FW SE SWAARD – GOD VERHOED DIT!

Kriewelkop

"As Ek die swaard oor 'n land bring, en die mense van die land neem 'n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en waarsku die mense – as iemand hom nie laat waarsku nie en die swaard neem hom weg, dan is sy bloed op sy eie hoof. As daarenteen die wag die swaard sien kom en die basuin nie blaas nie sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard neem 'n siel uit hulle weg – sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis."

Met die stakings wat tans eskaleer en die chaos wat hieruit gaan voortkom, dink mens onwillekeurig weer aan die verraderlike leuen van FW de Klerk in 1994 dat hy glo geen ander keuse gehad het nie as om die land aan 'n swart kommunistiese bestel oor te gee, omdat dit kwansuis onregeerbaar gemaak sou word. Daar was destyds nie sprake van, of 'n vergelyking met die huidige toestand van stakings, misdaad, moord en anargie nie; tog het hy met daardie leuen weggekom, dit aan 'n spul korruptes gegee, en dáármee die swaard oor Suid-Afrika laat kom. Hiervoor sal hy en sy bende sowaar as wat dit hier geskryf staan, verantwoording doen.

Ons moet ook nie vergeet nie dat hy gesê het hy die land binne vyf jaar weer sou regeer. Dit as sulks is 'n bekentenis dat hy goed geweet het dat 'n swart regime die land werklik onregeerbaar sou maak, dat die burgers so magteloos sou staan dat hulle hom en sy meelopers later weer sou kies wanneer hulle nie meer kan huishou met die gemors in die land nie. Hy het hom slegs met die uithouvermoë van die land misgis, vandaar dat dit nie binne vyf jaar gebeur het nie. Die ekonomie, asook die geduld van eerbare belastingbetalers het egter 'n plafon, maar mag God dit verhoed dat die De Klerk-bende weer oor Suid-Afrika regeer!.

En daardie uitdrukking van die land op 'n skinkbord weggegee, moet ons tog nie geïsoleerd ophaal nie: moet nóóit vergeet dat De Klerk 'n Nobelprys en sowat R45 miljoen van die Wêreldgeldmag daarvoor gekry het nie.

Die groot stakings wat die land nou in die oë staar sluit in duisende petroljoggies, paneelkloppers, handelaars in motor- en motoronderdele, motorwerkswinkels, ens.  Die vakbond 'National Union of Metalworkers of South Africa' (Numsa), se onredelike looneise het minder as niks te make met loonvergoeding. Vanwaar gesien 'n R30 per uur verhoging vir werkers wat reeds meer as R6000 per maand kry, 20 persent verhoging vir nagskofte gewerk, en sommer nog 15 persent vir almal wat in die middae werk! Die revolusionêre magte hieragter weet baie goed dat die lone-kwessie 'n uitstekende metode is om die land onregeerbaar te maak: stel onhaalbare eise sodat die saak solank as moontlik uitgerek kan word en siedaar!.

Daar is rede om te glo dat hierdie net die begin van baie groter onwrigting is, letterlik 'n swaard wat die lewe van baie burgers kan eis. En ons kan hierdie swaard oor ons land slegs voor FW en Kie se deur lê – van wie die bloed verhaal gaan word. Lees gerus wat die HERE hieroor sê:

As Ek die swaard oor 'n land bring, en die mense van die land neem 'n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en waarsku die mense – as iemand hom nie laat waarsku nie en die swaard neem hom weg, dan is sy bloed op sy eie hoof. As daarenteen die wag die swaard sien kom en die basuin nie blaas nie sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard neem 'n siel uit hulle weg – sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis – Eségiël 33