Lees reeks by Straat- en Plekname van Ou-Pretoria
JAN PLOEGER
Nadat die leser deur 'n kort inleiding vlugtig met 'n deel van ons hedendaagse stad se voor- en vroeë geskiedenis kennis maak, kom die straat- en plekname in die omgewing van Kerkstraat alfabeties aan die beurt. Dit geld ook die name van strate in die oudste voorstede, te wete Sunnyside (1887), Arcadia (1890) en Muckleneuk (ook in die jare 1890), en die naaste omgewing van hierdie dele van ons stad. Nietemin word die leser daarop gewys dat die boek nie op volledigheid aanspraak maak nie.
In die stadsgedeeltes lê die oorsprong van die uitbreidingsdrang wat Pretoria, die huidige administratiewe hoofstad van die Republiek van Suid-Afrika, tot vandag toe kenmerk.
Inleiding
'n Vroeëre Pretoriase joernalis, H C Marais (1852-1928), 'n broer van die bekende digter, skrywer, joernalis en natuurvorser Eugene Nielen Marais (1871-1936), het die volgende in verband met die naamgewing van strate, plase, poorte, riviere, spruite, berge, driwwe en valleie gesê: "Die name is destyds nie gegee soos nou so dikwels gebeur, as gevolg van 'n gril of 'n nuk nie, maar omdat dit uitdrukking gegee het aan iets wat aan die plek of voorwerp behoort het."
Die joernalis, letterkundige, taalstryder en historikus, dr Gustav Schoeman Preller (1875- 1943), het hierdie gedagtes nie alleen met instemming in sy Ou Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekker-periode / Old Pretoria: brief story of the city's Voortrekker period (Pretoria, 1938) aangehaal nie, maar het daaraan toegevoeg: "Dieselfde geld van Pretoria se straatname, soos deur die oumense gegee. En hierdie name - dit mag hier terloops gesê word - word nie opeens na die opmeting uitgesaai nie, maar na gelang die strate in gebruik geneem word".
Van dieselfde skrywer kom ook die volgende gedagte: "Die gee van name is, as alles gesê en gedaan is, die voorreg slegs van diegene wat die eerste die behoefte voel aan sulke onderskeie benamings". Vervolgens het dr Preller tereg teen hulle te velde getrek wat weens aanmatiging, onkunde en gebrek aan eerbied ou, gevestigde name deur ander vervang het. Die optrede is deur hom as "die mees ondankbare vandalisme" bestempel.
Vervolgens het dr Preller die herkoms van 'n aantal ou straatname geskets.
In Pretoria 1855-1955 (Pretoria, 1955) het dr W H J Punt (1900-1981) hom beywer om in sy bydrae "Die oord-, wyk- en straatname van Pretoria" 'n groot aantal waardevolle besonderhede oor die boeiende onderwerp aan die belangstellende leser voor te hou.
Tans beskik sowel die belangstellende stadsbewoners as hulle medelandgenote en ander liefhebbers van hierdie gegewens van elders oor die vrugte van die jarelange werksaamheid van mense soos mnr T E Andrews, reeds jare 'n geesdriftige bestuurslid van die Pretoriase Historiese Vereniging (Genootskap Oud- Pretoria) en lid van die Naamkundevereniging van Suider-Afrika.
Waar die reeds genoemde publikasie Pretoria 1855-1955 jare gelede al uitverkoop is, bestaan daar onses insiens 'n behoefte aan 'n kort, bondige skets oor die voor- en die vroeë geskiedenis van die hedendaagse Pretoria. Binne hierdie raamwerk kom die resultate van mnr Andrews en ander se navorsingswerk onses insiens beter tot hul reg.
Die volgende gegewens is, tensy anders vermeld, hoofsaaklik aan Pretoria 1855-1955 ontleen. Belangstellendes wat binne 'n groter raamwerk meer oor hierdie onderwerp wil lees, word onder meer na Trewhella Cameron (hoofredakteur) en prof dr S B Spies (advise- rende redakteur) se meer resente Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld (Kaapstad, 1986) verwys.
