KLOU ZUMA, KLOU VAS...

Kriewelkop

Kostelik dat daar op hierdie tydstip weer 'n klagte uit New York kom oor Suid-Afrika se uraan wat uit die ses kernbomme wat in dr Verwoerd se tyd gebou is, onttrek is en netjies weggebêre is sedert die negentigerjare. Hulle geheue is nogal goed om te onthou dat dit ses kernbomme se uraan is wat daar in Pelindaba toegesluit lê want Suid-Afrika het presies ses kernbomme van uitstaande gehalte vervaardig onder 'n wit regering met van die beste kernwetenskaplikes ter wêreld. Of hulle nou ook van die misiele en ander wapens onthou weet ons nog nie... Maar wat ons wel verstaan is dat die VSA baie graag hul kloue op daardie hoogsverrykte-uraanstof wil lê.  Maar Zuma sê Amerika kan gaan bars, ons gee nie ons uraan verniet weg nie – maar die gevaar bestaan natuurlik dat Zuma dit wel aan hulle kan verkoop sou hy 'n aanbod ontvang. Maar wat is nuut!

Die sogenaamde vrees by die Amerikaanse regering is dat militantes in Suid-Afrika die uraan kan steel en daarmee glo die "ergste terroriste-aanval in die geskiedenis" kan veroorsaak. Wel, hulle moet 'n rede soek om hulle hande daarop te kan lê. Veral omdat daar in November 2007 'n onnoemenswaardige inbraak plaasgevind het waartydens die uraan nie gesteel is nie, is die VSA hierdie jaar van voor af vuur en vlam om dit in besit te kry. Barack Obama skryf onlangs weer aan Zuma dat 'n terroristiese kernaanval 'n wêreldkatastrofie sal afgee. Daarom bied hy sy hulp vir ons aan om van die lastige stoffies ontslae te raak. Zuma steur hom egter nie aan Obama se kernsug nie.

Clayson Monyela, Suid-Afrika se spreekbuis vir buitelandse sake het Obama se poging om die saak op te blaas veroordeel en beweer dat die inbraak destyds 'n gewone inbraak sonder motiewe vir die steel van uraan was.  Maar die vrees in die buiteland blyk te wees dat Suid-Afrika weer 'n kernbom kan bou met dit wat tot sy beskikking is. Klaarblyklik, is daar nege nie-kernwapen-lande behalwe nou die RSA, wat ook genoeg uraan het om 'n bom of twee te bou. Hulle is Duitsland, Japan, Kanada, België, Kazakhstan, Poland, Italië, Holland en Belarus. Die vraag is waarom daar net met Suid-Afrika 'n obsessie is. Vermoed Obama Zuma en sy kabinet is in staat om hoogsgevorderde wetenskaptegnologie uit te voer en die bomme weer inmekaar gesit te kry of is hy werklik bang vir die "slim militantes"?

Maar sê Obama, anders as ander lande en selfs Iran, is Suid-Afrika  die enigste land wat hoogsverrykte uraan besit.  Daarom word ons nou gebrandmerk as die wêreld se gevaarlikste besitter van kernplofstof, minstens uit die tien lande hierbo genoem.

Vir 'n land wat die ooreenkoms met ander lande om van hulle kernwapens ontslae te raak gedryf maar dit toe self nie uitgevoer het nie, is Amerika meer as voortvarend in sy uitsprake oor wie uraan mag besit en wie nie. Hopelik sal Zuma bly vasklou aan hierdie hoogsbegeerlike klomp uraan sodat die regte persone met hoogstaande kennis soos in die apartheidsjare weer skouer aan die wiel sal kan sit wanneer die tyd aanbreek...