Lauritz Strydom
lees reeks by MASKER AF, ANC
Dit is nou feitlik 48 jaar gelede dat die Rivonia-klopjag plaasgevind het waartydens die opperbevel van Umkhonto We Sizwe, die militêre vleuel van die ANC, ontmasker is. Die lede van die opperbevel sou tydens die Rivonia-hofsaak teregstaan. Na afloop van die verhoor is persone soos Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Elias Motsoaledi, Raymond Mhlaba en andere deur regTer Quartus de Wet tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Op 2 Februarie 1990 het die regering van president FW de Klerk die African National Congress, Pan Africanist Congress en South African Communist Party ontban. Kort daama is Nelson Mandela onvoorwaardelik vrygelaat, soos wat van sy makkers vroeër reeds vrygelaat is. Na sy vrylating het hy dit duidelik en onomwonde gestel dat hy steeds staan vir dit waarvoor hy toe 27 jaar gelede tronk toe gestuur is. En toe is die gebeure nie meer slegs van akademiese belang nie, maar raak dit elkeen persoonlik. Skielik was daar baie vrae wat beantwoord moes word, soos:
Wie is Nelson Mandela?
Waarvoor het hy 27 jaar in die tronk gesit?
Was hy nie maar ‘n onskul dige swart nasionalis nie?
Wat is die doelstellings van die ANC?
Wat is Umkhonto We Sizwe?
Dit is hierdie en ander vrae wat deur die reeks wat volg beantwoord word.
Inleidende opmerkings deur dr Percy Yutar, regspraktisyn gemoeid met die Rivoniasaak.
Toe ek my toeligtingsrede in die sogenaamde Rivonia-saak gelewer het, was die onmiddellike reaksie daarop dat ek die toestand oordryf het en om ‘n bedekte beweegrede my tot die dramatiese gewend het. Die feit is volkome uit die oog verloor dat ek nie ‘n politikus is nie (en nooit was nie) en dat ek as ‘n regspraktisyn in terme van ons reg verplig is om alles wat ek ter toeligting wil sê, te baseer op die getuienis wat gelewer sal word, sowel mondeling as dokumentêr, en dit is al wat ek gedoen het.
Soos ek in die hof opgemerk het, het ek nooit in enige stadium enige instruksie hoegenaamd van die Minister van Justisie of enigiemand anders ontvang nie, regstreeks of onregstreeks, oor wie ek moet aankla en op watter klagtes nie; dit was my verantwoordelikheid, en ek kan daaraan toevoeg dat as ek daardie saak weer de novo moet begin, ek presies weer net so te werk sal gaan. Heeltemal afgesien van wat ek in die verklarings van getuies gelees het, was ek self diep geskok en kon ek beswaarlik glo wat ek in die dokumente gevind het, wat of in die handskrif van die beskuldigdes was of in hul besit. Hierdie dokumente het duidelik geopenbaar dat die skuldiges doelbewus en kwaadwilliglik die pleeg van dade van geweld en vernietiging dwarsdeur die land beraam en bewerkstellig het, dade gerig teen die huise en kantore van Staats- en munisipale amptenare, asook teen alle lyne en verbindingskanale.
Die beplande doel daarmee was om chaos, wanorde en beroering in die Republiek van Suid-Afrika te ontketen, wat volgens hul planne vererger sou word deur die optrede van duisende opgeleide guerrilla-vegters, wat op verskillende gunstige plekke dwarsdeur die land versprei sou wees. Hierdie eenhede sou dan in die verskillende gebiede gesteun word deur plaaslike inwoners, asook deur uitgesoekte manne wat na sodanige gebiede gestuur is.
Die gesamentlike optrede was beplan om tot verwarring, gewelddadige opstand en rebellie te lei, opgevolg op ‘n geskikte geleentheid deur ‘n gewapende inval van die land deur militêre eenhede van buitelandse moondhede. Midde-in die gevolglike chaos, wanorde en beroering, het die beskuldigdes beplan om ‘n rewolusionêre regering tot stand te bring om administratiewe beheer oor die land oor te neem.
Die beskuldigdes het die egtheid van al hierdie dokumente erken en ook dat hul beleid die uiteindelik gewelddadige omverwerping van die Regering van Suid-Afrika ingesluit het.
Dis om hierdie rede dat ek aan die hof voorgehou het dat dit by uitnemendheid ‘n klassieke saak van hoogverraad is; en dit is op daardie bewese feite wat die misdaad uitgemaak het, ongeag wat die misdaad genoem word — dat die beskuldigdes toe skuldig bevind is.
