DIE KLEUR VAN BLOED BINNE DIE ANC

Kriewelkop

Daar ís darem maar net sommige dinge wat 'n witmens se verstand te bowe gaan – en dít is nie die dinge van witmense nie! Ek meen nou so: hier staan onse uit-die-ANC-geskorste Julias daar in Illovo nog steeds onder die vaandel van die ANC en vertel vir hulle wat om te doen. Dis nou met betrekking tot die voormalige ANC-hoof van misdaad, of is dit die misdaadhoof...  nietemin, sy naam is Richard Mdluli en moet glo uit die polisie gehaal word en 'n ambassadeurspos in Somalië kry. So sê Juju vir Zuma moet hy doen. Dít opsigself is egter nie vreemd nie want dis ou tradisie in die ANC om elke ou regeringskelm se warm water so bietjie af te koel met 'n ander pos wat selfs groter inkomste bring.

Wat seker ook nie vreemd was nie maar vol aksiebelaaide beloftes, is Malema wat sê hy is nog steeds leier van die ANC-jeugliga, en dat hy binnekort Zuma se plekkie in die son gaan afneem. As dit darem nie 'n doodsdreigement is nie is my vel nie wit nie. Die joernaliste daar in Illovo teenwoordig moet dít glo in die annale van die geskiedenis aanteken, sê Julias, dat hy baie binnekort die nuwe president van die ANC gaan wees. Volgens hom het hy 'n keuse: hy kan inval met die stroom, of hy kan baklei. En hy sê hy gaan defnitief nie inval met waar ander hom wil pos nie want hy het swart, groen en goue bloed en sal binne die ANC lewe of sterwe. Mens kan nie help om te wonder watter kleur Zuma se bloed dan is nie.

So van lewe en sterwe gepraat, mens wonder ook waarheen Zuma gaan verhuis wanneer Malema president is...

Keith Khoza, segsman van die ANC, sê dat hulle glad nie van plan is om kommentaar te lewer op Malema se baldadige uitlatings nie. Dan sal ons maar moet wag en sien watter kleur bloed daar binnekort binne die ANC vloei...