Kriewelkop
Kyk hoe ver het die satan reeds gevorder om die Here te probeer verneder en Hom aan mense te probeer gelykstel. Hy het seker eendag gesit en dink: "Ek slaag nie daarin om God en sy Seun uit die pad te kry nie; ek slaag ook nie daarin om mense te laat glo dat daar nié 'n Drie-enige God bestaan nie, selfs nie eers met my lekker bogstorie oor die sogenaamde ewolusieleer nie; ek slaag ook nie met al die godslasterlike films wat ek die mense laat maak en sy Naam daarin onophoudelik te laat misbruik, om van Hom ontslae te raak nie want elke keer as 'n persoon sy Naam so lekker los en vas uiter klink dit al meer na 'n erkenning van God se bestaan. Nou gaan ek my daarop toespits om Hom só gelyk aan die mensdom te stel dat Hy niks meer spesiaal in hulle oë sal wees nie – hoe sal mense nog vir Hom respek hê as Hy net so gewoon soos hulle is!" En só het die duiwel begin om allerhande plannetjies uit te voer om Jesus Christus só aards en menslik as moontlik voor te stel. Een van hierdie vuil planne van hom was 'n televisie-advertensie wat in Suid-Afrika gewys het hoe Jesus op water loop omdat Hy kwansuis verfris word en weet waar om te trap om op versteekte rotse te loop deur 'n wonderbaarlike energiedrankie, dis nou die bekende Red Bull, daai kafeïn-oorlaaide gemors.
Maar, en ek sê dit met trots op my mede-christene, was die bohaai daaroor so groot dat die vervaardigers van dié drankie die lasterlike advertensie gister van die lug gehaal het. Dit is Dinsdag uitgesaai en Woensdag afgehaal – 'n behoorlike onderspit vir ou Lucifer! En nie net Christene het erge besware daarteen gehad nie, ook die Moslems het ernstig beswaar aangeteken oor die uitbeelding van Jesus Christus wat op water loop. Suid-Afrika se Moslemraad het gister gewaarsku oor die gevolge van "sekulêre ekstremisme" teen enige godsdienstige geloof. Daar word gesê dat 'n "belediging en satire" van Jesus "die fondament van die Islamitiese teologie" aantas. In 'n boodskap aan Kardinaal Wilfrid Napier, hoof van die Suider-Afrika Rooms-Katolieke Biskoppekonferensie, het die Moslemraad gesê die advertensie is 'n aanval op die Christendom, Islam en godsdiens as 'n geheel. Christus is volgens hulle 'n gerespekteerde profeet in Islam. Nogal iets waarby ons christene kan leer: as ons net ons 'profete' só gerespekteer het, dink net hoe heilig sou ons ons Skepper beskou het, hoe warm sou ons harte vir Hom geklop het – hoe hard sou ons dan beswaar teen sulke sataniese aanvalle gemaak het...!
Nietemin, so wyd het die protes getrek dat Suid-Afrika se Rooms-Katolieke biskoppe 'n beroep op Christene gedoen het om nie Red Bull te drink tydens hulle tradisionele vastydperk in hierdie dae van Paasvieringe voor volgende maand nie al het hulle nie 'n volle kommersiële boikot gevra nie. "Ons wil hê dat ons stemme verenig word in enige sekulêre ekstremistiese aanval om duidelik te maak dat skending van godsdienstige simbole en heilige ruimtes nie aanvaarbaar is nie," het die raad gesê. Kardinaal Napier het vroeër 'n beroep op Rooms-Katolieke gedoen om enige geld wat hulle spaar aan Red Bull, te skenk aan liefdadigheid gedurende Lydenstyd – nie 'n slegte idee nie; waarom reël ons christene nie ook 'n georkestreerde insameling en 'n welsynskenking vir ons eie mense nie? En as ons te sleg is om 'n gesamentlike poging op die been te bring, waarom hou elkeen wat wel die peperduur Red Bull drink, nie sommer heeltemal op daarmee en koop iets wat sy gesondheid sal bevoordeel nie?
Chris Townsend, 'n amptenaar van die Biskoppekonferensie in Suid-Afrika het 'n beroep gedoen op sulke vervaardigers om 'n sensitiwiteit teenoor ander se oortuiginge te openbaar. In die verlede het spotprenttekeninge van Islam se profeet Mohammed gewelddadige betogings in Europa tot gevolg gehad en sulke aanstoot kan groot opstand veroorsaak. Natuurlik moes die vervaardigers hulself verskoon nadat hulle goed geroskam is en was dit glo nooit hulle bedoeling om iemand se gevoelens seer te maak nie, maar ons weet waarom hulle dit doen, en waarom hulle dit voortdurend weer sal doen. Genadiglik slaap ons grote God nie en daar sal 'n dag aanbreek, so seker as wat ek hier skryf, dat die satan gebind sal word waarna hy nooit weer die aanvuurder van sulke dade sal wees nie - en Lucifer weet sy dae word min, daarom dat hy soos 'n brullende leeu rondloop om te sien wat hy kan verslind!