In die breë verskaf die dokumente meer as genoegsame bewys van elke aantyging vervat in sowel die aanklag as in die toeligtingsrede, insluitende
- die betrokkenheid van Moskou, die Kommuniste partye van Algerië, Kuba, Tjeggo-Slowakye, Oos-Duitsland en verskeie ander lande ten opsigte van die verskaffing van geldelike bystand, wapens, ammunisie en militêre personeel, maar dit moes natuurlik stil gehou word uit vrees vir intemasionale reperkussies;
- die feit dat die African National Congress volslae gedomineer is deur die Kommuniste party van Suid-Afrika en dat hulle altesaam namens minder as 1% van die gehele bevolking van Suid-Afrika gepraat het. Die feit dat hierdie dominasie ook geheim gehou moes word vir die gewone lede van die African National Congress, en
- die kollekteer van groot bedrae geld van persone en groepe, en dat die skenkers nie verwittig is van die feite soos in (a) en (b) hierbo uiteengesit nie, en nog minder van die feit dat die geld gebruik sou word vir sabotasie en rewolusie in hierdie land.
Die dokumentêre bewys was so oorweldigend dat dit beswaarlik nodig was om mondelinge getuienis aan te bied ter ondersteuning van verskillende aantygings wat deur die Staat gemaak is, en om daardie rede het ek minder as die helfte van almal van wie die Polisie verklarings geneem het, as getuies geroep.
Om dieselfde rede het ek dit ook voldoende geag om in drie van die vier boekdele wat die Staat se afsluitingsrede bevat, ‘n feitelike ontleding te gee van die dokumentêre bewysstukke en die mondelinge getuienis sonder enige kommentaar hoegenaamd; slegs in die vierde boekdeel is ‘n kritiese ontleding gegee en toe slegs ten opsigte van dokumente handelende oor militêre sake en springstowwe. Na my oordeel het die dokumente meer gesê as wat ek ooit by wyse van kritiese kommentaar kon doen.
Dit is derhalwe geen wonder nie dat ek tydens ‘n aansoek om borg gesê het dat die polisie in al die jare van my ervaring nog nooit ‘n sterker saak voor my gelê het as teen die beskuldigdes in hierdie saak nie!
Sekere aspekte van die saak het my uiters ontstel. Eerstens: Alexander Hepple. Hy het die polisie gesmeek om my te mag spreek, aangebied om getuienis vir die Staat af te lê, en selfs sy eie verklaring getik, wat ‘n magdom van belangrike sake bevat het, asook sy erkenning dat hy lid van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika is. En as bewys van sy goeie trou het hy die wegkruipplek van Goldreich en Wolpe in Mountain View uitgewys.
Ek het hom toegelaat om die destydse leier van die Johannesburgse Balie te spreek en te raadpleeg, asook andere, aan een van wie hy later geskryf en gesê het dat hy tevrede is dat hy op die regte koers besluit het. Net voor sy ontslag het ek aan hom gesê dat ek kan reël dat hy aangehou word totdat hy getuienis afgelê het of dat ek hom kan laat bewaak. Sy antwoord was dat nie een van die twee stappe nodig is nie. Hy het my sy erewoord gegee dat hy nie sou vlug nie.
Hy het!
Dit is wat die erewoord van ‘n kommunis werd is. Tweedens, Albert Luthuli. Hy is ‘n man wat deur die wêreld as ‘n man van vrede toegejuig is en aan wie inderdaad die Nobelprys vir vrede toegeken is. Nogtans het die dokumente getoon dat hy geraadpleeg is aangaande die nuwe beleid van geweld en sabotasie, dat hy dit goedgekeur het en sy seën daaroor uitgespreek het, en dat hy op hoogte van die verwikkelings gehou is.
Derdens, Alan Paton — ‘n man wat in die literêre wêreld en as ‘n liberale denker lofuitings ontvang het. Nog nooit het ek ‘n man so vinnig op ‘n getuiebank sien afpeil, selfs voordat sy advokaat sy naam uitgeroep het nie. Hy het natuurlik geweet dat wat hy te sê sou hê, publisiteit dwarsdeur die wêreld sou geniet. Hy het natuurlik nie geweet dat ek ‘n volledige legger wat deur die polisie oor hom opgestel is, byderhand het nie. Dit is die rede waarom ek die ongewone stap gedoen het om hom onder kruisverhoor te stel, en ek het dit aan die regter so gestel.
My geleerde vriend, mnr TB Vorster, en ek het onafhanklik van mekaar die hoofstukke gelees wat hier volg. Vir sover as wat hulle betrekking het op die feite van die saak, soos tydens die verhoor aan die lig gebring, is hulle korrek en akkuraat aangebied.
Ek twyfel of daar ooit weer ‘n Rivonia sal wees, maar dit is geen rede waarom die Rivonia-verhoor met al sy opsienbarende onthullings ligtelik verbygegaan of vergeet mag word nie. Dit is moeilik om te glo, dat van ten minste drie plekke in die hart van die Rand af — Rivonia, Travallyn en Mountain View — ‘n helse en gewelddadige rewolusie beplan kon gewees het en dat sommige van die samesweerders, soos Goldreich, in sake- en sosiale kringe as skadelose, onskuldige mense aangesien kon gewees het.
Vervolg...