DIE YS SMELT WERKLIK...

SNEEU, YS EN REWOLUSIES...

Kriewelkop

Die interessante weerpatrone met baie sneeu selfs tot in noordelike dele van Transvaal die afgelope dae herinner weer aan die vreemde verskynsels van natuurrampe die afgelope paar jaar. Vanaf 2008 het ons gereeld in die nuus verneem van reuse ysblokke in die Noord- en Suidpool wat teen 'n onrusbarende tempo begin smelt. Soveel so, dat daar gepraat word van 'n ekologiese ramp wat op mens en dier wag.  Ons hoor gereeld van aardverwarming wat by die dag toeneem. Ons het ook verneem van meer as 30 eilande van gesamentlik sowat 10 miljoen hektaar binne die Noordelike Halfrond wat onder seewater verdwyn het.

In Engeland het die Northfolk-omgewing oorspoel en begin ook onder die water wegraak. Sommige eienaars van historiese geboue het heeltemal ontruim omdat die seewater die rotse waarop dit gebou is gevaarlik diep uitgespoel het. Talle mense het eiendomme in die Noordelike deel van Engeland verlaat, kuspaaie spoel in groot stukke weg en grondwalle stort die see in. Onthou toe Siener van Rensburg voorspel het dat God met Engeland as gevolg van al sy ongeregtighede wat hy reg oor die wêreld aangevang het, sal afreken deur Engeland heeltemal onder die see te laat verdwyn?

Nog gebeure behalwe die smelt van ys sal waarskynlik meebring dat groot gedeeltes land onder water sal verdwyn.

Die direkteur van die Benfield Hazard-navorsingsentrum in Londen, prof Bill McGuire, het twee jaar gelede begin vrees dat 'n mega-tsunami 'n deel van Cumbre Vieja, 'n vulkaanuitbarsting op La Palma, een van die Kanariese Eilande aan Afrika se weskus, in die Atlantiese Oseaan kon laat stort. Wetenskaplikes onder sy leiding beweer La Palma is besig om in twee te breek na 'n vorige vulkaniese uitbarsting. Die westelike flank het reeds 4 meter seewaarts geskuif nadat dit gedeeltelik afgeskeur het.

By Potchefstroom se universiteit is daar 'n afdeling vir omgewingswetenskappe waar ontwikkelingstudies gedoen word waar onder andere vasgestel is dat die yslike stuk afgeskeurde eiland mettertyd die see inbeweeg en dat die snelheid hiervan sal bepaal hoe groot die volgende golwe sal wees. Prof Kobus van der Walt vertel dat golwe van baie meters hoog  moontlik is, veral wanneer groot stukke losbreek en in die see val. 'n Waterkoepel van tot 900 meter hoog en talle kilometers breed kan onmiddellik ontstaan. Wanneer dit inmekaar val sal dit minute daarna 'n krag van branders veroorsaak wat met die spoed van 'n straalvliegtuig oor die Atlantiese Oseaan sal jaag en heel moontlik oor talle eilande spoel.

In Maart 2005 het die tydskrif Popular Mechanics geskryf dat hierdie tsunami baie groot invloed op die gebiede noord, wes en suid van die Kanariese Eilande sal uitoefen. Golwe so hoog soos 100 meter sal die westelike Marokko en Sahara in minute oorspoel en later wanneer dit Brasilië bereik wat ongeveer 4 000 km weg is van die Kanariese Eilande, steeds tot 50 meter hoog wees. Mens kan jou nie indink hoe verskriklike krag hierdie golwe sal uitoefen op alles wat in hulle pad is nie.

So is Brittanje,  Spanje, Frankryk en Portugal ook genoem om getref te word op die pad van hierdie massas water wat uiteindelik die Amerikaanse ooskus by Florida asook die Karibiese Eilande sal oorspoel. Na beraming sal miljoene mense verdrink.

Die gevaar van hierdie betrokke stuk Kanariese eiland is so wesenlik dat daaroor wêreldwyd studies gedoen is. Dr Simon Day en dr Steven Ward van die Universiteit van Kalifornië het ook 'n verslag oor die onkeerbare gevolge van die skeuring opgestel.  Hulle is van mening dat aardverwarming sal bydra om die proses te versnel aangesien daar regstreeks 'n verband is tussen enorme tsunami's en warm tydperke soos wat ons nou inbeweeg; oral in die natuur is reeds sigbare onstabiliteit te sien.

