HOE ONS NUWE VOLKSLEIER LYK

 KRIEWELKOP


In gesprekke met volksgenote besef ek dat elkeen wat hoop op die vryheid van ons Afrikanervolk soms dink en wonder hoe die leier van ons volk sal lyk, watter eienskappe hy sal hê, daardie man na wie ons volk lank reeds uitsien en in die hitte van die stryd so na opgesien sal word? Sal dit iemand opspraakwekkend wees, byvoorbeeld met 'n groot bankbalans, of 'n yslike politieke loopbaan? Dalk een van die manne wat die afgelope tyd baie in die nuus was om die meeste kalklig te kry?

My gevolgtrekking is dat dit nie iemand van hierdie faam sal wees nie maar 'n persoon wat tot sover sonder groot vertoon en onopgemerk die volk gedien het, en bereid is om dit ook verder te doen sonder verering en vergoeding. Op hierdie tydstip in Januarie 2011 is alle reggeaarde Afrikaners en Boere dienaars van ons volk en nie heersers nie. Minstens veronderstel om te wees! Want daar het nog niemand na vore gekom wat voldoen aan die eis van dié volk wat alles van hul leier gaan vra nie. En as die toekomstige leier van ons volk dié toets wil slaag dan sal hyself gespeen moet wees van wat kleinlik in elke mens se lewe is.

  Dit kan ‘n bietjie van ‘n stryd wees vir die meeste manne van ons tyd.  Dit is nie so maklik om onselfsugtig te wees nie, dit is nie so maklik vir ‘n mens om homself geheel en al te gee nie, maar dié wat leiers wil wees, moet dit doen.  Hy sal nie net níé liederlike geraamtes in die kas moet hê nie maar waaragtig 'n eerbare en onselfsugtige verlede moet kan toon.

Dié man wat die volk wil lei, by uitstek in moeilike tye soos hierdie jaar waarin ons dinge gaan beleef bo ons hoogste verwagtinge, moet dit bo alles kan doen uit onselfsugtige oortuiging en nie vir eie eer of selfgewin nie, want die volk eis alles, volkome toewyding, vertroue, en onselfsugtige leiding; nie net leiding op een of twee gebiede nie maar op elke denkbare gebied wat van 'n volk 'n volk maak. 'n Leier vir hiérdie volk in sy huidige nood kan net 'n leier wees deur met sy hele wese die dienaar van die volk te wees.   Dít is die grootste funksie en ook die grootste voorreg van 'n ware leier. En hierdie eienskap sal ver bo die ander insigte wat hy daarby benodig moet uitstaan.

Dus, as u 'n leier vir die volk soek, begin by hierdie eienskap van diensbaarheid, iemand wat bereid is om sy lewe só dienend te wy dat hy ook bereid sal wees om dit midde in die stryd ter wille van sy volk af te lê omdat hy niks belangriker as sy volk se vryheid het om te verloor nie.