheidsvonk wat sluimer in die hart van talle Afrikaners, het in ons ontvlam, by die hoop op redding wat sou kom deur die Europese oorlog, maar is, voorlopig, weer uitgeblus oor die gewelddadige oorwinnmg van die vyand, ryk aan goud, ryk aan menselewens en ryk aan listigheid.

Ja, ons is as volk verlore. Ons uitnemende skoon land het ons  sien vervreemd van ons geslag onder die vyand se heerskappy, want die indringer is sterk, ’n volk van skyn en bedrog.

Vervolg...