UIT DIE PERD SE BEK

In die afgelope winter het 'n artikel hier op Gelofteland verskyn oor die moontlikheid dat die elektrisiteit in ons land heeltemal kan val en nie weer aangeskakel sal kan word nie, minstens vir 'n baie lang tyd.  Vir diegene wat nie gedink het dit is baie waarskynlik nie, het ons hier 'n stukkie interessante nuus van 'n persoon wat 'n belangrike pos in Eskom se hoofkantoor beklee.

Hierdie persoon - met 'n naam natuurlik, maar as ons dit bekend maak kan daar 'n vakante betrekking in Eskom ontstaan wat die kans op ononderbreekte kragvoorsiening nog skraler maak en dit wil ons mos nie hê nie, of hoe - het ná afloop van die winterkoue aan ons meegedeel hoe Eskom dié winter gelieg, bedrieg, omgekoop en gehoes het om die krag nié te laat val nie.

In ons land is daar indelings van kragvoorsiening waarvan groot industrieë soos smelterye en groot myninstansies glo 70% van beskikbare elektrisiteit benodig om hulle werksaamhede voort te sit. Die res van ons gepeupel met huisies en winkeltjies behoef glo net 30% van krag in hierdie land. So het dit toe gebeur dat Eskom wel in die knyp raak en 'n hele aantal kere die afgelope winter hoogs-vriendskaplike besoeke aan 'n klomp van hierdie groot instansies gebring het, met groot geld in 'n groot sak byderhand. So het dit gewerk:

"Meneer, as jy jou smeltery die hele volgende 24 uur afskakel, hoeveel gaan jy verloor?"

Die antwoord min of meer elke keer in hierdie prysklas:  "R20 miljoen, meneer."

"Nou ja, hier is vir jou 20 miljoentjies om daarvoor op te maak".

En nou wonder ons waarom daar masjestieuse kragverhogingstariewe op ons wag?