By die Noordpool het wetenskaplikes in 2008 verstom gestaan oor die miljoene ton metaangas wat uit smeltende grondys in die atmosfeer vrygestel word, terwyl dit vanuit die seebodem na die oppervlak borrel. Hulle gevolgtrekking is dat die metaan voor die laaste ystyd daar vasgevang is en nou vrygelaat word omdat die ondersese laag grondys wat tot sover 'n deksel gevorm het nou vinnig smelt.

Ook Steve Conner, The New York Times se wetenskapredakteur, het 'n berig oor navorsing geskryf waar bevind is dat die groot hoeveelhede metaan in die Arktiese omgewing vrygestel word as gevolg van stygende temperature. Dit het die see-ys so vinnig laat smelt dat die bedekte oppervlakte elke jaar kleiner as te vore is. Klimaatdeskundiges het weer gewaarsku dat die gasvrystellings tot dramatiese stygings in temperatuur van die Noordpool kan lei wat sal veroorsaak dat ys al vinniger sal smelt en naderhand groot dele van Europa onder water kan laat wegraak.

Volgens dr Paul Sumner en sy kollegas van die Universiteit van Pretoria is die verwagting dat Suid-Afrika gedeeltelik kan deurloop indien hierdie verwagte tsunami ontstaan en sneeubal. Dan sal die suidelike dele van die Wes-Kaap, die Kaapse vlakte, St. Lucia, Langebaan en St Helenabaai die ergste getref word.  Suid-Afrika se relatiewe styl kuslyn sal tot sy redding strek sodat daar moontlik nie so baie skade sal wees soos in sommige plat gebiede nie.

In 2008 is satelietfotos vertoon wat aandui dat skepe feitlik ongehinderd deur gebiede in die Noordpool kan beweeg omdat baie see-ys al weggesmelt het. Manne wat in die sestigerjare die Antarktika-ekspedisies meegemaak het sal onthou dat dit tot sewe weke geduur het om van Suid-Afrika tot daar te reis as gevolg van die talle onderbrekings wanneer hulle uit die ysbreker moes klim om die ys los te kap sodat die skip verder kon vaar - en later in slegs drie weke dieselfde afstand afgelê het omdat groot ysblokke nie meer so 'n wesenlike oponthoud is nie.

Volgens die Europese Ruimte-agentskap is daar nou die eerste maal dramatiese openinge in die Europese deel van die Noordpoolsirkel. Daar reageer die omgewing ook drie maal vinniger op aardverhitting as enige ander plek in die wêreld. Waar see-ys voorkom word die strale van die son in die ruimte teruggekaats wat tot afkoeling lei. Die dele waar die see-ys egter gesmelt het en waar reeds groot oop gebiede water is, word die sonlig geabsorbeer en gee dit aanleiding tot 'n verhoging in temperatuur.

Volksblad van 5 Mei 2007 berig hoe die reënwoude wat uitgekap word meewerk om van groot dele woestyn te help maak as gevolg van oorverhitting. Die punt is bereik waar ekologiese verandering besig is om handuit te ruk.

Wetenskaplikes beweer die seevlak sal met 7.3 meter styg wanneer die hele gletser op Groenland smelt. Satellietbeelde toon aan dat die Wilkins-ysbank by die Antarktiese skiereiland reeds begin smelt het en in 2008 het van die ongeveer 6. 5 miljoen vierkante kilometer binne een maand nagenoeg 1.2 miljoen vierkante meter gesmelt.

Siener het voorspel dat die wêreld se groot probleme sal begin wanneer "die ys begin smelt".  Ons verneem die afgelope tye van rewolusie in Tunisië, Egipte, China, Griekeland, en Amerika se Barak Obama hou hom nie hieruit nie. Ons sal waarskynlik in die volgende tye van nog meer lande se betrokkenheid en van meer oproerigheid hoor.

Intussen is Suid-Afrika goed oppad om die piek van sy eie krisisse te bereik.  Hier sal ons binnekort genoeg "oproerigheid" beleef sonder om ons veel te wil steur aan die buiteland - nie dat hulle hul dan veel aan Suid-Afrika sal steur nie.

Maar daar was ook 'n troos vir ons in Siener se woorde: Wanneer die res van die wêreld in sy bloedigste gevegte en oproere verkeer, sal Suid-Afrika se probleme uitsorteer word; ons moet net nie moedeloos word nie maar aanhou veg al word dit "so donker dat ons nie ons eie hand voor ons oë kan sien nie", het Siener gesê. 

Laat dít vir ons die motivering wees om in geloof met God heelvoor hierdie onvermydelike pad te stap en as geloofsoorwinnaars weer ons Gelofteland te help herstel tot die pragtige land wat Hy aan ons gegee het sodat ons weer hier veilig en vry hier kan woon.