Wanneer die leser aan die geskiedenis sowel as aan die voorgeskiedenis van Pretoria en sy omgewing aandag wy, word dit duidelik dat die oudste opgetekende gegewens oor hierdie kontrei ongeveer 150 tot 160 jaar oud is. Die feit hang ten nouste saam met die koms van die eerste blanke reisigers, soos sendelinge, jagters, handelaars en wetenskaplike navorsers. Hulle is op hulle beurt deur blanke nedersetters, die Voortrekkers, gevolg.
Terwyl die hedendaagse historikus se werksaamhede en beskouings oor die tydperk uitstrek waarvan die eerste geskrewe berigte bewaar gebly het, berus ons huidige kennis van die eertydse swart bevolking uit die omgewing van die Apiesrivier op mondelinge oorlewerings wat of aan die stambome van eertydse leiers, of aan belangrike gebeurtenisse gekoppel is. In sommige gevalle gaan die gegewens tot ongeveer 1500 nC terug.
Verder terug, in die onopgetekende verlede, berus ons huidige kennis van die latere Pretoria en sy omgewing onder meer op die resultate van die argeologie, die paleontologie en gegewens van geologiese, bodemkundige, botaniese en soologiese aard.
Agter die waas van hierdie slegs gedeeltelik rekonstrueerbare verlede lê onbeantwoorde vrae oor die lotgevalle van die mense wat duisende jare gelede in hierdie gebied gelewe, gewerk en heengegaan het.
Volgens oorlewerings het die Bakwena, 'n Wes-Sothostam, in die sewentiende eeu oor die gebied geheers wat, in terme van die huidige benamings, deur die Krokodil-, die Apies- en die Pienaarsrivier begrens was. In die gebied, met sy weelderige plantegroei en volop water en wild, het 'n mate van rus geheers tot met die koms van die grondlêer van die Matabeleryk, Mzilikazi (Mosilikatse of Silkaats). Hierdie leier het in 1825 met sy volgelinge uit Zoeloeland aangekom om daar, sowel as in ander gebiede waar hy en sy impi's tot met hulle aftog na die noorde (omstreeks 1837) verskyn het, 'n bewind te voer wat deur verwoesting, roof, moord en doodslag onder die plaaslik gevestigde stamme gekenmerk was. Toe Mzilikazi in 1826 sy veldtog teen die Bakwena afgesluit het, was die stam grootliks uitgewis. Die wat oorgebly het, was vlugtelinge of vasalle van die Matabeles en het onder moeilike omstandighede verkeer. In teenstelling met hulle was die Matabeles, wat groot gebiede noord en suid van die Vaalrivier ontvolk het, welvarend en magtig.
In die jare het Mzilikazi sy tydelike krale langs die Apies- en die Krokodilrivier deur permanente krale vervang. Een van die vestings, enKungwini ("die plek van die mis"), het volgens sommige skrywers op die regterwal van die Apiesrivier, naby die huidige Pretoria-Noord, verrys, terwyl die hoofstat van hierdie heerser tussen die Apies- en Krokodilrivier geleë was.
In 1829 het twee Skotse handelaars en jagters, Robert Schoon en William McLuckie, na hulle vertrek uit Grahamstad, tot in Wes- Transvaal deurgedring en vervolgens in die omgewing van die Apiesrivier met Mzilikazi in aanraking gekom. Mzilikazi het twee afgesante saam met die terugkerende handelaars na die sendingstasie van die bekende sendeling, kenner van die Tswanataal, Bybel- vertaler en reisiger, Robert Moffat (1795-1883), in Kuruman gestuur. Die afgesante moes Mzilikazi in verbinding bring met 'n tot nog toe onbekende wereld, die van die blankes.
Later is Moffat en James Archbell (1798- 1866) saam na die Matabelekoning en sowel die ontmoeting as die daaropvolgende waarnemings is deur Moffat in sy bekende Missionary labours and scenes in Southern Africa (London, 1842) gepubliseer.
Hierdie blanke besoekers is in 1835 deur onder meer die militêre geneesheer, natuurvorser en ontdekkingsreisiger, sir Andrew Smith (1797-1872), gevolg. 'n Jaar later sou die reisiger, skrywer en kunstenaar, kaptein (later majoor) sir William Cornwallis Harris (1807- 1848), wat onder andere deur sy publikasie The wild sports of southern Africa (London, 1839) bekendheid sou verwerf, sowel die Matabelevors as die omgewing van die Kashane-bergreeks uiters gevoelvol beskryf.
