Kriewelkop
Ons is dalk veiliger as wat ons gedink het.
Want die ANC-minister van Polisie, Nathi Nhleko, het erken dat die opleiding van die ANC-polisie so ver tekort skiet dat polisie-offisiere selfs 'n gevaar vir gewone landsburgers inhou terwyl hulle veronderstel is om hul te beskerm. Maar aangesien beskerming nie juis een van die ANC-polisie se take is nie, is hierdie nuus mos nou nie juis slegte nuus nie, of hoe? Veral toe Nhleko bevind het dat minstens 25% van die polisie geen bevoegdheid toon nie, allermins met vuurwapens nadat hulle die toetsings gedruip het.
Klink of die ANC sy polisie vir die publieke oog probeer polisieer met statistiek soos net 116 201 van die 155 534 SAPS-lede wat die toetsing om 'n vuurwapen te hanteer in Julie 2014 geslaag het. Dit bring mee dat 39 333 of nagenoeg 25.3 persent van aktiewe polisielede geen bevoegdheid het om 'n vuurwapen te dra nie.
Dit maak dus sin dat die 27 000 offisiere wat in 2012 hulle toetsings gedruip het nou in 2014 op nagenoeg veertigduisend te staan kom. Hierdie syfers toon die snelle agteruitgang van dissipline en opleiding van die ANC-polisie wat ooglopend bydra tot die hoë misdaadsyfers in die land. Dit verklik ook waarom daar soveel misbruik van wapens in polisiegeledere plaasvind. Vanaf 2009 tot 2011 alleen, het die bevestigde misdaadsyfer in polisiegeledere, insluitende diefstel, brutale geweld tot en met barbaarse moorde, met 91 persent gestyg.
As in gedagte gehou word dat 900 ANC-polisie-offisiere in die afgelope vier jaar die ontsnapping van misdadigers bewerkstellig het – dit is natuurlik net dié wat uitgevang en nie oor geswyg is nie – dan lyk die bevoegdheid op groot skaal maar ylerig.
Nhleko se voorgenome idee om polisie beter op te lei sal geen verandering teweeg bring nie. In die twintig jaar onder ANC-bewind was daar net agteruitgang, ten spyte van beloftes van verbetering. Te midde van groot misdaad onder polisiegeledere word slegs 'n klein persentasie uitgevang, nog minder word aangekla, en eindelik word bitter min gestraf vir hulle misdadige oortredinge. So het uit 'n onlangse groep van 162 oortreders, 133 van hulle net skriftelike waarskuwings ontvang terwyl die res 'n klein boete, en sommige 'n gratis beradingsessie ontvang het – almal het dus skotvry gekom en gaan voort met misdaad soos tevore; daarom sal die probleem bly eskaleer.
Ons het dus 'n tweeledige situasie: ons kan onveilig voel omdat die polisie ons nie kan beskerm nie; maar ons kan ook dankbaar wees dat minstens 'n kwart van hulle sulke vrotsige skuts is dat minstens party van ons daardeur gespaar sal word.