Kriewelkop
Met sulke slim ministers gaan ons nog ver kom. Hierdie maand gaan die dubbele prys aan die minister van Landbou, Bosbou en Visserye, ene Tina Joemat-Pettersson. Sy reken dit is nie nodig om ondersoek te doen na die doeltreffendheid van entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig word nie. Solank daar nog geen verslae van ondoeltreffendheid is nie hoef ons nie te bekommer oor die veiligheid van dié entstowwe nie, meen sy. Nou wonder mens net hoe daar hoegenaamd verslae van ondoeltreffendheid kan wees as daar geen ondersoeke gedoen word nie, of sal die tokkelossie ons kom vertel indien daar enige ondoeltreffende entstowwe is...
Volgens die minister vervaardig die OBP sy entstowwe in ooreenstemming met internasionale standaarde wat maak dat daar glo geen rede tot kommer is nie. Die minister bedoel seker dat as die ANC plaaslik die doeltreffendheid en veiligheid van die entstowwe moes waarborg sou ons wel rede tot kommer hê maar noudat dit volgens internasionale standaarde gedoen word is alles blykbaar veilig terwyl dit ingevolge registrasievoorwaardes gewaarborg word. Ongelukkig was die laaste sertifisering in 2008 en intussen krap boere hulle koppe oor die slenkdalkoorsprobleem wat waarskynlik hoofsaaklik floreer as gevolg van ondoeltreffende entstowwe. ’n Amptelike klag teen die OBP is glo in April vanjaar in die kantoor van die Registrateur aangeteken. Die minister sal seker weer die boere die skuld hiervoor gee...
Minister -Pettersson kry hierdie maand sommer twee pryse vir haar slimmigheid want sy het weer eens die belastingbetaler uitoorlê deur hulle geld onregmatig te gebruik om geel T-hemde met Zuma se gesig – almal is bly dis net sy gesig - vir die ANC-ondersteuners te druk. Die normale begroting sal mos nie genoeg wees vir al haar ANC-reklame en ander lekker dingetjies wat honderde duisende rande kos nie...