Hierdie en ander besoekers het 'n magtige Matabeleryk aanskou wat ewewel nie onoorwinlik was nie. In 1830 het 'n Zoeloemag die alleenheerskappy van Mzilikazi betwis; 'n jaar later het die Griekwaleier Barend Barends, aanvanklik met welslae, groot kuddes vee in strooptogte noord van die Vaalrivier gebuit. In 1832 het Zoeloes die Matabelekoning uit die omgewing van die Apiesrivier verdryf sodat hy verplig was om 'n nuwe hoofstat noord van Mosega in Wes-Transvaal te betrek. Die vraag was of hy daar veilig sou wees.
In 1835 het die Groot Trek begin en leiers soos Louis Tregardt (1783-1838), Johannes Jacobus van Rensburg (1779-1876) en Andries Hendrik Potgieter (1792-1852) en hulle volgelinge het die Kaapkolonie verlaat en oor die Oranje- en Vaalrivier noordwaarts getrek.
Die verdrywing van die Matabeles en die einde van Mzilikazi se skrikbewind suid van die Limpopo het weggevlugte stamme na die verlate Transvaalse vlaktes laat terugkeer. Slawe is vrygestel en geleidelik het die heropbou begin. Ook het groepe Voortrekkers die landstreke wat Mzilikazi en sy impi's aanvanklik verower en daarna ontruim het, as vestigingsgebiede begin beskou.
Die oudste dorpe wat hul ontstaan aan die aanwesigheid van 'n aantal Voortrekkers in Wes-Transvaal te danke het, is Klerksdorp (1838) en Potchefstroom. Laasgenoemde dorp is ook in 1838 aangelê en na die Voortrekkerleier en latere kommandant-generaal Andries Hendrik Potgieter (1792-1852) genoem. In 1845 is die dorp Andries Ohrigstad, in Oos- Transvaal, aangele en vier jaar later is die dorp Lydenburg gestig.
In 1848 het die medestigter van die republiek Natalia, die Voortrekkerleier en kommandant-generaal Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (1798-1853), hom met 'n deel van sy volgelinge in Transvaal gevestig. Deur die uittog uit Natal is die swaartepunt van die blanke samelewing in Transvaal gedeeltelik weswaarts, na die omgewing van die Magaliesberge, verplaas.
Kommandant-generaal A W J Pretorius was die stigter van die dorp Rustenburg (1850), terwyl sy seun, die latere president Marthinus Wessel Pretorius (1819-1901), in 1855 die beslissende stukrag was agter die stigting van die dorp Pretoria, genoem na sy roemryke vader. Van al bg dorpe, insluitende Soutpansbergdorp (1848), was Potchefstroom met sy 2 000 blankes in 1856 die grootste.
Omstreeks 1850 het faktore soos pogings om 'n oplossing vir partyskappe en wrywings tussen blanke leiers en hulle onderskeie volgelinge te vind, asook die sterker wordende strewe om gesamentlik swart en Britse bedreigings die hoof te bied, daartoe gelei dat 'n nuwe, sentraal geleë dorp mettertyd in Transvaal gestig is. In so 'n dorp kon die sentrale regeringsgesag, wat dan op 'n vaste setelplaas gevestig sou wees, uitgeoefen word.
Sowel kommandant-generaal M W Pretorius as ds Dirk van der Hoff (1814-1881) het in 1853 die behoefte aan 'n setelplaas van die regering in die sentrum van die land verder bepleit, maar voorlopig het die saak nie die steun van die meerderheid Volksraadslede geniet nie. In 1854 is die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk op Rustenburg gehou. By die geleentheid is memories van verskillende veldkornetskappe, soos die van A P J van der Walt, aan die vergadering voorgelê om op die plase Elandspoort en Daspoort 'n gemeente te stig. Onder voorsitterskap van ds Van der Hoff is die memories deur die Algemene Kerkvergadering ondersteun. Die Volksraad het die besluit bekragtig en ds Van der Hoff het, ter gedagtenis aan die heengegane kommandant-generaal A W J Pretorius, die nuwe gemeente Pretoria Philadelphia, oftewel "Pretorius-broederskap", gedoop.
Vervolg...